Ná sy egskeiding van prinses Diana was hy so te sê ’n volksvyand – die oënskynlik hartelose man wat haar lewe hel gemaak het terwyl hy agter haar rug by sy ware liefde aangelê het. Maar geleidelik kon prins Charles die guns terugwen van dié wat hom eens sleggesê het.

En weldra het hy ook vrede gevind in sy lewe by Clarence House, waar hy en sy tweede vrou, Camilla, dit geniet om tyd saam met hul kleinkinders deur te bring en met hul honde, Bluebell en Beth, te gaan stap.

“Noem dit die skep van ’n nuwe handelsnaam, ’n gelukkige huwelik of bloot die wysheid van sy jare – dié drie aspekte het daartoe gelei dat Charles nou as een van die nasie se gunstelingkoninklikes beskou word – ’n innemende oupa pleks van ’n eksentrieke inmenger,” sê die koninklike skrywer Victoria Arbiter.

Maar nou lyk dit of die gewildheid waarvoor hy so hard moes werk weer in gevaar kan wees.

Die uitreiking van die vierde seisoen van die Netflix-trefferreeks The Crown het konsternasie in koninklike kringe veroorsaak met bronne na aan die familie wat sê dit kan die familie – en in die besonder prins Charles – ernstige skade berokken.

Paleiswerkers en mense in die binnekring het almal nader gestaan om die reeks te veroordeel en die draaiboekskrywer Peter Morgan daarvan aangekla dat hy “amper Trump-agtig is met sy alternatiewe feite”.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Diana en prins Charles. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar was vooraf groot afwagting vir dié seisoen wat tussen 1979 en 1990 afspeel – ’n dekade van wrywing en onrus vir die familie. Maar dis die intrige rondom Charles en Diana wat die meeste belangstelling gewek het – én die meeste ongelukkigheid veroorsaak het.

Daar kan ernstige nagevolge vir Charles en Camilla wees, sê mense na aan die prins, en dit kan vyandigheid van die verlede weer laat opvlam.

Emma speel ­Diana en Josh O’Connor is Charles.
Emma speel ­Diana en Josh O’Connor is Charles. Foto: Netflix

Netflix speel ’n gevaarlike speletjie,” sê iemand in die binnekring. “Hulle maak geld uit die karakterisering van mense wat nog leef en baie hard vir die land werk.”

Die diens buit die koninklike familie uit met sy “vernietigende leuens” om geld te laat inrol, sê nog een. “Dis nogal ongelooflik.”

In die derde seisoen het kykers gesien hoe Charles ’n toekoms saam met Camilla ontsê is omdat die koninklike familie gevoel het sy is nie ’n gepaste maat vir ’n toekomstige koning van Engeland nie.

Die nuwe seisoen wys hoe hy met Diana trou en tog aanhou om Camilla stilletjies te sien.

Sy verhouding met Diana word ’n tydbom, en die koninklike familie moet die gevolge van hul reëls oor liefde, egskeiding en plig noodgedwonge aanvaar.

Hoewel die skeppers van The Crown dit duidelik stel die reeks het ’n goeie skeut fiksie daarby, laat die feit dat dit oor werklike gebeure gaan die gevaarligte vir baie mense flikker.

“As mense die reeks as ’n koninklike geskiedenishandboek gebruik, is dit kommerwekkend. Netflix het ’n plig om openhartig te wees oor sy programme, en die vervaardigers behoort eerliker te wees oor wat feit en wat fiksie is,” sê iemand in die binnekring.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Druk is op Harry en Meghan geplaas om hul ooreenkoms met Netflix te beëindig. Foto: Gallo Images/Getty Images

In die geval van Charles en Diana “herroep die reeks dinge wat in ’n baie moeilike tyd gebeur het”, voeg hy by. “Dit is nie reg of regverdig nie, veral as soveel van dit wat uitgebeeld word nie die waarheid weerspieël nie.”

Maar Robert Lacey, die reeks se geskiedeniskonsultant, sê daar is twee soorte waarhede: “Die historiese waarheid, en die groter waarheid oor die verlede.”

Tog hou vriende naby aan die koninklike familie vol daar is onakkuraathede, insluitend tonele waarin Charles sy vrou slegsê en waar Diana die koningin en die prins van Wallis by die oefenlopie van hul trouseremonie oor sy verhouding met Camilla konfronteer.

Die reeks wys ook ’n gesprek tussen Diana en Camilla wat vinnig ’n donker wending neem – nogal by ’n restaurant genaamd Ménage à Trois.

“Camilla treiter Diana, wat ál meer ontsteld word namate sy besef hoe na Camilla aan haar toekomstige man is,” sê die koninklike biograaf Penny Junor oor die reeks se weergawe. Sy sê die twee hét mekaar by Ménage à Trois ontmoet, maar eers ná Diana en Charles se troue.

Voor die troue het hulle saam by ’n ander Londense restaurant geëet, maar dit was ’n vriendelike ontmoeting waarin Camilla Diana alle sterkte toegewens het, sê Penny.

“Die karakters op die skerm in hierdie nuwe reeks is nie die karakters wat ek ken nie,” voeg sy by. “Ja, daar is flitse van hulle, maar in die geheel word hulle woes verwring vir dramatiese effek.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Charles, Camilla, William en Catherine tydens ’n besoek aan die weermag se mediese rehabilitasiesentrum. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Camilla word as selfsugtig en konkelend uitgebeeld; Charles as bedorwe, onbekwaam en eksentriek. En Diana as die onskuldige slagoffer wat gevoelloos gebruik word – nie net deur Charles en sy minnares nie; ook deur sy familie en die hele paleis-establishment.

“Die werklikheid is Camilla het van Diana gehou en was ten gunste daarvan toe sy en Charles ’n paartjie geword het.”

Maar die koninklike kenner en redakteur van die tydskrif Majesty, Ingrid Seward, sien dit anders. Sy sê daar wás vyandigheid tussen die vroue voor die troue en Diana was altyd agterdogtig oor Camilla se verhouding met Charles.

“Sy het dit lank vermoed en het toegelaat dat dit ’n obsessie word,” sê Ingrid.

Dié na aan die familie voel die pyn lê nog te vlak om herroep te word.

“Genoeg tyd het nog nie verloop nie. Fiksie word aantrekliker as feite, en om hierdie pynlike gebeurtenisse van verbreekte huwelike en ontstelde kinders te dramatiseer is baie onsensitief.”

Camilla gaan dalk ook deurloop. Sy was jare lank die mees gehate vrou in Engeland – die een wat die skuld gekry het vir Charles en Diana se mislukte huwelik. Met haar en Charles se stil trouseremonie in 2005 het publisiteitskenners gewaarsku die Britse publiek se harte sal nooit teenoor haar sag word nie.

Die paartjie het toe reeds die goedkeuring van die koningin en Charles se seuns, William en Harry, gehad – maar die publiek het steeds nie van Camilla gehou nie. Mettertyd het hul harte wel vermurwe.

Camilla word deesdae as hardwerkend en plat-op-die-aarde beskou – en bowenal kan mense sien watter merkwaardige uitwerking sy op Charles het.

“Ek het die afgelope paar jaar ’n yslike verandering in Charles opgemerk,” het Penny in ’n onlangse onderhoud gesê. “Hy was altyd stuurs. Camilla het hom daaruit laat loskom.”

Nou kan die reeks Charles en Camilla van voor af skade berokken, reken Sally Bedell Smith, ’n koninklike biograaf en skrywer van die boek Prince Charles: The Passions and Paradoxes of an Improbable Life.

“Omdat The Crown so ’n oordadige en duur produksie is met goeie toneelspel en ’n slim draaiboek, en omdat daar soveel aandag geskenk is aan visuele besonderhede oor geskiedkundige gebeurtenisse, word die kykers om die bos gelei om te dink dit wat hulle sien, het werklik gebeur,” het sy aan Vanity Fair gesê.

“Hierdie seisoen kan al die goeie gevoelens teenoor die egpaar ongedaan maak en vyandigheid van twee dekades gelede weer laat opvlam. Dit sal ook die valse idee versterk dat Diana die heilige slagoffer was,” meen Sally.

Wat Camilla betref, is dit onwaarskynlik dat die reeks haar van stryk af sal bring, sê ’n vriend – en sy sal die program beslis nie vermy nie. Die hertogin het die vorige seisoene gekyk en beplan om dieselfde te doen met dié een.

“Ek vermoed sy sal met ’n glas rooiwyn uitspan om daarna te kyk,” sê die vriend. “Sy het ’n wonderlike humorsin, en dit sal haar nie in die minste pla nie. Haar gevoelens is meestal: ‘Moenie kla nie, moenie verduidelik nie.’ ” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe