7de Laan-kykers het verlede jaar kennis gemaak met DeWet Basson (Dirk Scholtz), wat sy intrek in die Welman-herehuis geneem het.

Sedertdien het sy vrou, Erika (Corine du Toit), ook haar verskyning in Hillside gemaak, en DeWet en Erika se dogter, Nikki, het ook onlangs haar debuut in die Laan gemaak.

View this post on Instagram

And Erika Basson has landed in 7de Laan... her ‘hubby’ De Wet @dirkrogue1 doesn’t look too happy to see her?!? ?????? #7delaan #sabc2 #hkgk??

A post shared by Corine du Toit (@corinedutoit) on

Nikki word gespeel deur die aktrise Danielle Retief (28). 

Kykers kan hulle gereed maak vir baie geraamtes in die kas, asook ’n donker kant van Nikki wat sy beslis net by haar pa kon kry. 

Luidens ’n persverklaring het DeWet sy dogter op dramatiese wyse gered van die prins met wie sy in Hillside gekuier het nadat hy lank sy afwesigheid as pa met geskenke probeer vergoed het. 

"Nikki het ’n baie bevoorregte lewe en het die wêreld al platgereis en fynere dinge in die lewe ervaar waarvan ander mense haar ouderdom net kan droom. Ten spyte daarvan hunker sy na ’n doel en vervulling," lui die amptelike verklaring. 

Danielle is die dogter van die gesoute plaaslike aktrise Karin Retief en is al vandat sy 10 jaar oud was in die vermaakbedryf. 

Karin is bekend vir haar rol as Carina Human in die televisiereeks Ballade vir ’n Enkeling. Sy is tans die dialoog-afrigter vir 7de Laan

"Ek het in 2002 begin toneelspeel as 10-jarige. As ’n mens dit verder wil vat as dit, my ma was twee maande swanger met my toe sy Ballade vir ’n Enkeling geskiet het. Tel voor geboorte?" laat hoor Danielle. 

"Ek dink nie ’n mens kry meer 'Joburg' as dit nie," spot die donkerkop-aktrise, wat in Braamfontein gebore is. 

Danielle se heel eerste rol was as die stoute rooikop Lulu in die opvoedkundige SABC-fliek My Brother the Egg

"Die aktrise Antoinette Kellerman het nog my Fairy Godmother gespeel en ek onthou hoe betowerend die ervaring regtig was. Ek het tuis gevoel op ’n filmstel en dit was vir my baie meer opwindend as stresvol," sê Danielle. 

Daarna het sy die rol van jong Marelie Beukes in die kykNET-dramareeks Song vir Katryn vertolk. Marelie was die jonger suster van die hoofkarakter, Katryn Bekker (Therese Benade). 

Danielle is ook bekend vir haar rolle as Linkie King in die televisiereeks High Rollers en as Rentia Oelofse in die dramareeks Geraamtes in die Kas

Die Johannesburgse aktrise is ook ’n baie veelsydige kunstenaar. 

Nie net bestuur sy haar eie produksiemaatskappy nie; sy is ook opgelei in klassieke ballet en kontemporêre dans. Danielle het ook klassieke klavier studeer deur Unisa en het self die akoestiese kitaar leer speel. 

Sy het ook al gesig gewys op die verhoog in produksies soos As You Like ItHamlet en Die Van Aardes van Grootoor. 

Danielle is reeds baie lekker ingeburger op die 7de Laan-stel.

"Die span het my van dag een af tuis laat voel en ek geniet elke oomblik van Nikki-wees. Dis ook ’n program waarmee elke Suid-Afrikaner grootgeword het; dit is dus soos ’n uitdagende, maar ongelooflik opwindende voorreg," sê sy. 

Danielle beskryf haar karakter as ’n gekompliseerde vrou met baie stories om te vertel en 'n ryk geskiedenis. 

"Nikki is ongelooflik direk en al het sy ’n vreeslike rebelsheid in haar hart sal sy altyd veg vir die waarheid. Ek respekteer dit. Sy het ook vreeslik baie vaardighede versamel as wêreldkenner en dis wat my as aktrise altyd op my tone hou."

Danielle en haar televisie-pa, Dirk, het sommer van die begin af mekaar gevind. 

"Ons het dieselfde sin vir humor en hy is altyd bereid om tonele vanuit unieke oogpunte te benader. Ons het klaar cringeworthy byname vir mekaar wat net pa en dogter sal verstaan," verklap Danielle. 

Danielle vertel ook aan Huisgenoot dat sy dit regkry om balans tussen al die verskillende aspekte van haar loopbaan te handhaaf deur net verlief te wees op elke element daarvan. 

"Ek sien uit na elke dansklas en na elke repetisie. Ek sien daarna uit om huis toe te gaan en te werk aan my maatskappy, Reckless Haven Productions, se nuutste projek; of dit nou skryf, bome vir die stelle verf of baie administrasie is. Ek het ook al landswyd seminare oor tydsbestuur gegee en hopelik het ek iets geleer in die proses." 

Bly dus ingeskakel om te sien hoe die Basson-gesin hulself tuis maak in Hillside. 

Ekstra bron: TVSA