1. Kittie Claassen

In die dramareeks Tydelik terminaal leer kykers die 22-jarige Kittie Claassen (gespeel deur Carla Smit) ken. Kittie herbesin oor die lewe nadat die klierkanker Hodgkin se siekte by haar gediagnoseer is. Sy is besig met haar honneursgraad in die joernalistiek en moet weens haar diagnose haar toekomsdrome opsyskuif.

Die reeks volg haar vir die ses maande waarin sy chemoterapie ondergaan, met ander kankerpasiënte bevriend raak, haar studie probeer voltooi en in die proses onverwagte lewenservaring en wysheid opdoen.

Kittie en haar twee boesemvriende, Mandy (Eve Rasimeni) en Fanie (Hendrik Nieuwoudt), bevind hulle op die drumpel van hul grootmenslewe en beplan elkeen aan hul toekoms.

2. Inspirasie

­Elanie Rupping
­Elanie Rupping

Die skepper van die reeks, Elanie Rupping, se eie kankerstryd het as inspirasie vir die dramareeks gedien; Hodgkin se siekte is in haar honneursjaar by haar gediagnoseer.

“Ek het geleer dat die lewe se swaarkry en beproewings soms ook sy grootste geskenke is omdat dit ons die empatie gee waardeur ons met mense kan ­connect,” sê Elanie.

“Die beste manier hoe ek dit kan doen, is deur middel van stories. Ek het dus een van die swaarste dinge wat al ooit met my gebeur het as dryfveer gebruik om mense hopelik te laat voel dat hulle nie alleen is nie – dat dit ’n gedeelde ervaring is en daar altyd hoop is.”

3. Die musiek

Die sanger Loki Rothman is verantwoordelik vir die
Die sanger Loki Rothman is verantwoordelik vir die reeks se klankbaan.

Die kitaarvirtuoos en sanger Loki Rothman het spesiaal nuwe musiek vir die reeks se klankbaan geskryf. Dit sluit instrumentale verwerkings en musiek met eerlike lirieke in. In een toneel gaan die karakters byvoorbeeld na ’n musiekkonsert waar ’n liedjie speel wat Loki self sing en geskryf het.

4. ‘Karakterbybel’

Carla moes haar hare vir die rol van Kittie afskeer. Sy is besig met haar honneursgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch, en dit het fyn beplanning gekos om verfilming én haar studie aan te pak.

Sy het ’n “karakterbybel” van 70 blad­sye oor Kittie saamgestel en het gedurig op die stel haar notas en ’n A1-­grootte- kaart uitgepluk om seker te maak sy speel die karakter na wense.

Hoewel dit haar eerste rol in ’n TV-­reeks is, was sy al in ’n rits teaterstukke te sien, soos Altaar, Die maan val bewusteloos, Sewe deugde, nee minder en Fiela se kind.

5. Vriendskap

Tussen tonele. Van links is Stiaan Smith, Carla,
Tussen tonele. Van links is Stiaan Smith, Carla, Anel Alex­ander, Ansu Visser en Hendrik.

Carla, Eve en Hendrik het voor die verfilming ’n oorslaap-partytjie gehou om die vriendskap tussen hulle so eg moontlik voor die kameras oor te dra.

“Dit het wondere verrig,” sê Etienne Fourie, wat die regie saam met Elanie behartig.

Eve is veral bekend vir haar rolle in reekse soos Isibaya, Rhythm City, Dwaalster en Suidooster. Sy kan verskeie tale praat, insluitend Suid-Sotho, Afrikaans, Engels en Pedi.

Hendrik het al in onder meer Made You Look, Raponsie en Hoekom is die badkamer se vloer nat? gespeel.

6. Ervare akteurs

Die veteraanakteurs Frank Opperman en Anna-Mart van der Merwe is ook deel van die rolverdeling as oom Len en Julie.

Oom Len het prostaatkanker en Julie is sy vrou wat haar met alles bemoei en hom – en later ook vir Kittie – in hul kankerstryd bystaan.

Almar Müller speel Joubert, ’n ou liefde en steunpilaar vir Kittie.

Arno Greeff – wat volgende jaar as die pierewaaier Braam in Huisgenoot en kykNET se nuwe fliek Vergeet my nie te sien gaan wees, is die jong LL.B.-student Drikus, en Ruan Blum speel Louis, Fanie se kêrel.

7. Wie verskyn nog in die drama?

Van die ander bekende akteurs wat hul verskyning in die reeks maak, is Anel Alexander, Zane Meas, Stiaan Smith, Francois Jacobs, Tiffany Barbuzano, Jack Devnarain, Reginah Dube, David Rees en Henriëtta Gryffenberg.

8. Waar is dit verfilm?

Die hospitaaltonele is geskiet in ’n winkelgroep wat tydens die verfilming opknappingswerk ondergaan het. Die tonele op kampus is by die Universiteit van Johannesburg verfilm terwyl die studente gewoon aanhou klas draf het.

“Toe ons by die biblioteek geskiet het, moes almal fluister sodat ons nie die studente steur nie,” sê Elanie.

Toe die plek waar hulle tonele vir ’n partytjie wou verfilm op die nippertjie kanselleer, moes die produksiekantoor ingespan word.

“Dit was ’n groot uit­daging en die kinematograaf, Eduan ­Kitching, moes die kamerawerk fyn beplan,” sê Etienne.

9. Meer oor die regisseur

Etienne Fourie
Etienne Fourie

Hoewel Etienne al die regisseur van flieks soos Dis koue kos, skat en Die windpomp was, is dit die eerste keer dat hy die regie van ’n televisiereeks behartig.

“Ek is gewoond aan vollengterolprente waar ons so tussen vyf en ses bladsye per dag skiet. Vir Tydelik terminaal het die span soms tot 18 bladsye per dag verfilm,” sê hy.

“Ek dink nie ek was al ooit so moeg nie. Dit was wel alles die moeite werd.”

10. Ander produksies

Elanie was ook al by die skryfwerk van ver­skeie kykNET-televisie­programme soos Sterlopers, Mense mense en Getroud met rugby betrokke. 

Wanneer en waar?
Tydelik Terminaal begin op 30 Oktober om 20:00 op kykNET.
Van links is Willie Esterhuizen (Wors Visagie), Li
Van links is Willie Esterhuizen (Wors Visagie), Lizz Meiring (Molly Visagie), Reginald Hufkie (Spanner Proes), Lara Lourens (Koekie de Kok), Elma Potgieter (Fleur Pot), Matt Stern (Dominee Dou Droel), Hélène Truter (Poppie Delport), Wynand van Vollenstee (Gielie Goosen), Karin van der Laag (Martha Goosen), Yvonne Schoeman (Blaartjie Louw) en Cobus Visser (Brand Louw).

Huis Lelieveld wag ook op jou

Talle van Ouboet en Wors se karakters keer in ’n splinternuwe komedie uit die pen van Willie Esterhuizen terug.

Hy is weer te sien as Wors Visagie, maar dié keer is sy vrou, Molly (Lizz Meiring), aan die stuur van sake. Sy kry werk as ’n matrone van ’n aftreeoord, Huis Lelieveld.

Dis hier waar die reeks van 26 episodes afspeel, en kykers kry ’n blik op die ouer mense se lief en leed.

“Hulle is maar net jong mense in ou mense se lywe, met brille en pille by,” laat Willie hoor.

Hélène Truter (Poppie) en Wynand van Vollenstee (Gielie) is nog ou gunstelinge wat terugkeer, maar kykers gaan ook met ’n rits nuwe karakters kennismaak.

Wanneer en waar?

Begin op 30 Oktober om 20:30 op kykNET.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.