Hoekom het sy nie een van daai gesogte rose gekry nie? Hóékom nie? Dis wat sy haarself oor en oor vra.

Sy was onder die topvier in The Bachelor SA, en dinge het dan so goed gegaan tussen haar en die program se droomman – altans, so het sy gedink.

En toe verwerp Marc Buckner haar. Hulle het tog ’n intieme oomblik gedeel, langs ’n meer onder ’n sterrehemel. En sy is herhaaldelik na groepafsprake genooi. Hy het selfs haar geliefde ma ontmoet.

Gillian Seetso (26) het baie vrae nadat die hubare alleenloper voor die kameras besluit het sy’s nie die vrou vir hom nie. En haar hart is gebroke.

Sy was so ontsteld oor sy die program moes verlaat dat sy berading ontvang om die teleurstelling te hanteer. As sy tog net kan weet wat in hul sprokiesromanse skeefgeloop het. Sy het reeds in haar geestesoog gesien hoe sy en Marc (38) die wêreld platreis, saam lag en saam “groei en floreer”. Maar dinge het nie so uitgewerk nie.

Toe Marc in die jongste episode van die gewilde maatsoekprogram sy drie rose uitdeel, was nie een vir haar bedoel nie. Gillian was verpletterd.

“Ek dink nie ek het dit al heeltemal verwerk nie, want party dae en nagte huil ek net en vra myself wat dan fout gegaan het. Ek kry ook soms nagmerries.”

Sy kan sweer daar was ’n vonk tussen hulle. En Gillian beskik ook oor hope van die eienskappe wat Marc sê hy in ’n maat soek: skoonheid, ’n flink brein, eerlikheid, sy gesels lekker en het ’n sterk persoonlikheid.

Sy het gedink hulle is gemaklik in mekaar se geselskap en het ’n vriendskap gekweek wat Gillian reken die perfekte grondslag vir ’n wonderlike verhouding sou wees. Maar haar droom van ’n lewe saam met Marc lê nou aan skerwe.

“Die week nadat ek verwerp is, was vir my ’n erg emosionele tyd,” vertel Gillian oor die telefoon uit haar woonstel in Douglasdale in Sandton, Johannesburg, waar sy die inperking deurbring.

“Om eerlik te wees was ek voor die program nog nooit in ’n romantiese verhouding nie. Ek voel my persoonlikheid oorweldig mense soms, maar hy het verby dit gekyk en my leer ken. Ek was vol hoop,” sê sy.

Gillian, The Bachelor
Tonele uit die program wys hul vonk. Foto: M-Net

“Die rede dat dit my so ontstel het, is dalk dat ek The Bachelor met ’n oop gemoed benader het en nie angstig was daaroor nie. Ek het niks oor Marc geweet nie en hom nie in die sosiale media dopgehou of gevolg nie, want ek wou hom sonder vooropgestelde idees leer ken.”

Maar as sy nou terugkyk, was daar dalk tekens wat sy net nie raakgesien het nie, erken Gillian.

“Toe ek weer na vorige episodes kyk, het dit my getref hoe hy sê ’n ander deelnemer, Mulesa, is ‘een van die mooiste vroue wat hy nog gesien het’, en ek stem heeltemal met hom saam. Sy lyk soos ’n skoonheidskoningin.

“Hy het ook by die talentvertoning gesê Marisia, nog ’n deelnemer, lyk sexy in haar kort rooi rok. Toe ek hoor hoe hy dié dinge vir die ander vroue sê, was dit vir my swaar om te verwerk – want hy het nooit so iets vir my gesê nie.

“Ek was altyd net myself en heeltemal eerlik teenoor hom. Hy het nooit vir my verduidelik hoekom ek nie ’n roos gekry het nie, al het hy my ‘spesiaal’ genoem. Dit pla my. Hoe kan jy sê iemand is spesiaal, maar dan gee jy haar nie ’n roos nie?

Om so kwesbaar te wees en dan op nasionale TV verwerp te word is ’n bitter pil om te sluk.

Gillian, The Bachelor
Marc en die topvierdeelnemers van The Bachelor SA. Van links is Marisia van Wyk, Gillian, Marc, Jessica Ross en Bridget Marshall. Gillian het on­gelukkig nie die topdrie gehaal nie. Foto: M-Net

“Ek gaan nou na ’n berader en dit help. Dit was nie altyd vir my maklik om my gevoelens te hanteer nie, want ek is ’n opgeruimde mens en probeer altyd die positiewe kant van dinge raaksien. Maar dis moeilik om die positiewe te sien in iets wat jy nie kan verklaar nie en waarop jy nie antwoorde het nie.”

Gillian, wat as ’n koördineerder by ’n Johannesburgse projekbestuuronderneming werk, was nog nooit in ’n regte romantiese verhouding nie.

Sy was al in “omstandigheidsverhoudings”, oftewel situationships, sê sy, waar sy maar eintlik net die mooi vrou aan ’n man se arm was.

Haar borrelende persoonlikheid het haar nog altyd in ’n groep laat uitstaan, maar sy het nog nie Die Een ontmoet nie.

Gillian, wat ook deeltyds deur Unisa ’n kursus in openbare betrekkinge volg, vertel sy het as leerder aan die Hoërskool Roodepoort aan die Wes-Rand nie ’n kêrel gehad nie.

“Niemand wou met my uitgaan nie. Hulle het my altyd beskou as Gillian die partytjiedier, die een wat daar is om almal op te vrolik.”

In 2015 het sy besluit om die wêreld ’n bietjie te verken en as au pair in Kalifornië in Amerika gaan werk. Sy het haar tasse gepak en haar ma, Sina Seetso (56), en Sylvia du Randt (72), wat sy as haar “tweede ma” beskryf, gegroet.

Gillian, The Bachelor
Gillian by haar ma, Sina Seetso, en haar “tweede ma”, Sylvia du Randt. Foto: M-Net

Gillian het as deel van die Du Randt-huisgesin grootgeword waar haar ma as huiswerker in diens was, en hul huistaal – Afrikaans – is ook Gillian se eerste taal.

Sy het in Afrikaans matriek geskryf. Engels is haar tweede en Tswana haar derde taal. “Ek het drie jaar in Amerika gewoon, maar ek het niemand daar ontmoet met wie ek ’n verhouding wou hê nie.”

Toe sy in 2018 Suid-Afrika toe terugkom, was hier ook niemand wat haar hart gewen het nie – maar toe kom The Bachelor SA en sy besluit om in te skryf.

Sy het haar ma alles vertel oor hoe sy op TV liefde gaan soek, sê Gillian. En Sina, wat altyd haar dogter aanmoedig in alles wat sy aanpak, het haar ondersteun.

Gillian is beskermend teenoor haar ma en het nog nooit ’n ou aan haar ma bekendgestel nie; dus was die episode waarin sy Marc huis toe neem ’n groot geleentheid. “Dit was stresvol,” bieg sy.

“Ek het nie geweet hoe my ma sal reageer nie. En dit was vir my ook moeilik: om ’n man aan my ma bekend te stel – sy wat my engel, my koningin, my alles is – en te hoop dat sy nie met minagting behandel word nie.”

Maar die besoek het goed afgeloop en hul gedeelde respek en liefde vir hul enkelma’s het gemaak dat Gillian sommer nog meer van Marc hou.

“Ek sê altyd die manier waarop ’n man sy ma behandel, verklap hoe hy sy vrou sal behandel.”

Gillian, The Bachelor
Tonele uit die program wys hul vonk. Foto: M-Net

Noudat sy nie meer in die program is nie, het Gillian ’n duideliker idee van wat sy in ’n man wil hê – en wat nie.

“Almal weet teen dié tyd ek soek ’n lang vanilla latte met ’n goddelike hart. Iemand wat my heeltemal sal aanvaar, avontuurlik en snaaks is.

“Maar daarmee saam ’n man wat my eggenoot, ’n leier, ’n pa en my steunpilaar deur dik en dun sal wees.

“Ek soek net nie ’n kort man nie. Nee dankie; ek is 1,75 m lank! En ek wil nie iemand hê wat my energie uitput en my vreugde steel of my probeer verander nie.

“Ek het nie ’n ouer as ’n maat nodig nie – iemand wat dink hulle is in beheer van my toekoms sover dit my doelwitte, werk of liggaam aangaan.

“En dit sal goed wees as hy nie avokado eet nie,” voeg sy giggelend by.

Marc se verwerping is nie die einde van haar pad nie en Gillian is vasbeslote om haar soeke na die liefde op haar YouTube-kanaal voort te sit.

Gillian, The Bachelor
‘Hoe kan jy sê iemand is spesiaal, maar dan gee jy haar nie ’n roos nie?’ Foto: M-Net

“Om weg te stap van iemand saam met wie ek ’n toekoms gesien het, is nie maklik nie. Maar ek beskou dit as ’n kans om myself reg te ruk.

“Ek het geleer elkeen van ons ervaar verwerping en pyn, maar dit maak jou sterker en ’n beter mens vir die volgende een wat oor jou lewenspad kom.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.