Van 7de Laan tot die silwerdoek

Ons het hom op die kassie leer ken as Lucas Mulder in 7de Laan. Maar eintlik het Hendrik Cronjé nog altyd van die silwerdoek gedroom. “Ek was 21 toe ek sonder enige dramaopleiding ’n geleentheid by 7de Laan kry,” vertel hy.

Hendrik Cronjé en Elani Dekker speel Daniël en Lisa in Liewe Lisa.

Hy het die kans aangegryp, want as student in korporatiewe kommunikasie aan die Universiteit van die Vrystaat het hy toe al geweet hy “wil eintlik stories maak”. Dis dié dat hy in 2014 vir ’n honneursgraad in film en visuele media aan dieselfde universiteit ingeskryf het.

Zane Meas, Neville van 7de Laan, speel die visserman Tom, wat vir Daniël inspireer.

Tydens ’n lesing het die dosent en voormalige 7de Laan-akteur Chris Vorster vir die klas die rolprent The Graduate gewys. “Dit het iets in my aangewakker,” onthou Hendrik. Hierna het hy die draaiboek vir Liewe Lisa begin skryf.

Hendrik en Elani voor die lens van die kameraman Ebert Steyn.

Sy broer, die atleet Johan Cronjé wat in 2013 ’n bronsmedalje in die 1 500 m by die Wêreldatletiekbyeenkoms verower het, het aangebied om dit te vervaardig. Hulle het hard gewerk om dit teen die einde van verlede jaar klaar te skiet, sê Hendrik, wat sy lyf regisseur én akteur gehou het.

Die broers Johan en Hendrik Cronjé hard aan die werk agter die skerms.

Hy vertolk die rol van Daniël, ’n jong gegradueerde wat reeds ’n goeie werk het. Maar dan raak hy onseker oor die rigting wat hy ingeslaan het. Hy ontmoet ’n visserman, Tom (Zane Meas), en Lisa (Elani Dekker), wie se lewenswyshede hom inspireer.

Van die tonele is aan die Weskus verfilm. Van links is Zane, Elani, Hendrik en die kinematograaf en redigeerder Johannes Pieter Nel.

“Soveel mense wonder op 40 of 50 hoe hulle gekom het tot waar hulle is en wat van hul drome geword het,” sê Hendrik. Maar nie hy nie. Met dié rolprent, wat later vanjaar uitgereik word, maak hy sy droom waar “om stories te vertel”.

Leon en die renosters

Die grimeerkunstenaar Claudia Hamman poeier Leon se gesig.

Die wrede werklikheid van renosterstropery het hom nog altyd na aan die hart gelê, vertel die rolprentmaker Leon Schuster.

Thembalethu speel die 10-jarige Fearless in Frank and Fearless.

“Die idee om ’n fliek hieroor te maak kom nou al jare lank.”

Leon se medester in die rolprent is die 27-jarige Thembalethu Mncube, wat net 1,2 m lank is.

Dié droom word nou eindelik waar. Leon-hulle werk op die oomblik hard aan die gesinskomedie Frank and Fearless, wat in November uitgereik word. Dit word onder meer in die ongerepte natuur by Skeerpoort naby die Hartbeespoortdam verfilm.

Leon by Jennifer Steyn (links), wat die rol van Ruby vertolk, en Khanyi Mbau, wat Beauty speel.

Wanneer hy daar oorslaap, hoor hy “die leeus brul, die ganse lawaai en die paddas kwaak”, vertel Leon. Sy medester is Thembalethu Mncube (Pule van Rhythm City), wat die rol van die 10-jarige Fearless vertolk. Dié akteur is al 27 jaar oud, maar met dié dat hy net 1,2 m lank is, kan hy lag-lag in ’n kinderkarakter se skoene klim.

Kyk wie kuier in Suidooster!

Het die sanger Craig Lucas dan nou sang vir toneelspel verruil? Nie regtig nie, maar dié wenner van verlede jaar se seisoen van The Voice SA sal wel op 15 Maart in die kykNET-sepie Suidooster te sien wees – as homself.

Amalia Uys verskyn binnekort as Ciska in ’n paar episodes van Suidooster.

Hy kom as gaskunstenaar optree by die opening van ’n nuwe kuierplek in die fiktiewe Kaapse woonbuurt Ruiterbosch. Ook die aktrise Amalia Uys kom in Maart in dié sepie gesig wys as Ciska Venter, Carmen (Desiré Gardner) se beste vriendin.

Gantane Kusch, Siya, Craig en Maurice Paige(Ty)

Boonop trek sy Justin (Eden Classens) se aandag . . .

Craig ­Lucas gedurende sy optrede in Suidooster.

Craig het twee liedjies van sy debuutalbum, Restless, in die sepie gesing – Smother en Hearts. Hy moes darem ook ’n paar woorde praat. “In die eerste toneel waarin ek verskyn, is ek in die Oos-Wes-restaurant waar die kelner Justin, gespeel deur Eden, my bedien,” vertel Craig.

“Hy erken my nie en vertel my dan dat hy sukses as sanger behaal.” Al was dit vir Craig nogal angswekkend om vir die eerste keer in ’n sepie te verskyn, het die akteurs en filmspan hom dadelik op sy gemak laat voel, vertel hy.

Die akteur Marco Spaumer, wat die rol van Tim du Plooy vertolk, gesels toneelspel met Craig.

“Dit was ’n belewenis om te sien hoe soveel ongelooflike akteurs werk. Ek was verstom oor hoe hulle in hul karakters inklim. Ek was soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel. Daar was soveel om in te neem en te leer.”

Raaiselkind raak Anrich diep

Deon Lotz, Diaan Lawrenson en Anrich Herbst in ligte luim tussen die ernstige tonele deur. Deon vertolk die rol van kol. Hesselmann.

Toe Sally Campher, die vervaardiger van Raaiselkind, vir Anrich Herbst ’n rol daarin aanbied, het hy dadelik ingestem “Ek het toe nog nie die boek of die teks gelees nie, maar geweet iets waaraan sy werk, is ’n storie wat vertel moet word.

Raaiselkind gaan oor ’n outistiese seun, Alexander (Ian, middel), en hoe dit sy gesin raak – veral sy ma (Diaan).

Toe sy my vertel waaroor dit gaan, het dit my diep geraak,” sê die akteur oor Sally se eerste fliek.

Diaan en die aktrise June van Merch.

Die twee het destyds saam in die TV-sitkom Orkney Snork Nie gespeel as Yolanda en Wimpie van Tonder. Raaiselkind is gegrond op Annelie Botes se topverkoperboek. Anrich speel Günter, ’n vriend op wie se plaas die outistiese Alexander (Ian Roelofs, 7de Laan se Thinus) gereeld kom kuier, want die perde het ’n kalmerende uitwerking op hom.

Ian Roelofs by Sally Campher, die vervaardiger van Raaiselkind.
Ian, Anrich en Diaan in ’n toneel uit die fliek.

Dit begin op 16 Februarie landwyd draai.

Bydraes: Jaco Hough-Coetzee Foto’s: Rowyn Lombard, Facebook, Instagram, verskaf