Daar’s geen einde aan die soene nie. Hier ’n klapsoen, daar een op die wang, dan sommer nog een. Hulle is seker die vryerigste paartjie nog in die kykNET-program Boer Soek ’n Vrou. Wanneer jy sien, dan is boer Réan en sy blondekop-Rox-Zee aan’t kafoefel.

Tydens ’n heerlike sneeuvakansie verlede winter by AfriSki in Lesotho saam met die res van die deelnemers aan die maatsoekreeks kon dié twee omtrent nie hul hande van mekaar afhou nie. Nes jy kyk, druk Réan sy mond teen Rox-Zee se nek vir ’n soen. Of hy druk haar vas en soen haar weer.

Op die meeste foto’s wat dié twee liefdesduifies van die program se 11de seisoen vir Huisgenoot gestuur het, is hul lippe teen mekaar. Nie eens ’n afstand van 1 200 km tussen hulle en die lastigheid dat hulle mekaar net elke drie weke sien, kan die liefdesvlam tussen hulle blus nie.

Réan verduidelik hy is ’n warm mens.

“Ek is mos lief vir haar; daarom kan ek nie my hande van haar afhou nie en wil ek haar net opsoen.”

Hulle kan nou ook vir die eerste keer aan lesers erken hulle is sedert Julie verlede jaar in ’n vaste verhouding.

Dié romantiese ontwikkeling het reeds kort voor die verfilming van die reünie-episode in Augustus gebeur, maar natuurlik moes die nuus stilgehou word om nie die opwinding van die reeks vir die kykers te bederf nie.

Al het Rox-Zee tydens die sneeuvakansie al van trou gepraat en tydens die reünie, waar Réan alleen opgedaag het omdat sy in Engeland gekuier het, gereeld vir hom “sulke morsige ringfoto’s” gestuur, hou die twee vol: Hulle het nog nie besliste toekomsplanne nie.

Réan sê hulle geniet nou eers net mekaar se geselskap. Rox-Zee sê weer dit voel asof sy haar oulike boer al jare lank ken en nie nou onlangs ontmoet het nie. Dat hierdie twee 27-jariges albei die skoot hoog deur het, steek hulle nie weg nie.

Réan vertel dit is haar borrelende persoonlikheid wat sy hart sag maak, en Rox-Zee sê hy laat haar lag en maak haar gelukkig.

Dit was hoeka Réan se humorsin wat aanvanklik Rox-Zee se aandag getrek en haar laat besluit het om vir die 11de seisoen van die televisiereeks in te skryf. Dié skoonheidsterapeut wat ’n salon in Hillcrest buite Durban besit, het toevallig in Februarie verlede jaar sy bekendstellingsvideo op Facebook gesien.

“Hy was so snaaks; hy het my net laat lag,” vertel sy.

Op dié foto’s wat hulle verskaf het, is dit duidelik hulle het die skoot sommer hoog deur.

“Ek het sommer net daar besluit dié boer moet ek ontmoet.”

Toe moes sy skarrel, want die sluitingsdatum was twee dae later.

Kykers moes aanvanklik ’n brief aan die boer van hul keuse skryf en dan maar duim vashou dat die boer hul brief sou kies en hulle uitnooi om hulle beter te leer ken.

Rox-Zee vertel sy het haar brief kort en eenvoudig gehou. Sy het onder meer genoem sy is ’n groot diereliefhebber en het vier skouperde waarmee sy aan perdesport deelneem.

“Dis net ’n stokperdjie, maar ’n baie, baie duur stokperdjie,” verduidelik sy. Sy het haar brief in Engels geskryf, waarna haar ma, Rijkie, wat Afrikaans is, dit vertaal het. “Wat ook al my ma geskryf het, het gewerk – hier is ek vandag nog,” terg sy.

Réan beweer hy kan glad nie onthou wat in daardie brief gestaan het nie. “Nee, ek het dit te lank gelede gelees, maar ek onthou dit was so kort en kragtig dat ek eenvoudig nog meer wou weet. En, o ja, daardie foto het my asem weggeslaan.”

Rox-Zee was een van 10 vroue wat hy genooi het sodat hy hulle tydens ’n blitsafspraak kon ontmoet. Réan het al op televisie erken Rox-Zee het sy voete daardie eerste dag onder hom uitgeslaan.

Hy sê toe sy daardie dag by die deur instap, “was sy die mooiste meisie wat ek al ooit in lewende lywe gesien het”. Dié gevoel was wederkerig.

“In die bussie terug na die hotel vertel ek toe mos sommer vir die ander meisies ek het vandag my trouman ontmoet,” vertel Rox-Zee.

Mmm . . . ja, miskien was dit ’n bietjie voor op die wa, erken sy nou met die terugdink. Réan het Rox-Zee én kykers weer laat skater toe hy voor die kameras erken: “Jy is mooi, maar jy is Engels, maar dis moeilik; my brein maak só!” en met sy hande wild beduie het.

Toe kom daardie dag in Julie verlede jaar toe Réan haar amptelik vra om sy meisie te wees. “Ek het eintlik nie ’n keuse gehad nie, want sy het kort-kort gekerm en wou weet wanneer ek haar gaan vra,” laat Réan val met daardie tipiese ondeunde laggie van hom.

“Issie,” stry sy. Maar sy het geweet dit gaan kom, want terwyl hulle daardie dag teen ’n koppie op sy plaas buite Groblershoop in die Noord-Kaap opgestap het, het sy gehoor hoe die glase in sy rugsak klingel.

Van die koppie af is daar ’n uitsig op die plaashuis en die wingerd- en pekanneutlande. Réan het sy arm om haar lyf gevou en gesê: “Met dit wat jy hier onder sien, moet jy vrede maak, want dit is wie ek is.”

Natuurlik het sy ja gesê en Réan het ’n bottel vonkelwyn oopgemaak. En toe soen hulle – natuurlik.

“Maar dit was darem nie ons eerste soen nie,” sê Réan dadelik. “As dit was, sou dit maar treurig van my gewees het.”

Hoe voel haar ouers oor hul verhouding? Baie opgewonde, vertel Rox-Zee, wat in daardie stadium al drie jaar enkellopend was. “Veral my ma, want sy wil mos kleinkinders hê.”

Haar broer, Robbie (26), is ook ongetroud, maar darem al verloof.

Die twee verliefdes probeer om mekaar minstens elke drie weke te sien.

Gelukkig en verlief op die plaas.

Réan vertel hy ry sowat ’n uur na die lughawe op Upington, neem dan ’n vlug na Johannesburg, wag vir ’n aansluiting na Durban, en daarvandaan is dit nog ’n uur se ry tot by Rox-Zee in Hillcrest.

“Die hele ding vat omtrent 10 uur lank. Dit is mos commitment,” sê Réan en lag gelukkig.

“Dis al hoe ’n langafstandverhouding kan werk.”

Gaan Rox-Zee haar lewe in KwaZulu-Natal oppak en plaas toe trek?

“Ons praat oor baie dinge, maar niks is nog finaal nie,” sê Rox-Zee ernstig. “Niemand weet in elk geval wat die toekoms vir jou inhou nie,” sê Réan, diep filosofies.

Daar kan dalk vanjaar ’n verlowing op die tafel wees, laat sy deurskemer.

Afskeid op die lughawe. Die twee laat hul langafstandverhouding werk deur mekaar minstens elke drie weke te sien.

Tog beklemtoon sy vinnig daar is geen sprake van ’n oorhaastige troue of ’n plaas-toe-trekkery nie. “Ons moet nog oor baie dinge praat.”

Hoewel die afstand ’n tameletjie is, is hul taalverskil glad nie ’n probleem nie, sê Rox-Zee.

Hoewel sy hoofsaaklik Engels praat, het sy tog in ’n tweetalige huis grootgeword. Pa Robbie is Engelssprekend, maar ma Rijkie is immers Afrikaans.

Réan vertel laggend hy probeer darem om so af en toe met haar Engels te praat.

“Maar ek dink hoe meer Engels ek praat, hoe minder verstaan sy wat ek bedoel.”

As daar een ding is wat Réan tussen al die pratery oor die toekoms deur weet, is dit dat hy nie nog ’n Kersfees sonder sy Rox-Zee wil wees nie.

Daarvoor is soen darem net te lekker.