Is dit vermaaklike grootskaalse moles in ’n klein huis – of hoort dit in ’n kleinhuisie?

G’n twee mense sal jou waarskynlik dieselfde antwoord gee nie. Want óf jy kyk elke Woensdagaand slaafs daarna óf die drama is vir jou net te erg . . . Ja, ons praat van Trap! Dis my huis, die werklikheidsprogram op VIA waaroor die land deesdae gons.

En net ingeval jy die afgelope weke onder ’n klip gewoon het, dís hoe dit werk: 50 mense in ’n tweeslaapkamerhuisie vir drie weke – maar daar is net genoeg kos, toiletgoed en ander noodsaaklikhede vir twee mense. Elke dag kan jou huismaats jou uitstem – of jy kan enige tyd self jou goed vat en trap.

Vir die hardnekkigste huisgas is daar tot en met R1 miljoen se wengeld onder die spreekwoordelike matras. Maar al die geld wat die huisbewoners gebruik om noodsaaklike geriewe aan te koop, word van die wengeld afgetrek – en vreet weg aan die boerpot.

Jip, dis ’n resep vir ’n gekonkel, rugstekery en bekgevegte op groot skaal. Amper soos ’n Survivor-eiland in ’n pondok ingeprop, sonder die wuiwende palmbome en glashelder see. Om als te kroon het ’n dramaties uiteenlopende groepie hulself hier onder een dak bevind.

Van Pofadder, Bandelierkop en Daniëlskuil tot Pretoria, Kaapstad en Namibië. ’n Haarkapper, sjef, onderwyser, pastoor, radio-omroeper, enkelma . . .

G’n wonder net 23 mense was op dag 10 in die huis oor nie. Die program, gegrond op die internasionale werklikheidsreeks Get the F*ck Out of My House, het van die eerste episode af die tonge laat klap – nes Big Brother dekades gelede toe een huismaat in die tuin broek losgemaak het . . .

“Ek like die program baie! Dis baie amuserend om te sien hoe mense hul naam so met ’n plank slaan,” het een kyker op Facebook geskryf.  “Swak! Ek hou glad nie daarvan nie,” skryf ’n ander. 

Maar nog een sê: “Ek kan nie wag vir die volgende episode nie! Dis net in Afrikaans dat ’n mens so lekker kan lag en spot.” 

Huisgenoot gesels met van die omstrede huisverlaters – en ook met gunstelinge wat teen ons druktyd nog dié huis hul tuiste kon noem.

‘Dis net in Afrikaans dat ’n mens so lekker kan lag’

VAT JOU GOED EN TREK – EN HÚLLE HET

Zanelle (28), model en danser van Pretoria

Trap dis my huis
Foto: VIA

Sy het skande gemaak toe sy glo wyn en medikasie saam gebruik het. En sy voel die ander vroue het teen haar gedraai. Sy was keelvol vir die stryery en toe loop sy self op dag 4.

“Ek is baie spyt ek het so vroeg geloop, want ek glo ek kon langer in die spel gebly het,” sê Zanelle nou.

“Mense in die huis het my heeltyd verkeerd verstaan. Almal het dadelik begin groepies maak en teen my gespeel. Ek voel teleurgesteld dat ek uitge-pass het ná die wyn, maar dit kan met enig- een gebeur.”

Hendré (44), koerantredakteur en pastoor van Postmasburg

Blue
Foto: VIA

Hy was die “geestelike element” wat die huisbewoners met etenstyd gevra het om hande te vat vir gebed. En hy het almal gemaan om meer bewus te wees van hul huismaats as die prysgeld. Maar op dag 9 het hy genoeg gehad, en toe trap hy self.

“Ek is glad nie spyt nie. Die huis en stemmery word deur alliansies beheer, en ek wou nooit deel wees daarvan nie.

“Die spel het morsig begin word. Die spanning in die huis is baie erg. Die bakleiery en verraad het te veel geword.”

Fred (39), landskapontwerper van Kuilsrivier

Trap dis my huis
Foto: VIA

Baie kykers het sommer gou gedink hy gaan wen. Sy driemanskapalliansie en strategiese poging om verdeling onder mense te saai, het doeltreffend gelyk.

Hy was die huiskaptein wat die meeste geld op kos, sigarette en drank op ’n huispartytjie geblaas het. Maar toe skok Fred kykers deur op dag 5 self te loop. Hoekom? Hy was moeg vir die huis en lus vir braai . . .

“Ek is spyt ek het geloop,” vertel Fred nou.

“Dit was dom en impulsief. Ek weet ek sou maklik gewen het. Maar hoe langer jy daar is, hoe minder dink jy normaal. Jy vergeet van die kameras en tree nie meer reg op nie.

“Daar was net te veel druk weens die erg beknopte ruimte en agterbakse mense.”

Gianni (20), regspraktyk-intern van Windhoek

Trap dis my huis
Foto: VIA

Hy was vol selfvertroue en het vir komiese oomblikke gesorg, wat hom gewild by kykers gemaak het. Maar op dag 7 het hy emosioneel afskeid geneem nadat hy uitgestem is.

“Die spel breek selfs die sterkste mense. Dit was geestelik uitputtend en aan die einde van die dag kan jy niemand vertrou nie. Jy moet vir jouself baklei.

“Ek het my groeplede vertrou, maar toe bedrieg hulle my. My groot fout was om te getrou te wees . . .”

HÚLLE LYK NA DIE BLYERS . . .

Lally (29), somatoloog van Montana

Trap dis my huis
Foto: VIA

Sy het uit die staanspoor onmin gesaai – en kykers is verdeeld oor haar. Óf hulle is mal oor haar óf hulle kan haar nie verduur nie. “Ek is baie tevrede met hoe ek die spel speel,” vertel sy aan Huisgenoot.

“Ek probeer ’n sterker alliansie maak; ek glo ek kan wen.

“Maar dinge raak moeiliker in die huis. Mense raak nukkerig met mekaar. Dis soos op skool; almal vorm klieks en niemand vertrou mekaar nie. Ek is moeg, erg geïrriteerd, honger, verveeld . . . Maar ek hou nog uit.”

Fahdil (33), persoonlike assistent van Pretoria

Trap dis my huis
Foto: VIA

Hulle noem hom “die slang”, want hy sal enigiets doen om te wen. Ons sien gereeld hoe hy saam met verskillende deelnemers konkel en stories verdraai. Hy belowe trou aan een span, maar stem vir ’n ander.

“Ek is gelukkig met hoe ek die spel speel. Raak vriende met almal; verraai enigeen,” sê hy.

“Ek is glad nie so skelm in die regte lewe nie, maar dis ’n speletjie, en ek het my gewete buite die huis gelos. Die moeilikste ding vir my is min slaap. En dis emosioneel moeilik om so strategies te speel.”

Jacolene (40), onderwyseres van Vanrhynsdorp

Trap dis my huis
Foto: VIA

Sy is die moederlike een wat op dag 1 verstom was toe sy as huiskaptein aangewys is. Sy het by die begroting gehou en haar bed met die ander ouer vroue gedeel. Maar haar aanvanklike steun het gedaal.

“Ek dink nie ek speel die spel goed genoeg nie. Die ander vorm groepies en jok, maar ek kan nie. Ek dink hulle het die eerste dag vir my gestem omdat die jonges my as ’n ma gesien het.”

Sy het nie gedink sy sou steeds in die huis wees nie. “Die slaap op die vloer en die min kos pla my nie, maar die liegery pla my baie.” 

Blue (34), welstandsbeampte van Pofadder

Trap dis my huis
Foto: VIA

Almal hou van hom en wou uit die staanspoor in sy groep wees. Hulle glo hy sal sy woord hou. Maar sal hy?

“Ek dink ek speel die spel baie goed. Ek was nog nie huiskaptein nie, maar glo dinge sal in my guns draai. Ek bly in my groep, maar dis ’n individuele spel, en ek wíl wen. Ek het al vir ’n paar mense gesê ek gaan vir hulle stem, maar dit nie gedoen nie . . .

Jy moet soms ’n witleuntjie vertel. Die agterkante van my hakke is seer van heeldag op die vloer sit, ek is baie moeg en die speletjie werk erg aan my emosies.”