Dit kan Marike Bouwer (35) egter nou min skeel.

Want sý het reggekry wat haar 49 teenstanders in die program nie kon nie: Ná drie taai weke in ’n beknopte tweeslaapkamerhuis is sy as die wenner van die kompetisie gekroon.

Sy het dit die langste in die huis uitgehou; in dié anderster soort inperking. Dit was soos “lockdown” – maar voor die kameras, en met ’n groot boerpot op die spel.

En Marike se prys? Die tamaai bedrag van R617 600 – als wat oorgebly het nadat die huis se inwoners die beloofde boerpot van R1 miljoen eers moes gebruik om hul kruideniersware en ander noodsaaklikhede te koop.

In die laaste episode van die reeks, wat pas op VIA uitgesaai is, kon kykers sien hoe Marike – in ’n geblomde hemp en met haar blonde hare in twee vlegsels – haar laaste woorde voor die kameras uiter: “Ek is só trots op myself.”

Dan gooi sy haar arms in die lug op terwyl kurkproppe van sjampanjebottels agter haar die lug in skiet en verklaar: “Want ek is die champion!”

Toe Huisgenoot dié kitskampioen ontmoet, is dit al vyf maande sedert haar kroningsoomblik verfilm is, maar Marike klink nog net so opgewonde soos die dag toe sy besef het sý is die wenner.

“Dit voel steeds so verskriklik onwerklik,” vertel sy tydens ’n videogesprek kort voor die uitsending van die laaste episode aan Huisgenoot.

Die gesprek kan nie in lewende lywe plaasvind nie, want ironies genoeg bevind Marike haar nou wéér ingeperk – dié keer in haar eie huis weens die inperkingsmaatreëls wat landwyd ingestel is om die verspreiding van die coronaviruspandemie te beperk.

Maar al bevind sy haar opnuut op hok, glimlag haar rooi lippe breed op die rekenaar se skerm tydens die video-onderhoud.

“Almal dink hulle het ’n idee hoe dit in die huis was, maar as jy nie self daar was nie, dan weet jy nie . . . Dit word dalk werklikheidstelevisie genoem, maar dit was nie hoe dit werklik was nie. Daar het véél meer agter die skerms gebeur as wat die kameras gewys het,” vertel sy vanuit haar huis in Fresnaye, Kaapstad, waar sy en haar gesin die inperkingstyd deurbring.

Van die laaste deelnemers: Marli, Marike, Blue, Jo
Van die laaste deelnemers: Marli, Marike, Blue, Johan en Judith. Foto: VIA

“Dit was soos een groot skaakspel,” verduidelik sy.

“Vir elke besluit wat jy neem, moet jy reeds weet wat jou volgende skuif gaan wees. Jy is nie meer ‘Marike’ nie; jy is ’n karakter in die huis wat enigiets sal doen om te wen.”

Dan bly sy ’n oomblik stil en sê: “Mense sien jou op kamera en dink dis wie jy is, maar hulle kan die twee personas nie verder genoeg van mekaar sit nie.”

Sy was van kleins af mededingend, sê Marike, en het op dag een in die huis besluit sy is daar om te wén.

Toe die vervaardigers haar tydens haar onderhoud vooraf vra wat sy nié in die huis sal doen nie, het sy reguit geantwoord.

“Ek het gesê ek sal énigiets doen, behalwe iets wat my verhouding met my man in gevaar sal bring.”

Sy en Robert (35) is al vier jaar getroud. Hulle besit ’n aanlyn onderneming wat hardeware verkoop, en entrepreneursbloed loop deur hul are.

Hulle beplan om Marike se prysgeld vir hul onderneming én nuwe opwindende idees te gebruik.

Terwyl Marike in die Trap!-huis was, het haar ouers by Robert kom bly om te help met hul drie seuns, Nua (9), Luan (7) en Daniel (2).

Luan en Nua verwelkom haar terug by die huis. Foto
Luan en Nua verwelkom haar terug by die huis. Foto: Verskaf

“Die seuns het geweet ek gaan in die huis in en dat dit vir die kompetisie was. Hulle het my gemis, maar het heeltyd vir my ge-root en die daggies afgetel tot ek huis toe kom.”

Op foto’s lyk die stralende Marike sorgeloos, maar sy ken ook seerkry. Sy was op 30 al ’n weduwee, verduidelik sy.

“Ek en my oorlede man, Fred de Kock, was 12 jaar saam en agt daarvan getroud. Ons het saam vir klein Nua en Luan gehad.

“Ons weet eintlik steeds nie wat gebeur het nie . . . Hy het vir ’n ingenieursfirma gewerk en was in Tanzanië toe hy moontlik ’n epileptiese toeval in sy hotelkamer gekry het. Hy was drie weke in ’n koma voor hy oorlede is,” sê sy saggies. 

Sy het Robert twee jaar ná Fred se dood ontmoet. Hulle is in 2016 getroud en het sedertdien klein Daniel saam verwelkom.

Marike het ná die reeks se verfilming nie eens vir Robert of die kinders vertel sy het die Trap!-kompetisie gewen nie.

Toe sy die middag eindelik uit die Trap!-huis stap en in ’n Uber huis toe ry, het sy besluit om vir niemand te sê wie die reeks wen nie – nie eens vir haar gesin, haar ouers of haar twee jonger susters nie.

“Ek het hierdie idee gehad ons moet almal saam die laaste episode kyk. Dan wou ek ’n bottel sjampanje oopmaak en dit so saam met hulle vier,” verduidelik sy.

Maar toe skop die inperkingstydperk in die week voor haar familie op die kassie sou kyk hoe sy die huis verlaat en moet almal vanuit hul eie huise kyk hoe sy uit die TV-huis stap.

Haar plan B? Almal sou steeds saam in hul eie huise na die laaste episode kyk en haar oorwinning dan op Skype vier.

Teenoor Robert het sy egter al ’n maand gelede gebieg, erken sy.

“Ons onderneming het finansieel baie swaar gedra en ons het nie geweet wat ons gaan doen om daaruit te kom nie. Ons was in die kar en hy was so bekommerd. Toe sê ek skielik vir hom: ‘Ek het gewen.’

Saam met haar ge­sin: haar man, Robert, Nua, Luan
Saam met haar ge­sin: haar man, Robert, Nua, Luan en klein Daniel. Foto: Verskaf

“Eers het hy nie verstaan wat ek vir hom sê nie, maar toe ek vir hom sê ek het die kompetisie gewen, was hy so geskok. Hy het in trane uitgebars en my seker vyf minute styf vasgehou; ek kon voel hoe hy bewe.”

Met die wengeld kan hulle hopelik nou ook ander entrepreneurs help om op hul voete te kom, sê sy.

“Ons droom was nog altyd om klein ondernemings te help. Ons wil ’n platform bou om gesinne te help om probleme te oorkom, juis omdat ons self daardeur gegaan het.”

Die huidige inperkingstyd is vir haar nie naastenby so erg soos haar tyd in die Trap!-huis was nie, sê Marike.

“By die huis het ek my gesin en Wi-Fi. Ek bring gehaltetyd saam met my kinders deur, ons speel kaartspeletjies en bou legkaarte. Dis eintlik nogal lekker.”

Die tyd in die reeks was aansienlik minder ontspannend, vertel sy. Sy het vooraf gedink die min slaap en min kos sou die grootste uitdaging wees.

Sy moes alliansies vorm en verbreek, en mense teen mekaar afspeel om seker te maak sy bly staande.

Sy het wel 5 kg afgeskud terwyl sy in die huis was, maar dit was nie so moeilik soos om “die spel te bemeester nie”, sê sy.

Daardie gekonkel het dinkwerk en beplanning geverg. Sy moes alliansies vorm en verbreek, en mense teen mekaar afspeel om seker te maak sy bly staande.

Hoewel die Marike op televisie op haar rustige, sagte manier kon lieg en bedrieg om mense op ’n sekere manier te laat dink, weet haar familie en vriende dié plaasmeisie wat oorspronklik van Amsterdam in Mpumalanga kom, is in die werklike lewe presies die teenoorgestelde, benadruk sy.

Boonop het die kassie se kameras byvoorbeeld nie gewys hoe van haar mededeelnemers haar beskryf het as “Mamma Marike” omdat sy gedurig in die reeks drukkies uitgedeel en uit meelewing saam met haar mededeelnemers gehuil het nie, sê sy.

Marli en Marike, die laaste twee deelnemers wat di
Marli en Marike, die laaste twee deelnemers wat dit in die finale fase teen mekaar moes uitspook. Foto: Verskaf

“Ek het ingegaan om te wen, want so ’n geleentheid kom net een keer op jou pad. Toe stap ek daar uit met ’n boks vol herinnerings en ongelooflik goeie vriende wat lank nog in my lewe sal wees.”

Nou is sy terug by die huis en op haar gelukkigste.

Want al is sy nes al haar landgenote nou wéér tussen die vier mure van ’n huis ingeperk, kan sy dié keer darem saans vir haar seuns ’n slaaptydstorie lees – en nét haarself wees.

Marike in die huis
  • Haar grootste teenstanders: Fahdil en Hilgard 
  • Haar beste vriendin: Rhona 
  • Oor wie se vertrek sy bly was: Fahdil 
  • Haar grootste leuen: “Ek het vir Fahdil gesê ek is met hom in ’n alliansie.” 
  • Wie sy dink ook sou kon wen: Hilgard of Rhona

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.