Almal ken dáái blou oë. Die sprankelende vorstelike kykers is waarskynlik die koningin se herkenbaarste eienskap.
Aanhangers was dus geskok toe hulle hoor Olivia Colman is gekies om die rol van die Britse monarg in die derde seisoen van Netflix se gewilde dramareeks The Crown by die aktrise Claire Foy oor te neem. Wat het hulle besiel?
Die aktrise wat nou die hoofrol sal speel, lyk dan glad nie soos Elizabeth nie en het boonop donkerbruin oë.
Ondanks die ooglopende verskil was Olivia (45) – wat vanjaar ’n Oscar vir haar skitterende spel as koningin Anne in die fliek The Favourite gewen het – die reeks se skepper, Peter Morgan, se eerste en enigste keuse vir die hoofrol.
Baie aanhangers wou graag sien dat Claire (35) aanbly, maar Peter het volgehou sy en al haar medesterre moes vort. Met dié dat die koningin in die derde seisoen van die reeks ver in haar tweede dekade op die troon is, is die akteurs wat die rolle in die tweede seisoen vertolk het nog te jonk om die karakters oortuigend te speel.
Die tweede seisoen het gehandel oor die koningin se jonger jare, terwyl die nuwe seisoen veel later in koningin Elizabeth se lewe afspeel.
“Jy kan nie iemand vra om middeljarig op te tree nie,” sê Peter oor die akteurs. “Iemand moet hul eie moegheid saambring.”
Al het Claire ’n Emmy vir haar rol verwerf, is haar heerskappy dus verby. Getrou aan sy woord het Peter al die karakterrolle in die nuwe seisoen – wat op 17 November uitgereik word – vir nuwe akteurs gegee.
Hy het eers gedink blou kontaklense is al wat nodig sou wees om Olivia toe te rus om Claire se skoene in die rol van die koningin vol te staan.
Maar dit was glo ’n volslae ramp . . .
Toe probeer die span eerder visuele effekte inspan om die Britse aktrise se bruin oë blou te maak.
“Maar dit het nie meer soos sy gevoel nie,” sê Ben Caron, wat die regie van die eerste vier episodes van die nuwe seisoen behartig het. Toe besluit hulle die bruin oë sal maar noodgedwonge móét bly.
“Dit gaan nie oor voorkoms nie; dit gaan oor die karakter,” verduidelik die program se rolverdelingsregisseur, Nina Gold.
Dit was ’n dapper besluit, maar het eindelik vrugte afgewerp. Olivia – wat veral bekend is vir haar rolle in die Britse televisiereekse Broadchurch en The Night Manager – word reeds wyd geloof vir haar vertolking.
Koningin-wees
Danksy haar jare van teateropleiding kon Olivia die koningin se kenmerkende manier van praat maklik bemeester. Maar om haar koninklike houding na te boots was ’n groter uitdaging . . .
“Een van die regisseurs het gesê ek stap ’n bietjie soos ’n boer,” sê sy.
Olivia sê sy was teen die monargie gekant toe sy aanvanklik die rol aanvaar het, maar dit het mettertyd verander toe sy uitvind watter opofferings die pligsgetroue koningin vir haar amp moes maak.
“Sy is ’n buitengewone mens. Hoe jy ook al oor haar voel, sy bied vir ons standvastigheid,” sê Olivia.
Prinses Margaret
Die keuse van Helena Bonham-Carter (53) in die plek van Vanessa Kirby (31), wat die rol in die tweede seisoen vertolk het, word as verfrissend geprys.
Resensente sê die veteraanaktrise, wat vroeër ’n Oscar vir haar spel as die koninginmoeder, Elizabeth, in die fliek The King’s Speech gewen het, steel die kollig in byna elke toneel waarin sy verskyn.
Helena vertel sy het voor die verfilming ’n bietjie hulp gekry van Margaret self, al is dié in 2002 oorlede.
Sy het glo deur middel van ’n siener met Margaret kontak gemaak. Margaret het haar kamstig aangeraai om haar voorkoms op te knap, maar bygevoeg sy verkies Helena bo die ander aktrise wat vir die rol oorweeg is.
Prins Philip
Tobias Menzies (45) vervang Matt Smith (37) as prins Philip.
Die Britse toneelspeler is bekend vir sy vertolking van Brutus in die televisiereeks Rome, Edmure Tully in Game of Thrones en die dubbele rol van Frank Randall en die sadistiese Black Jack Randall in Outlander.
Hy skitter blykbaar as Philip, wat in die nuwe seisoen ál eksentrieker raak en geneig is tot flaters en uitbarstings.
Prins Charles
Toe hy hoor hy het die rol gekry, het Josh O’Connor gespot hy is perfek vir die rol, want hy het “die regte ore”.
Josh (29), bekend vir sy rol in die televisiereeks The Durrells, sê hy het dit vermy om Charles te noukeurig na te boots.
“Ek speel ’n karakter, nie die regte prins Charles nie, en hopelik bring ek iets anders na die rol pleks van om die man net na te boots.”
Die nuwe seisoen fokus op prins Charles van 21 jaar af en sy ingewikkelde liefdeslewe. Sake raak stomend nadat hy Camilla Shand (gespeel deur Emerald Fennell) by ’n pologeleentheid ontmoet het.
Dié passievolle verhouding skep konflik met sy familie, want hulle beskou haar nie as ’n geskikte maat vir ’n toekomstige koning nie.
Die opkomende jong ster Emma Corrin (23) is vir die rol van sy toekomstige vrou, Diana, gekies.
Lord Mountbatten
Die program het nog ’n prominente Game of Thrones-ster in ’n hoofrol: Charles Dance, wat die rol van Philip se oom Louis Mountbatten vertolk.
Die sjarmante vlootoffisier het altyd ’n hegte verhouding met Charles gehad, maar in dié seisoen sal kykers geskok wees oor die uiterstes waartoe hy bereid is om te gaan om die prins se romanse met Camilla te laat verbrokkel.
Seisoen 3: 1964-1977
Dié seisoen begin met die begrafnis van Winston Churchill. Die premier, Harold Wilson van die Arbeidersparty, is aan die stuur, en die land beleef ’n voortslepende energiekrisis met die uitgerekte staking van steenkoolmynwerkers.
Die koningin – wat onlangs aan haar vierde kind, prins Edward, die lewe geskenk het – moet wedywering tussen sibbes en familiekonflik trotseer terwyl sy vir haar silwerjubileum voorberei.
R1,8 miljard: Soveel het dit blykbaar gekos om die eerste twee seisoene van die program te vervaardig. Dit maak The Crown Netflix se duurste reeks.
3 miljoen: Soveel mense het die eerste episode van die tweede seisoen van The Crown gekyk binne die eerste drie dae nadat dit in 2017 uitgereik is.
10: Soveel episodes is in die nuwe seisoen.
5: Die getal navorsers en geskiedkundiges wat verseker elke besonderheid van die program is geskiedkundig akkuraat.
300: Soveel akteurs verskyn in die program se herskepping van Churchill se staatsbegrafnis in die derde seisoen.
6: Soveel seisoene sal van die program gemaak word.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET