yolande, my kersfeestafel
Yolani Abrahams. Foto: VIA

In die reeks My Kersfeeskombuis kan kykers sien wat in die kombuis van party van Suid-Afrika se topsjefs prut.

Wat is op die spyskaart? Kerskos, natuurlik! Ons loer in by Yolani Abrahams (28), wat die aanbieder is van SABC2 se Spyskaart.

Wat kan ons van die reeks verwag?

Ek en ander plaaslike sjefs gesels oor ons familie se Kersgeregte. Ons deel herinnerings oor Kersfees en hoe ons dit vier.

Wanneer het jou liefde vir kook begin?

Dit het in my ouma Sarah en my ma, Maggie, se kombuise op Ceres begin. Ek het altyd na my ma se resepteboek gekyk en die dinge probeer maak waarvan die prentjies vir my lekker gelyk het.

Ek het skuimpies en wafels gemaak, en dit het eintlik maar misluk. Maar my ma- en ouma-hulle het saam daaraan geëet.

Hoe was jou grootwordjare?

Ek is my ma en pa, Trevor, se laatlam. Ek het drie ouer broers, Ethan, Leolan en Blaine. Op skool was ek gehoorsaam, in die leerlingraad, en ek was baie by kuns- en kultuuraktiwiteite betrokke.

Hoe het jy in die TV-bedryf beland?

Ek het ’n diploma in kulinêre kuns aan The Private Hotel School buite Stellenbosch ontvang. Nadat ek in 2017 Sarie se voorbladgesigkompetisie gewen het, is ek gevra of ek ’n video wil instuur as oudisie vir aanbieder van Spyskaart.

Daarin het ek oor my liefde vir kos gesels. Toe hoor ek later ek het die werk gekry.

Waar vier jy vanjaar Kersfees?

Op ons plaas, Berbershoek, naby Wolseley in die Wes-Kaap. Kleintyd het ons altyd Kersfees in my ouma se huis op Ceres gevier, maar nadat sy oorlede is, het elke gesin dit maar op hul eie begin vier.

Die episode van My Kersfeeskombuis waarin ek verskyn, het almal weer saamgebring. Dit was byna soos ’n reünie en ons kon almal saam op die plaas eet.

Wat is vanjaar op jou Kersspyskaart?

Vir hoofgereg is dit groenboontjiebredie. Vir voorgereg maak ons my tannie Olivia se mosselgereg. Toe ek klein was, het almal by haar huis op Vredenburg bymekaargekom en sy het dit voorgesit. Daarna het dit ’n Kersdag-instelling geword.

Het jy enige Kerstradisies?

Ek sal waarskynlik my eie tradisies begin wanneer ek en my verloofde, Anwar Abdullattief, getroud is en ons ons eie huis het. Anwar is Moslem; ons leer nog baie van mekaar se geloof.

Dit gaan interessant wees omdat ons natuurlik die feesdae van albei godsdienste sal vier. Ons sien daarna uit om volgende jaar, hopelik in Oktober, troue te kan hou.

Yolanie en ma Maggie
Die saadjie vir Yolani se loopbaan as sjef is kleintyd in haar ma, Maggie, se kombuis geplant. Foto: VIA

KITSVRAE

As jy enigeen vir ete kon nooi, wie sou dit wees en wat sou jy voorsit?

Ek volg tans ’n plantgegronde dieet; daarom sou ek Sadia Badiei nooi. Sy is ’n Kanadese dieetkundige wat in plantgebaseerde voeding spesialiseer.

Ek is op die oomblik mal oor Mexikaanse geure, so ek sal gevulde tortillas met falafel maak.

Die vreemdste gereg wat jy al geproe het?

Krokodilvleis. Ek het dit geproe toe ek ’n gas in Laat die potte prut was.

Jou gunsteling- eg Suid-Afrikaanse gereg of lekkerny?

’n Maleise koesister.

Jou geheime kosplesiertjie?

Al het ek nou my dieet verander, is vanieljeroomys die een ding wat ek nie kan prysgee nie.

Wat is jou gunstelinggereg om te maak?

Ek het nie regtig ’n gunsteling nie. Ek is soos ’n verkleurmannetjie; ek verander baie van voorkeur en gedagte. 

  • My Kersfeeskombuis is ­Vrydae om 17:00 op VIA te sien.