Die spanning op die vyf plase loop hoog. Elke boer weet hulle moet iemand huis toe stuur, maar wie? Dis ook net so ’n spanningsvolle dag vir die vroue, want hulle weet nie wie van hulle teen die aand hul tassies sal moet pak nie.

In Clanwilliam het boer Albert (25) en sy drie kuiergaste Mariska, Trudie en Marlia –  'n heerlike dag met drankies by die Clanwilliamdam geniet. Die aand sit die vroue op sy sitkamerbank om te hoor wie gaan bly en wie gaan ry. Eers sê die rooikop-boer vir Mariska hy gaan haar nie vra om langer te bly nie. Vir Marlia vra hy of sy nog langer wil bly, en sy antwoord “ek sal” met ’n groot glimlag.

Toe vra hy dieselfde vraag aan Trudie, 'n ouditeur van Stellenbosch. Sy bly stil. Haar oë draai na regs, duidelik op soek na die regte woorde.

“Sjoe,” antwoord sy dan. “Ek dink ek het reeds my besluit gemaak. Ná al die waarnemings wat ek gemaak het oor die situasie, weet ek nie of ek nog langer wil aanbly nie.”

Die aanbieder, Marciel Hopkins, neem dan vir Mariska en Trudie by die huis uit.

Die altyd spraaksame Albert is skielik sonder woorde. “Ek weet nie wat so pas gebeur het nie,” sê hy oorbluf vir Marlia.

“Ek ook nie,” fluister sy grootoog terug.

Boer Kobus dra Michellé se tasse kar toe. Miskien
Boer Kobus dra Michellé se tasse kar toe. Miskien het hy 'n fout gemaak, het Kobus simpatiek gesê nadat hy haar uitgestem het. “Maar ek kan nie nou omdraai nie. Vanaand gaan daar 'n vrou weg wat hoop gehad het, maar haar drome is aan skerwe.” Voor die tyd het sy hom beskryf as “een amazing mens”. Foto: Verskaf

In Randfontein het ’n ewe dramatiese situasie afgespeel. Michellé, ’n verkoopskonsultant by ’n Toyota-handelaar in Pretoria, het in haar kamer in trane uitgebars nadat boer Kobus haar gevra het om huis toe te gaan.

Die immer simpatieke Marciel het haar getroos en sterkte toegewens.

Agter die skerms  

Dit kan vir sommige mense ‘n ongemaklike situasie wees wanneer onbekende gaste kom kuier, en jy hulle dan boonop nog moet beïndruk ook. Des te meer as dit sommer drie vroue op een slag is. Huisgenoot het by die boere gaan uitvis hoe hulle die plaasbesoeke hanteer het.

“Mense, dit is nie maklik nie!” sê boer Kobus. “Dit is sowaar moeilik om aandag te gee aan al drie op een slag.”

Hy het vooraf besluit hy gaan nie aan ’n spesifieke deelnemer meer aandag gee as aan die ander nie. Sy oplossing vir die tameletjie was om sy tyd gelykop tussen al drie te verdeel, vertel hy.

Nee wat, hy cope met enigiets, sê boer Albert. Daarom was die drie vroulike kuiergaste nie vir hom ’n probleem nie. Hy word wel in die sosiale media gekritiseer omdat hy so baie praat, maar ook dit is vir hom soos water van ’n eend se rug, sê hy.

“Dit is wie ek is. In ‘n groep is ek baie babbelend en small talk ek. Maar ek raak baie ernstig in one-to-one-gesprekke.”

Boer Déan sê hy was nog altyd gemaklik met nuwe of onbekende meisies. “Wanneer hulle die eerste keer op die plaas kom kuier, wys ek hulle dadelik waar alles is en sê hulle moet vry voel om hulself te help met wat ook al. Hulle moet hulself net tuismaak. Ek gaan nie die heeltyd vra of ek iets vir hulle kan doen of aanbied nie.”

Boer Déan het vir Megan huis toe gestuur. Na die t
Boer Déan het vir Megan huis toe gestuur. Ná die tyd het hy gesê hy wens hy kon sy kop onder die tafel in druk, maar die tafel is bietjie laag. Foto: Verskaf

"Ek kom mos uit die Karoo waar ons ’n oop hart vir mense het”, sê boer Niel.

“Ek het daar aan die begin van hul kuier 'n bietjie spanning ervaar, maar toe skop daardie Karoo-instink in.”

Sheri (middel) hoor dat Boer Niel haar huis toe st
Sheri (middel) hoor dat Boer Niel haar huis toe stuur. Monique (links) en Chereze (regs) bly. “Ek stress verskriklik soos ek nou hier sit,” het Niel gesê voordat hy sy keuse moes maak. Foto: Verskaf

Boer Richann sê eintlik is hy gewoond daaraan dat mense by hom kom oorbly. Dan sal hulle tot laat in die nag in sy tuis-klankateljee musiek maak, of net buite om ‘n vuur sit en kuier.

“Maar vroue is ’n ander breed,” sê hy tong in die kies. “As bachelor wou ek dit vir my drie gaste gerieflik maak. En dit was die grootste uitdaging wat my dalk 'n bietjie gespanne gemaak het: gaan hulle aanpas op die plaas en gaan hulle daarvan hou.”

Boer Richann vra dat Marizel en René nog op die pl
Boer Richann vra dat Marizel en René nog op die plaas moet bly. Annemien gaan huis toe. Foto: Verskaf

Toe die meisies by die plaas opdaag, het almal eers buite by die voertuig gestaan en gesels. “Toe weet ek hierdie kuier gaan lekker wees.”

Boer soek ’n vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.