Die boorling van Durban het gedurende 'n uitsending van die KFM-ontbytprogram in gebroke Afrikaans 'n brief gelees wat hy van Suidooster se vervaardigers ontvang het.

“Jou wens om ’n sepiester te word, gaan bewaarheid word. Ons is seker jou toneelspelvaardighede is stormsterk, want hiermee nooi ons jou om in Suidooster te verskyn,” lui die brief van die uitvoerende vervaardigers, Bradley Joshua en Jaco Loubser.

Die tonge het omtrent geklap oor hoe Darren (42) ‘sepiester’ as ‘sippiester’ uitgespreek het. Darren is veral bekend oor hoe hy ander naboots en met mense die gek skeer.

Is dié dalk weer een van sy skelmstreke? 

“Dit is geen grap nie,” vertel die publisiteitsbestuurder van Suidooster, Wilmer Muller, aan Huisgenoot. “Darren sal later vanjaar ’n gasverskyning in Suidooster maak.”

Darren se mede-omroeper en Bravo!-aanbieder Tracey Lange het Darren aan hulle voorgestel en toe begin hulle oor die moontlikheid gesels.

“Nes KFM is Suidooster ’n trotse produk van Kaapstad en dit maak sin dat daar sinergie tussen een van die gewildste Afrikaanse programme en een van die gewildste radiopersoonlikhede in die land is,” laat Wilmer hoor. 

Darren sal waarskynlik middel-September ’n draai in Ruiterbosch maak. Intussen kan die grapjas, wat uit ’n Engelse gesin kom, by sy mede-omroeper Sherlin Barends aanklop vir Afrikaans-lesse ter voorbereiding van sy debuut op die kassie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.