riekie smit,jurgens grove en henck conrey van dr n
Dr. Riekie Smit en dr. Jurgens Grové (middel) verskaf die mediese insig en Henck Conrey is die aanbieder van VIA se Dr. Nou! Foto: VIA

Solank as wat sy kan onthou, is sy oor haar voorkoms afgeknou. Die toestand bekend as Turner se sindroom het haar met gapings tussen haar tande, donker kringe onder haar oë en ’n probleemvel gelaat en sy is genadeloos daaroor gespot.

“Dit het ’n groot invloed op my gehad en my in baie opsigte teruggehou in wat ’n wonderlike eerste 30 jaar van my lewe kon gewees het,” vertel ene Nadia van Pretoria in die tweede seisoen van die VIA-­werklikheidsreeks Dr. Nou!

Maar danksy die sorgsame en bekwame hande van twee besonderse dokters hou Nadia nou vir die eerste keer van die mens wat sy in die spieël sien. Sy pak die lewe met nuwe selfvertroue aan en hoop sy kan eindelik ’n liefdesmaat vind.

Nadia en die kykers is nie al mense wat diep geraak is deur die oomblik toe haar uiterlike oplaas haar pragtige innerlike weerspieël het nie. Vir die reeks se deelnemende dokters, Jurgens Grové en Riekie Smit, is die emosionele reaksie van pasiënte op hul transformasie ewe aangrypend en vervullend.

riekie smit tydens die verfilming van dr.nou!
Riekie Smit is besig om vir een van haar pasiënte ‘n kosmetiese behandeling te gee. Foto: VIA

Want dis meer as net die uiterlike wat deur die span van Dr. Nou! se kosmetiese en tandheelkundige prosedures genees word; hul pasiënte se emosionele wonde bloei skoon en word deur selfwaarde en hoop vervang. “Dis soveel gevoelens in een oomblik, en dit maak dit so spesiaal om deel daarvan te wees,” vertel Riekie (43), van Pretoria.

Sy vertel haar helende werk is ’n droom wat waar geword het. As kind het sy baie tyd in haar pa, Jan van Wyk (70), se apteek deurgebring. Sy wou altyd die fyn druk op elke medisynebotteltjie lees. En ná 20 jaar in haar kosmetiese praktyk is sy steeds dol daaroor om mense se lewe beter te maak. “Ek is fanaties oor die mediese veld, anatomie, navorsing en alles wat daarmee gepaardgaan.”

Jurgens (63), die “ander helfte” van Dr.Nou!, is van Bryanston, Johannesburg, en erken hy weet nie eintlik hoekom hy besluit het om sy lewe aan tandheelkunde te wy nie. “Ek het destyds vir my klasmaats gevra en die troos gekry dat die meeste van hulle ook nie weet hoekom hulle besluit het om tandheelkunde te studeer nie.”

Hy is al 40 jaar in die beroep, en dis sy doel om tandheelkunde vir families en individue bekostigbaar te maak. “Ek fokus op estetiese tandheelkunde, waar jy mense se glimlag beter laat lyk en hulle meer selfvertroue kan gee.”

veronica se tande is perfek gemaak voor haar troue
Veronica het aan die eerste seisoen deelgeneem. Jurgens het haar tande perfek gemaak en Riekie het haar gehelp met vel- en gesigprosedures voor haar troue. Foto: VIA

Sommige kykers het Jurgens en Riekie dalk in die eerste seisoen van Dr. Nou! leer ken, maar hulle was ook in 2014 ’n span in kykNET se destydse gewigsverliesreeks, Maatband.

“Ek geniet dit om met Riekie saam te werk en bewonder haar eintlik. Sy is baie bekwaam, aktief, sy neem leiding. Ek het baie respek vir haar,” sê Jurgens.

Dis vir Riekie ook lekker om saam met Jurgens te werk. “Dis omdat hy verstaan wat ek doen, en ek verstaan sy werk. Die tande is ’n groot deel van die gesigvorm, en dis altyd beter as hy eers aan die tande werk voor ek aan die vel of lippe werk,” sê sy.

Riekie glo sy het die beste werk ter wêreld omdat sy mense gesonder en gelukkiger maak. Pasiënte wat by haar praktyk in Montana hulp soek, het gewoonlik kwaai velprobleme soos aknee, sonskade, geboortevlekke en littekens. Party kom ook vir prosedures vir plooie, hangwange of lippe en gewigsprobleme.

“Dit het ’n groot invloed op my gehad en my in baie opsigte teruggehou in wat ’n wonderlike eerste 30 jaar van my lewe kon gewees het,” vertel ene Nadia van Pretoria in die tweede seisoen van die VIA-­werklikheidsreeks Dr. Nou!

“Dis alles wat jou pla oor jou voorkoms en wat jou selfbeeld beïnvloed. Ek doen glad nie skoonheidsbehandelings nie; dis heeltemal ’n ander veld. Ek doen net mediese prosedures en konsultasies vir kosmetiese probleme,” verduidelik Riekie.

Dis vir hierdie twee dokters nie maklik om hoogtepunte uit hul VIA-reeks uit te sonder nie. “Elke episode se verfilming het hoogtepunte gehad. Veral as jy elke mens se gesig sien wanneer hulle met soveel dankbaarheid na hulself kyk,” sê Riekie.

Nadia het albei diep geroer. Haar toestand, Turner se sindroom, kan ’n mens se lengte, gesig- en nekvorm, tande en selfs organe beïnvloed.

Nadia vertel in die reeks aan die aanbieder, Henck Conrey (32), hoe traumaties die eerste 30 jaar van haar lewe was. “Ek was vreeslik erg geboelie deur van my naaste vriendinne tot mense van buite,” vertel sy.

Maar volgens Riekie is Nadia ’n borrelende mens wat die lewe met ’n glimlag en baie moed aanpak. “Haar behandelings het mooi gewerk om haar nog meer selfvertroue te gee.”

Haar emosionele reaksie is wat Jurgens geroer het. “’n Mens kon sien haar selfvertroue het ’n knou gekry en dat jy met hierdie drastiese verandering vir haar die vrymoedigheid gegee het om te praat en mense met selfvertroue in die oë te kyk.”

nadia het haarself skaars herken na haar mooimaaks
Nadia, wat aan Turner se sindroom ly, het haarself skaars herken ná haar mooimaaksessie. Foto: VIA

Dan was daar Dirk, wat deur sy vrou, Karen, ingeskryf is. “Hy het ’n merkwaardige verandering ondergaan,” vertel Jurgens oor sy transformasie in die reeks. “Met Dirk dink jy vooraf daar is niks wat aan hom gedoen kan word nie. Maar ’n mens is nogal trots wanneer jy die eindresultaat sien.”

’n Uitdaging was toe die verfilming van die reeks tydelik gestaak moes word weens die inperking.Die gevolg was dat sommige deelnemers se behandelings herhaal moes word. Een soort behandeling moet byvoorbeeld elke vyf tot ses maande herhaal word, verduidelik Riekie. “Gelukkig hou ander behandelings baie langer.”

Albei kyk Donderdagaande met ’n kritiese oog na hulself op televisie. Hul gesinne kyk gewoonlik saam. “My hare lyk soms vreemd, of ek sê iets verkeerd,” sê Riekie. “Dit is regtig so dat televisie jou vetter en groter laat lyk. Baie mense wat my die eerste keer in die regte lewe sien, sê ek is baie korter en kleiner as wat hulle gedink het. Of hulle vra of ek gewig verloor het.”

Soms wil sy nie dat haar kinders, Alicia (17), Jonathan (15) en Georgia (10), na ’n episode kyk wanneer sy weet sy het foute gemaak nie. “Nes ek is hulle baie krities.” Maar eindelik lag almal saam vir haar blapse.

Jurgens vertel hy kyk die reeks nou saam met sy vrou, Agneta (61). “Sy sê dikwels vir my sy kan nie glo dis dieselfde mense aan die einde van die program nie.”

En dis waaroor alles vir hulle gaan, sê hy. “Ons is maar ’n kort tydjie op aarde. So as ’n mens daardie tyd kan gebruik om mense se lewe te verander en te verbeter, voel jy goed.” 

Wen ’n mooimaaksessie met Huisgenoot, Via en Dr. Nou!
Een gelukkige Huisgenoot-leser kan ’n mooimaaksessie van tussen R100 000 en R200 000 wen afhangend van die behandelings wat nodig is, geborg deur VIA en Dr. Nou!

Stuur voor of op 6 November ’n e-pos na jody.taylor@huisgenoot.com met ’n foto en jou storie waarin jy verduidelik hoekom jy dink jy hierdie transformasie verdien. 

Die wenner sal teen 13 November gekies word. 

Die mooimaaksessie en episode word in Johannesburg verfilm en reisreëlings sal vir die wenner se eie onkoste wees. Bepalings en voorwaardes (soos uiteengesit op viatv.co.za) geld. 

Die mooimaaksessie vir die Huisgenoot-wenner sal verfilm word as ’n spesiale episode van Dr. Nou! en sal op 14 Desember om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word.

Onthou, as jy inskryf, moet jy bereid wees om deel te neem aan hierdie episode.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe