Hlubi Mboya en Erica Wessels se karakters span kra
Hlubi Mboya en Erica Wessels se karakters span kragte saam om misdaad te beveg in die plaaslike fliek I Am All Girls. Foto: Netflix.

I Am All Girls

Waaroor gaan dit?

Dié misdaaddrama is op ’n ware verhaal gegrond.

In 1994 word ’n jong meisie, Ntombizonke Bapai (Hlubi Mboya), en nog ander vir mensehandel ontvoer. Hulle word na ’n mynkamp van die Nasionale Party se voormalige kabinetsminister FJ Nolte (Deon Lotz) geneem waar hulle misbruik en mishandel word.

Deon Lotz speel die omstrede FJ Nolte. Hier vrees
Deon Lotz speel die omstrede FJ Nolte. Hier vrees hy vir sy lewe in een van die naelbyttonele. Foto: Netflix.

Hulle word verkoop en van hulle beland by ’n bordeel waar die mishandeling voortduur.

Die fliek stap ’n pad met die seer en jare lange wrokke wat Ntombizonke van kindsbeen af koester. Sy bevind haar jare later in die polisiemag as ’n forensiese wetenskaplike, maar agter haar kalm persoonlikheid skuil onopgeloste trauma.

By Leshego Molokwane (links) en Nomvelo Makhanya,
By Leshego Molokwane (links) en Nomvelo Makhanya, wat die jonger weergawes van haar karakter, Ntombizonke, speel. Foto: Netflix.

Sy ontwikkel ’n buitengewone band met ’n speurder, Jodie Snyman (Erica Wessels), wat ’n rits mensehandelsake ondersoek.

Baie van die ondersoeke loop uit op ’n doodloopstraat, maar daar is eindelik ’n deurbraak toe ’n vermeende mensehandelaar vermoor word. Daar is voorletters op die slagoffer se bors gekerf en Jodie moet die legkaart bymekaarsit en uitvind wie die vigilante agter die moord is.

Is dit die kyk werd?

Netflix Suid-Afrika het hulself oortref met die vervaardiging en rolverdeling van dié trefferfliek.

Die Dwaalster- en Fynskrif-aktrise Erica Wessels is geen groentjie op die kassie en silwerdoek nie. Sy wys presies wat in haar steek met haar vertolking as die hardgebakte speurder Jodie.

As kyker voel jy haar frustrasie en emosies en die moeilike keuses wat sy moet maak.

Aan die einde van die fliek wil ’n mens half opspring en haar toejuig vir alles waardeur sy is en waarvan sy steeds, ten spyte van alles, ongeskonde kan wegstap – en dit boonop in styl!

Hlubi in die bokskryt.
Hlubi in die bokskryt. Foto: Netflix.

Hlubi Mboya, wat veral bekend is vir haar rol as Nandipha Sithole in die sepie Isidingo, het ’n Safta vir haar spel in die 2016-fliek Dora’s Peace losgespeel en haar spel in I Am All Girls is intens, geloofwaardig en werklik iets besonders.

Die sterbelaaide rolverdeling sluit ook gesoute akteurs in soos Lizz Meiring en Brendon Daniels van Arendsvlei-faam.

Dié fliek moet beslis op jou kyklys wees, maar wees gewaarsku: Dit bevat ontstellende en grafiese tonele wat nie gepas is vir kinders nie.

  • 2021. 107 min. 16. Beskikbaar op Netflix.

The United States vs. Billie Holiday

4/5
In Billie Holiday se skoene

Dié skokkende maar roerende biografiese prent volg die lewe van die ikoniese Amerikaanse jazz- en swingsangeres Billie Holiday, wat die wêreld laat regop sit het met haar liedjie “Strange Fruit”.

Billie is as Eleanora Fagan gebore. In die fliek stap die kyker die pad saam met Billie deur haar moeilike grootwordjare en haar pad na roem.

Die Amerikaanse sangeres Andra Day as Billie Holid
Die Amerikaanse sangeres Andra Day as Billie Holiday. Foto: Hulu.

Tydens haar loopbaan word sy die teiken van ’n ondersoek deur die federale narkotikaburo. Die ondersoek word gelei deur die federale agent Jimmy Fletcher (Trevante Rhodes) wat eindelik verlief raak op dieselfde vrou wat hy agter tralies moet sit.

Billie Holiday-aanhangers kry ’n kykie in haar traumatiese lewe en uitdagende pad na roem.

Is dit goed?

Die beeldskone sangeres Andra Day, wat verantwoordelik is vir die treffer “Rise Up”, se spel as Billie is glansryk, rebels en totaal asemrowend.

Geen wonder sy het vanjaar met ’n Golden Globe weggestap vir beste aktrise in ’n dramaprent vir haar spel nie. Haar liedjie “Tigress & Tweed” in die fliek is ook vir ’n Golden Globe benoem.

Billie se lewensverhaal wys die donker kant van Hollywood. Die trauma waardeur sy as kind moes gaan, en selfs later in haar huwelik moes deurmaak, is skokkend.

Daar word ook baie klem geplaas op haar dwelmmisbruik, maar wanneer sy daardie verhoog betree, is sy sowaar ’n ster.

The United States vs. Billie Holiday is ’n moetsien, maar bevat gewelddadige en seksuele tonele en naaktheid wat nie in almal se smaak sal val nie.

  • 2021. 126 min. 16SNGT. Beskikbaar op DStv Boxoffice.
Saam met Trevante Rhodes, met wie sy heelwat vurig
Saam met Trevante Rhodes, met wie sy heelwat vurige tonele deel. Foto: Hulu.

Army of the Dead

Aksie
3/5

Ná ’n uitbreek van zombies in Las Vegas word die stad van die res van Amerika afgesny. Die regering beplan om al die zombies met ’n kernbom uit te wis. Die huursoldaat Scott Ward (Dave Bautista) het sy vrou verloor en praat skaars met sy dogter, Kate (Ella Purnell).

Die skatryk casinobaas Bly Tanaka (Hiroyuki Sanada) nader Scott dan om in die kwarantynsone in te breek en $200 miljoen uit ’n kluis in sy casino te steel. Scott en sy span het net 32 uur voor ’n kernbom op die stad neerstort.

As hy slaag, word hulle $50 miljoen betaal. Dan sluit sy dogter by die span aan. Gaan hulle zombie-kos word?

Dave Bautista.
Dave Bautista. Foto: Netflix.

Army of the Dead is ’n mengsel tussen ’n apokaliptiese gruwelprent en ’n Ocean’s Eleven-styl misdaadfliek.

Veral Tig Notaro as ’n helikoptervlieënier en Matthias Schweighöfer as die man wat hulle by die kluis moet kry, verskaf komiese verligting.

Die pa-dogter-verhouding tussen Scott en Kate is die fliek se emosionele anker te midde van al die bloed en chaos.

Die storie raak met tye voorspelbaar en die fliek lank, maar die regisseur hou die kyker se belangstelling met slim storievertelling en hope aksietonele.

– Lara Atson

  • 2021. 148 min. 18. Beskikbaar op Netflix.
Afrikaanse kykgenot

Motel

Drama

Laudo Liebenberg en Dean Balie.
Laudo Liebenberg en Dean Balie. Foto: kykNET.

Dié fliek gaan oor twee sakevennote wie se huurmotor in die middel van die nag langs die verlate R27 onklaar raak. Hulle stap dan na die naaste dorp en besluit om daar in ’n motelkamer te oornag. Maar dinge ruk gou handuit toe hulle ’n lyk in ’n kas ontdek.

  • Met Laudo Liebenberg, Dean Balie en Martelize Kolver. 2021. 50 min. 13T. Beskikbaar op DStv Catch Up.

Niemand

Aksie

Solomon Cupido en Francois Jacobs.
Solomon Cupido en Francois Jacobs. Foto: kykNET.

Nadat Willie Niemand (Francois Jacobs) sy vrou en sy baas saam betrap het, ry hy na ’n winkel om ’n pastei en lafenis te koop. Daar fnuik hy ’n gewapende rooftog toe hy die boef skiet en die kassier se lewe red.

Toe sy heldedaad die nuus haal, vind die bendeleier, Jimmie (Solomon Cupido), en sy twee handlangers uit waar om hom op te spoor. Hulle besluit om wraak te neem.

  • 2021. 50 min. 13. Sondag 13 Junie 20:00 OP kykNET.

Huishou

Drama

Nadia Valvekens en Cintaine Schutte.
Nadia Valvekens en Cintaine Schutte. Foto: kykNET.

Die Alles Malan-ster Nadia Valvekens en Cintaine Schutte, wat onder meer Katrien Nienaber in die regsdramareeks Fynskrif gespeel het, vertolk die hoofrolle in dié prent.

Twee vroue is in die proses om ’n kind aan te neem, maar hul huweliksbootjie wankel.

Die vroue probeer verbete aan hul beginsels vasklou terwyl hulle ook desperaat na die “ek” in “ons” soek.

  • 2021. 50 min. 16T. Sondag 20 Junie 20:00 op kykNET.


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe