adri vivier,june fisher en adri strooh is te sien
In VIA se nuwe reeks Ouma weet mos span (van links) Adri Vivier, June Fisher en Adri Strooh hul wysheid in om ander ’n hupstoot te gee. Foto: VIA

Is jy verlief op jou vriendin se kêrel? Meng jou skoonma gedurig in of is jou loopbaan in ’n groef? 

Soms soek ’n mens raad van iemand met meer lewenservaring as jy – jy wil put uit daardie wysheid wat in die grysheid opgesluit lê. 

En dit is wat die drie aanbieders van die nuwe VIA-reeks Ouma weet mos bied: drie dinamiese vroue met jare se lewenservaring wat reguit praat en raad gee oor alledaagse dilemmas.

Ons kan stout wees, soos die Golden Girls, en ons gee mekaar leiding; ’n mens is nooit te oud om te leer nie

Vroeg in dié reeks al raak dit duidelik Adri Strooh (57), Adri Vivier (59) en June Fisher (64) draai nie doekies om nie. 

In die eerste episode het hulle Marcel Steyn (32), ’n persoonlike assistent van Brackenfell in die Kaap, gehelp om weer sy selfvertroue te vind ná ’n stryd met gewigsprobleme.

Hulle het ook vir René en Thinus Oelofse, wat gereedmaak om hul eersteling te verwelkom, raad gegee oor ouerskap en die uitdagings wat dit aan hul verhouding gaan stel.

“Die verhouding tussen ons is magic!” sê June. “Ons kan stout wees, soos die Golden Girls, en ons gee mekaar leiding; ’n mens is nooit te oud om te leer nie.”

Die ontwikkeling van die deelnemers verstom haar elke week, sê Adri Strooh.

“Met ons verskillende agtergronde en sterkpunte is dit nou tyd om ’n bietjie terug te gee.”

Nou het die “oumas” koppe bymekaargesit om hul wysheid ook met Huisgenoot-lesers te deel.

die drie oumas gee vir thinus oelofse raad
Die drie “oumas” help Thinus Oelofse om die babakamer vir sy en sy vrou, René, se eersteling gereed te kry. Foto: VIA

DIE DRIE VROUE GEE RAAD 

’N SKOONMA WAT INMENG

Dilemma

My skoonma meng in met die manier hoe ek my kinders grootmaak en het altyd ’n eiertjie te lê oor hoe ek dinge doen. Hoe hanteer ek dit?

Adri Vivier gee raad

Neem skoonma se eiertjies met ’n diep asemteug en soveel grasie as wat jy kan bymekaarklits. 

Bekyk die inhoud van die bygelêde eier sonder om jou eierdoor te verloor. As dit net ’n hol eierdoppie is, sit dit sagkens maar ferm eenkant neer en gaan volg jou eie kindgrootmaakresep. 

MAN PAL BY SY DRINKEBROERS

Dilemma

My man kuier elke dag saam met sy vriende, en wanneer hy by die huis kom, jak hy die kinders af. Dit voel asof ek alles moet doen en hy sit en drink saam met sy pelle. Hoe sê ek dit vir hom sonder dat hy net gaan wil baklei

June Fisher gee raad

Ai, my kind, wat ’n penarie! Jy en jou kinders het my simpatie – en tog voel ek ook jammer vir jou man met sy swakheid. Hy het hulp nodig.

Let wel: Sy swakheid is nie jou verantwoordelikheid nie en hy moet verantwoordelikheid vir sy eie gedrag aanvaar. Onthou dus dat jy nie ander mense kan verander nie, maar wel jou gedagtes en gevoelens teenoor hulle kan verander en so die lewe vir jouself aangenaam maak.

Probeer dié wenke

  • Oorkom jou vrees vir sy reaksies wanneer hy besope is, hou oogkontak met jou kinders en gee hulle die versekering dat jy daar is vir hulle as Pa dwars en dronk is.
  • Bou goeie kommunikasie met jou kinders op deur hulle aan te moedig om hul gevoelens oor hul pa met jou te deel.
  • Alkohol neem 48 uur om uit die liggaam te trek. Wanneer jou man nugter genoeg is, moet jy sy hand vat (letterlik) en hom vra om hulp te kry. Vertel hom wat ’n besonderse, liewe mens hy is en dat die drank hom negatief beïnvloed.
  • Kry vir jou ’n stokperdjie om jou selfbeeld op te bou.

OUMA TREK SEKERE KLEINKINDERS VOOR

Dilemma 

My ma gee meer aandag aan my broer se kinders en skeep my kinders af. Ek kry my kinders so jammer. Hoe verduidelik ek dit vir hulle?

Adri Strooh gee raad

Ek sal eerstens die situasie gebruik om my kinders ’n paar lewenslesse te leer. Dié soort gedrag gaan hulle oral teëkom. Miskien is jou ma onbewus daarvan dat sy dit doen? 

Niemand hou van teregwysing nie, maar almal moet dit kan aanhoor. Laastens: Is jou bloedjies nie dalk ’n bietjie stouter en minder bedagsaam teenoor Ouma nie? Ek vra maar net . . .

die drie luister na die video-opname van marcel st
Die drie luister na die video-opname van Marcel Steyn. Foto: VIA

VERLIEF; WAT NOU?

Dilemma

Ek is verlief op my beste vriendin se kêrel . . . Wat moet ek doen?

Adri Vivier gee raad

Verliefdheid is ’n heerlike versotheid – soms verspotheid – maar is dikwels iets wat verbygaan. Skryf ’n lang brief met propperse pen en papier oor hierdie verliefdheid. 

Oorweeg in jou brief veral die verlies van vriendskap (jou “beste” vriendin) en die nadraai van gebroke verhoudings. 

Pos dan die brief vir jouself en gee die verliefdheid ruimte en tyd om verby te gaan. Net dalkies maak jy in hierdie tyd wat jy vir jouself gun oogkontak met ’n ander hubare kêrel. 

HOE BEHOU ’N MENS BALANS?

Dilemma

Ek voel in twee geskeur tussen huishoudelike take, my werk en aandag aan my kinders gee. Hoe verdeel ek my tyd om seker te maak die een of die ander word nie afgeskeep nie?

June Fisher gee raad

Foeitog, mens. Jou situasie laat my dink aan die nar in die sirkus wat die balle moet juggle.

Ek dink dis eenvoudig: Liefde en aandag vir jou kinders is die belangrikste. Huishoudelike take is nie ’n moet nie; ’n bietjie stof en vullis help ’n mens se immuunstelsel weerstand opbou. 

Werk bring geld in, maar as die bus oor jou kop ry, sal hulle vir jou kis ’n krans koop en terselfdertyd iemand anders aanstel. Jy is nie onmisbaar nie. Gaan sit en herorganiseer jou prioriteite.

Ek let op jy noem niks van jouself nie. Al gehoor van me-time? Knyp tyd vir jouself af – jy is jou dit verskuldig. Jy moet jou eie batterye herlaai om daardie balle suksesvol in die lug te kan hou.

adri strooh van ouma weet mos
Adri Strooh. Foto: VIA
Adri Strooh (57)
Adri Strooh is ’n naaldwerkster wat in die Clanwilliamdistrik grootgeword het en deesdae op Klapmuts buite Stellenbosch woon.

Sy is getroud met Frans (52), en die egpaar het twee kinders, Frances (29) en Ruben (26). Sy het nog nie kleinkinders nie.

Wanneer Adri nie besig is om naaldwerk te doen nie, hou sy daarvan om te lees, tuin te maak, beskuit te bak en om ander mense se goeters vir hulle uit te pluis. 


june fisher van ouma weet mos
June Fisher. Foto: VIA

June Fisher (64)
Dié boorling van Worcester is ’n afgetrede onderwyseres wat deesdae in Brackenfell, Kaapstad, woon. Sy is die afgelope 26 jaar met Bertram (59) getroud.

Behalwe dat sy ma is vir Beverley Lawrence Arnold (42) en Rudolph Fisher (25) is sy ook die ouma van drie kleindogters, Isabelle (12), Keira (6) en Harper (6).

June hou van tuinmaak, en om kaalvoet in die modder rond te trap is haar manier om te ontspan. 

Sy lees graag, reis die land vol en doen liefdadigheidswerk. 

adri vivier van ouma weet mos
Adri Vivier. Foto: VIA
Adri Vivier (59)

Adri is al 38 jaar met Pieter (61) getroud. Die egpaar woon die afgelope 30 jaar op Melkbosstrand net buite Kaapstad.

Hulle het vier kinders, Hermann, Meije en die twee aktrises Trix en Lea Vivier. Deesdae is hulle ook grootouers vir Kando en Zhivu.

Adri het voorheen haar eie dramaskool gehad, en doen die afgelope twee jaar vryskutwerk.

Haar jongste stokperdjie is ouma-wees vir haar kleinseuns – en verder is sy lief vir lees, kuns, teater, kuier en reis. 

  • Ouma weet mos word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe