Hulle vertel die eerste skawery van die getroude lewe is verby. Foto: Misha Jordaan

Die gewilde Boer Hennie, uit die negende seisoen, vertel dit was vir hom ’n heel aangename ervaring.

“Ek moet mooi dink om te onthou hoe dit was,” vertel Hennie Lötter, wat kykers op sy plaas in Willowmore in die Oos-Kaap leer ken het.

“Dit was ’n lekker braai. Ons het gespitbraai,” sê hy en lag. “Dit is al wat ek goed kan onthou.”

Maar was hy senuweeagtig voor die tyd? “Ag, net om alles gereed te kry,” voeg hy oor die geskarrel by.

Voor die kameras is dit nie altyd maklik om jouself te wees sodat nuwe mense jou kan leer ken nie, meen hy.

“Moenie voorgee nie,” sou sy raad wees aan almal betrokke. “Wees net wie jy is.”

Hennie en Jacobu Lötter geniet die plaaslewe en hul jong liefde terdeë. Foto: Misha Jordaan

Hy en sy vrou, Jacobu, het op 7 Oktober verlede jaar op sy familieplaas by Willowmore getrou. Jacobu het aanvanklik nie aan Hennie geskryf nie, maar hulle het by die reünie van die program met mekaar gesels en vier maande in die geheim uitgegaan.

“Toe sy my familie ontmoet was dit dadelik baie gemaklik,” vertel hy.