BLINKOOG TUSSEN DIE STERRE

Dié 20-jarige akteur se karakter, Dirkie, is die hoof van sekuriteit by die klein hoekwinkeltjie “Ian en Ander” op George in die Wes-Kaap. 

Brümilda van Rensburg se karakter, Belinda, en Annelisa Weiland se karakter, die afgetrede onnie Annetjie, is sy ouer kollegas.

Brümilda is onder meer bekend as Jana Koster in Binnelanders en Annelisa as Hilda in 7de Laan. 

wian taljaard,akteur,lui maar op, belinda
Saam met Eric Nobbs en Brümilda van Rensburg in Lui Maar Op, Belinda. Foto: Donna Lewis

Wian was in sy noppies om teenoor hulle te speel. 

“Dit was ongelooflik! Ek was ’n fanatiese 7de Laan-aanhanger toe ek so sewe of agt jaar oud was. Ek het plakboeke en lêers met foto’s van die akteurs in daardie tyd volgemaak. En Brümilda het ook net so ’n alomteenwoordige presence gehad toe ek grootgeword het. So om met sulke suksesvolle en selfversekerde ikoniese vroue met dekades se ervaring te kon werk, was ’n verskriklike groot seën,” vertel Wian, ’n boorling van die Oos-Kaapse dorpie Cradock en tans finalejaardramastudent aan die Universiteit Stellenbosch.

SY DEURBRAAK 

Wian was vanjaar in ’n kinderproduksie by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn op die planke toe ’n kykNET-agent hom raakgesien en vir ’n oudisie vir die reeks genooi het. 

“Dit het vinnig gebeur,” vertel dié Matiestudent. 

“Ek is die Maandagmiddag gekontak vir ’n oudisie en het die volgende middag sommer die oudisie by die regisseur Corné van Rooyen se huis afgelê. Die Woensdagmiddag is ek die rol van Dirkie aangebied.”

Lui Maar Op, Belinda speel dalk in George in die Wes-Kaap af, maar die span het dit by Atlantic Film Studios in Kaapstad geskiet – dieselfde plek waar die sepie Suidooster verfilm word. 

Die reeks is in vier weke vanaf 12 Mei tot 13 Junie geskiet.

IN DIRKIE SE SKOENE 

Vandat Wian die teks vir die sitkom begin lees het, het hy Dirkie se persoonlikheid “vreeslik interessant” gevind, juis omdat hy hom nie aan die begin kon plaas nie. 

“Ná vele gesprekke met die regisseur het ons gevind dat hy eintlik verskriklik interessant en ’n bietjie kompleks is. Aangesien hy nooit ’n familie of baie vriende gehad het nie, is hy eintlik soos ’n blank canvas met eindelose poten­siaal. Dit was lekker om sy ernstige komedie te vertolk en ook die vele kere wat hy eintlik net so deurmekaar is en nie mooi weet wat aangaan nie, maar dit tog nooit hardop sal sê nie,” lag Wian. 

wian taljaard,akteur
Wian Taljaard. Foto: Donna Lewis

Die vroeë 20’s angs van Dirkie is iets wat Wian goed verstaan. 

“Die stryd om uit te vind wie hy eintlik is of moet wees, het ek nogals op skool ervaar,” verklap hy. 

SY GROOTWORDJARE 

“Ek het in 2016 aan die Hoërskool Cradock gematrikuleer,” vertel dié jongste kind van Jurie (63) en Elsje (53) Taljaard. Hy het ’n ouer suster, Karla (24). 

“My gunstelingvakke was Engels en Afrikaans of rekeningkunde, maar dit het meer te doen met die onderwysers wat dit aangebied het en nie noodwendig die vakke self nie.”

wian taljaard,akteur
Wian saam met sy suster Karla. Foto: Verskaf
wian taljaard,akteur
Sy ouers, Elsje en Jurie, wys hul waardering vir Griekse drama. Foto: Verskaf

Hy was altyd vir die vermaakbedryf bestem.

“Ek kan glad nie ’n tyd as kind onthou waar ek nié besig was met die een of ander storie nie. Of ek nou konsert in die sitkamer hou en of ek (die komediereeks) Vetkoekpaleis ná elke sin pause en al die woorde neerskryf om dit self later op te sê. Ek het in gr. 2 dramaklasse begin neem en het eerlikwaar nooit enige ander beroep oorweeg nie.” 

KONSERTKONING 

Wian het destyds as sesjarige vir die eerste keer op die verhoog verskyn toe hy ’n All Black-rugbyspeler gespeel het in ’n skoolkonsert. 

“Ek het baie tienertoneel gedoen op skool en was verslaaf aan dramatoere. Aangesien Cradock so ver van al die feeste was, moes ons ’n hele toer daarvan maak. Ons het na baie plekke getoer, maar meestal na Bloemfontein en dan ook die jaarlikse Kaapstad-toer vir die individuele kykNET-toneelkompetisie vir hoërskoolleerders. Dit was ongelooflik.”

SY PAD NA DIE KASSIE  

Sy eerste keer op die planke met professionele akteurs was in 2013 toe hy as 14-jarige in Marthinus Basson en Christiaan Olwagen se X+Y opgetree het. 

Vier jaar later, op 18, het die blondekop sy televisiedebuut gemaak in die tweede seisoen van die kykNET-dramareeks Die Boekklub teenoor gewilde akteurs soos Armand Aucamp en Jana Cilliers. 

Wian is tans ’n finalejaar dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch, waar die jong akteur sy talent verfyn. 

wian taljaard,akteur,lui maar op belinda
Agter staan Wian en Eric. In die middel is Annelisa, Carmen Maarman en Brümilda. Voor sit Duncan Johnson. Foto: Donna Lewis

VERHOOG EN TV 

Wian se akteursloopbaan was tot dusver meestal op die verhoog; hy erken hy was aan die begin “eintlik bangerig” vir kamerawerk. 

“Ek het later uitgevind dit is eintlik ongelooflik lekker om voor ’n kamera te speel, veral met die wete dat daar geen wegkruipplek is nie, want die kamera tel dit dadelik op. So nou is ek mal oor albei.” 

Sy gesin is sy grootste ondersteuners. 

“My familie word verskriklik opgewonde elke keer as iets exciting gebeur soos ’n verskyning op televisie. Hulle is ook baie eerlik en ek vertrou wat hulle sê die meeste. As hulle nie daarvan hou nie, dan is ek ook sommer ontevrede,” laat Wian hoor.

BLITS-VRAE

1. As jy in enige land kon woon, waar sou jy wou bly?

Nederland.

2. As jy môre die Lotto wen, wat sal jy eerste koop? 

’n Platespeler.

3. Met watter bekende sal jy graag wil besties wees? 

Die Amerikaanse aktrise Emma Stone.

4. Pizza, burger of hoender? 

Pizza.

5. Die vreemdste ding op jou emmerskoplys? 

Om my rybewys te kry.

6. Grootste vrees? 

Om my rybewys te kry.

7. Introvert of ekstrovert? 

Hang af van watter dag.