Sy het vir ’n luukse drankhandelsnaam gewerk en dikwels klante onthaal met wodka en sjampanje tot die punt waar sy elke dag haar bewussyn verloor het en gereeld niks kon onthou nie.

“Alkohol was die gom wat my leefstyl bymekaargehou het: die vriende, die uitnodigings na spesiale geleeenthede, die rede vir my loopbaan, die rede hoekom ek verhoudings in my beroep en persoonlike lewe kon ontwikkel.

“Dit was my selfvertroue in vloeistofvorm wat al my oorheersende gevoelens van sosiale angs en ongemaklikheid weggevat het,” sê sy.

“Ek het nie my nugter self geken nie, wie ek was of wat ek met my lewe gedoen het sonder dat alkohol intrinsieke waarde gegee het aan bykans alles omtrent my. Hoe hartseer klink dit nie, maar dit was waar.”

the bachelor sa,vermaak,liefde
Kim kuier saam met Lee. Foto: Verskaf

Dit was deel van haar besluit om vir The Bachelor SA in te skryf – sy wou ’n regte verhouding ’n kans gee, een wat nie deur dronk emosies en gevoelens aangedryf is nie.

“Dis beslis makliker om dronk verlief te wees as nugter vir die meeste van ons; ek weet dit was baie makliker vir my om verhoudings ná ’n paar glase wyn te verduur.”

Die lewe het ’n nagmerrie geword; sy het gedurig daaraan gedink.

Op die jong ouderdom van 25 destyds het haar ma dit afgemaak en gesê haar drinkery is “net vir pret”, maar dit het gou ’n probleem geword, iets wat Kim sê haar begin definieer het. 

“Die skrikwekkendste deel van my drinkery was dat ek nooit daaroor uitgevra is deur die mense naaste aan my nie. Ek het myself goed gedra en mense was dikwels verbaas om te hoor ek was dronk as ek die volgende dag bel om te vra wat die aand tevore gebeur het nadat ek vergeet het. Dit was waarskynlik die gevaarlikste van als: Daar was niemand behalwe ek wat geweet het wanneer ek heeltemal te veel gedrink het nie.”

Toe Kim inskryf vir The Bachelor, waar sy in ’n huis was waar drank volop was (veral voor elke roos-seremonie), was sy effens bekommerd haar nugterheid sou haar kanse op sukses in die reeks kniehalter.

Maar toe sy eers in die huis was, het sy gemaklik aan nie-alkholiese drankies geteug en glad nie onder druk gevoel nie.

Sy het selfs ’n paar truuks geleer om die “Hoekom drink jy nie?” vrae te vermy en minder opvallend te wees.

“Ek het ’n paar sosiale tegnieke geleer om my beter te laat inpas by sosiale geleenthede, waarvan sommige insluit om Appletiser in ’n wynglas te drink sodat dit soos wyn lyk, om lemmetjiewiggies in ’n glas water te gooi om soos wodka te lyk en om ’n bietjie water te drink as daar shooters by ’n kroeg gedrink word. Dis goeie maniere om te keer dat jy in sosiale afsondering verval.”

piekniek,romanties
Kim en Lee op 'n romantiese piekniek. Foto: Verskaf

Kim sê sy het haar ervaring op The Bachelor SA geniet, en sy is bly sy was deel daarvan.

Sy wens net sy het meer tyd gehad om openlik met Lee te gesels en dat dit nie gedurig vir haar nodig was om sy hart te probeer wen nie.

Dit was nietemin ’n ervaring wat haar ten goede verander het en haar op haar pad na nugterskap gehelp het.

“The Bachelor was ’n perfekte sosiale eksperiment om die moontlikheid van liefde te ontdek sonder die hulp van drank. Ek is stadig besig om my vrees vir intimiteit as nugter mens te oorkom. Daar is iets aantreklik omtrent ’n nugter afspraak, ’n nugter soen en ’n intellektuele gesprek. Wanneer jou lyf skoon is, is jou kop en gedagtes helder en alles is moontlik met nugter denke.”