Carine Rous as Rachel Bishop in die dramareeks Inc
Carine Rous as Rachel Bishop in die dramareeks Inconceivable. Foto: M-Net

AGTER DIE VERRAAD

Carine, wat met ’n Safta bekroon is vir haar spel as die blogger Anna Fourie in die komediereeks Elke skewe pot, maak weer ’n draai op die kassie – dié keer as die advokaat Rachel Bishop in die sterbelaaide dramareeks Inconceivable op M-Net.

Rachel, wat altyd na perfeksie streef, word tot die ondenkbare gedryf toe haar babadogter dood gebore word en sy uit desperaatheid iemand anders se baba steel. Sy betrek boonop haar vriendin, die ginekoloog Marieke Meyer (Anel Alexander), by haar web van leuens.

“Rachel is ’n ongelooflike karakter om te speel. Sy is berekend, vroulik, sterk, intelligent, maar ook manipulerend,” sê Carine (37). “Sy is driedimensioneel, so ons sien die goeie, die slegte en die lelike kant van haar.”

Carine Rous as die advokaat Rachel Bishop in die d
Carine Rous as die advokaat Rachel Bishop in die dramareeks Inconceivable. Foto: M-Net

SELF ’N MA

Carine is nes haar karakter die ma van ’n dogtertjie. Haar eersteling, Anna-Jo, is in Mei verlede jaar gebore. Haar eie pad na ouerskap het ’n groot invloed gehad op hoe sy lewe geblaas het in haar karakter, Rachel.

“Dit het beslis die fisieke uitbeelding van Rachel verander. Om ná geboorte rond te beweeg is moeilik, veral as jy ’n moeilike geboorte gehad het soos Rachel; dus het ek probeer om bewus te wees van my bewegings in sulke tonele,” vertel Carine.

“Ek het byvoorbeeld nie net opgespring en sorgeloos rondbeweeg nie. Aan die emosionele kant was ek ook bewus van die hormonale uitwerking op ma’s en het dit in ag geneem sodat ek empatie met Rachel kon hê. Ons stem dalk nie met haar keuses saam nie, maar ’n mens moet tog deernis hê.”

STERK VROUE

Carine het net bewondering vir die ander vroue in die rolverdeling.

Hieronder is haar vriendin Anel, die komediant en aktrise Nina Hastie, wat die Italianer Natalie Steyn speel, die Isidingo- en Legacy-aktrise Jay Anstey, wat die jong ma, Tamsin Watts, speel, en Refilwe Madumo, wat ons as die ambisieuse Busi Nkosi in die reeks ken.

“Ek en Anel was saam in die fliek Semi-soet, maar ek ken haar al baie lank, want haar man, James, was saam met my suster in matriek,” vertel Carine.

Anel Alexander (agter) speel haar vriendin wat by
Anel Alexander (agter) speel haar vriendin wat by haar web van leuens betrek word. Foto: M-Net

“Ná hierdie projek het ek net liefde vir haar. Ons moes ’n paar intense tonele skiet en sy het my baie veilig laat voel. Ek en Nina was saam op skool; dus ken ek haar al sowat 27 jaar, en Refilwe was ’n jaar voor my aan die Pretoria Technikon (nou die Tshwane-universiteit van Tegnologie).

“Dis die eerste keer dat ek saam met Jay werk; sy is ’n beeldskone aktrise.”

Carine saam met haar medesterre Langley Kirkwood, Nina Hastie en Sisanda Henna. Foto: Verskaf
Die Isidingo-­aktrise Jay Anstey is ook in die ree
Die Isidingo-­aktrise Jay Anstey is ook in die reeks te sien. Foto: Instagram (@carine.rous)

Carine het ook net lof vir die akteur Langley Kirkwood, wat haar TV-man, James, speel.

Langley speel Carine se TV-man, James. Foto: Inst
Langley speel Carine se TV-man, James. Foto: Instagram (@carine.rous)

GROOTWORDJARE

Carine, oorspronklik van Pretoria, is die jongste van drie.

“Ek het tussen die ouderdomme van twee en ses jaar in Parys, Frankryk, saam met my ouers, Piet en Annette van der Westhuizen, gewoon waar my pa vir die wetenskapnavorsingsraad gewerk het,” vertel sy.

Haar pa is in 2011 oorlede. Haar suster, Janine, woon in Irene in Gauteng en hul broer, Schalk, in Australië.

Carine wou al van kleins af ’n aktrise wees.

“Ek was mal daaroor om met my My Little Pony-poppe te speel en vir hulle aksente te gee. Ek besef nou dit was ’n groot uitgang vir toneelspel,” sê sy. “Ek is dankbaar vir my skool se musiekblyspele en drama-opvoerings, want dit het die liefde vir drama in my aangevuur. My ma het my ook gereeld teater toe gevat,” vertel sy.

DEURBRAAK

Sy het in 2005 haar B.Tech.-graad in drama aan die destydse Pretoria Technikon verwerf.

“Woutrine Theron, die hoof van die dramadepartement, het in my vierde jaar vir ons gesê die sepie Villa Rosa was besig om oudisies te hou en my vir een gestuur. Ek het nie die rol gekry waarvoor ek gegaan het nie.

“Toe bel Villa Rosa en sê hulle het ’n ander karakter in gedagte vir my. Dis hoe ek die rol van die student Geertruy van Straten gekry het,” vertel sy. “Woutrine het my toegelaat om drie keer per week by Villa Rosa te skiet terwyl ek my vierde jaar klaargemaak het.”

Nou was sy al in reekse soos High Rollers, Isidingo en Elke skewe pot te sien.

GEDUGTE PAAR

Inconceivable is die geesteskind van Carine se man, Luke Rous, sy broer, Josh, en hul vennoot, Meren Reddy, van die produksiemaatskappy Rous House Productions. Saam was hulle al vir die Safta-bekroonde reeks High Rollers verantwoordelik, waarin Carine speel.

Sy en Luke het mekaar in 1999 ontmoet toe hulle saam in ’n produksie op skool was.

“Ons het in 1999 begin uitgaan en omtrent twee jaar uitgegaan, maar dinge beëindig toe ek gaan studeer het. Luke was toe by (die rolprentskool) Afda. Ons het mekaar weer in 2006 vir koffie ontmoet en is sedertdien saam.”

Carine en Luke is al 21 jaar saam. Foto: Verskaf
Carine en Luke is al 21 jaar saam. Foto: Verskaf

Luke en Carine is in 2008 getroud en is nou die ouers van ’n dogtertjie, Anna-Jo (1).

“Ons probeer grense stel om ons huwelik te beskerm. Ek mag 20 minute lank oor goed praat wat op die stel gebeur het; daarna moet ons oor iets anders praat,” sê sy en lag.

“Ons hou dinge professioneel. Ek doen altyd oudisies deur my agent. Vir Inconceivable moes ek vir Marieke (Anel se rol) ’n oudisie gedoen het, maar het my agent gevra of ek Rachel kon doen. Ek is dankbaar dat Josh my oudisie vir Rachel gesien het.”

Tuis in Johannesburg geniet sy haar rol as ma.

Kyk, dis Mamma! Carine en haar man, Luke, saam met
Kyk, dis Mamma! Carine en haar man, Luke, saam met hul dogter, Anna-­Jo. Luke het agter die skerms aan Inconceiv­able gewerk. Foto: Instagram (@carine.rous)

“Dis die moeilikste werk ter wêreld, maar dis ook die wonderlikste ervaring om die wonderlike klein mensie te leer ken wat so gevul is met lag en vreugde. Ons gunstelinggoed om saam te doen is om op die grond te speel, en ek lees ook vir haar terwyl sy op my skoot sit.”

5 VRAE AAN CARINE

Wat is jou gunstelingfliek?

The Big Chill, ’n klassieke 1980’s-fliek met ’n wonderlike rolverdeling en ongelooflike klankbaan.

Watter akteur inspireer jou?

Simoné Pretorius. Sy is ’n formidabele aktrise, ’n goeie beïnvloeder in die sosiale media en sy hou van ’n nuwe uitdaging.

As daar ’n fliek oor jou lewe gemaak word, wie sou jy wou hê moet jou speel?

Ek is ’n aanhanger van Zoe Kazan (van The Plot against America). Ek is mal oor haar uniekheid en haar kwesbaarheid wanneer sy toneelspeel.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek skryf nuwe idees of konsepte vir televisiereekse en storielyne. Ek maak ook graag tuin. Ons is mal oor ons rose en avokadobome. En ek hou daarvan om in Suid-Afrika te reis.

Ek is ewe lief vir Mosselbaai in die Wes-Kaap as die Oos-Kaapse dorpie Nieu-Bethesda.

Carine op haar geliefde Mosselbaai. Foto: Instagra
Carine op haar geliefde Mosselbaai. Foto: Instagram (@carine.rous)
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.