Vanjaar se beoordelaars sluit in die aktrise en motiveringspreker Leandie du Randt, die radio-omroeper en Mej. Suid-Afrika 2015, Liesl Laurie, die voormalige model en rolverdelingsregisseur Andiswa Manxiwa, Mej. Suid-Afrika 2010, Bokang Montjane-Tshabalala en Danielle Weakley, redakteur van Women’s Health.

Die paneel beoordelaars sal teen 11 Julie hul keuse van 16 jong dames maak wanneer die Top 16 finaliste aangekondig word. Hoewel dit ’n moeilike taak is, het die beoordelaars gedeel waarvolgens hulle hul keuses gaan maak:

Bokang Montjane-Tshabala

“Ek soek ’n jong gefokusde vrou wat ’n goeie ambassadeur vir ons land en ’n wonderlike rolmodel vir die jeug sal wees. Ek soek iemand wat opreg en passievol is oor kwessies na aan haar hart om ’n verskil te maak en lewens te verander.

“My raad is eenvoudig: Kom voorbereid as jy werklik die titel wil hê – gryp die oomblik aan en gee ons jou alles. Bly getrou aan jou sienings, wees opreg, wys vir ons wie jy is en nie wie jy dink ons wil hê jy moet wees nie.”

Liesl Laurie

“Die persoon moet ’n ware ambassadeur vir ons reënboognasie wees – ’n sterk, deernisvolle, selfversekerde jong vrou met wie ander hul kan vereenselwig, en trots Suid-Afrikaans is in alles wat sy doen. En die belangrikste: sy moet gereed wees vir die titel en die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan.

“Uit my eie ervaring kan ek sê dis een van die belangrikste werksonderhoude van jou lewe; berei dus goed voor. Ken jou land, ken jouself en wees gereed vir die opwindendste wipwaentjierit.

“Onthou om gaaf teenoor jouself en ander in die kompetisie te wees; jy stap dalk nie net weg met ’n titel en kroon nie, maar met ’n susterskap wat vir die res van jou lewe daar vir jou sal wees.”

Andiswa Manxiwa

View this post on Instagram

@afrikanswiss ??

A post shared by Andiswa • A N D Y • Manxiwa (@andiswamanxiwa) on

“Ek soek in die toekomstige Mej. Suid-Afrika na ’n ‘veelsydige speler’, ’n jong vrou wat mooi van binne en buite is, wat opreg is en onbeskaamd haarself is, en tog steeds kan aanklank vind met ander. ’n Jong vrou wat haarself kan uitdruk op ’n vroulike, smaakvolle wyse. ’n Leier vir haar generasie. Kennis is mag.

“Die moeite wat jy met enigiets doen, is die belonings wat jy sal ontvang. Onthou wat jy glo omtrent jouself is wat ons oor jou sal glo. Laastens, wees jouself. Moenie dat jou agtergrond en huidige omstandighede jou terughou nie.

“Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, maar eerder wat jy saam met jou dra, hoe jy dit dra en waarheen jy op pad is.”

Leandie du Randt

“Moenie iemand probeer wees wat jy nie is of wat jy dink die beoordelaars of publiek wil hê jy moet wees nie – skynvertoon kan ’n myl ver gesien word. Ek dink die mees baanbrekende Mej. Suid-Afrikas was altyd dié wat vir die beoordelaars en publiek gewys het wat die land benodig en na hunker, eerder as andersom.

“Opregtheid sal vir my altyd die mooiste eienskap in ’n vrou wees. Iemand wat nie bang is om haarself te wees nie en ander inspireer om die beste weergawes van hulself te wees. En ook ’n dame is met ’n hartlike en gawe energie, wat almal belangrik laat voel en dat hulle saak maak.

“Nog ’n belangrike faktor vir my is iemand wat seker is van wie sy is – haarself dra met selfversekerdheid, statigheid en respek; iemand met duidelike visie vir haarself en haar land.”

Danielle Weakley

“As redakteur van Women’s Health steun ek sterk vroue – nie brandmaer nie – wat gesond en kragtig is, van binne en buite.

“Ek soek 'n Mej. Suid-Afrika wat vroue bemagtig, nie net met haar storie en reis nie, maar met 'n kragtige liggaam, positiewe lewensbeskouing en energie wat ander vroue inspireer. Dit, en die begrip dat ons as vroue altyd beter saam is.

“Wees gemaklik in jou vel. Wees in voeling met jou opregtheid, jou stem, jou vernuf, jou skoonheid – en ontspan en geniet die rit.”

En dis selfietyd vir vanjaar se beoordelaars! AGTE
En dis selfietyd vir vanjaar se beoordelaars! AGTER: Bokang en Andiswa. VOOR: Liesl, Danielle en Leandie. Foto verskaf
Wie, waar en wanneer?

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie word op Vrouedag 9 Augustus by Sun International se Sun Area by Time Square, Pretoria gehou en sal op M-Net en Mzanzi Magic uitgesaai word.

Daar is sowat R3 miljoen in prysgeld en borgskappe op die spel vir vanjaar se glansryke kompetisie – die wenner stap weg met R1 miljoen kontant asook ’n luukse motor en ander wonderlike pryse. Die eerste prinses kry R250 000 kontant en al 16 finaliste ontvang R25 000.

Mej. Suid-Afrika word aangebied deur Weil Entertainment in samewerking met Sun International, Mousson en die LFP-groep.