“Dis soos verskillende vrugte wat saam ’n lekker vrugteslaai maak,” sê die Bravo!-aanbieder en KFM-omroeper Tracey Lange oor die nuwe geselsprogram Tussen Ons.

Sy is saam met Zelda la Grange, die voorma­lige persoonlike assistent van wyle oudpres. Nelson Mandela, Kay Karriem, redakteur van Kuier, Ingrid Jones, uitvoerende hoof van Mikateko Media, en die Bok Radio-omroeper Success Lekabe ’n aanbieder van die program.

Kay, Mej. SA, Tamaryn Green, Denise en Tracey Lange. Denise het gesels oor die rolle wat sy al as vrou vertolk het.
Die aanbieders gesels met die Suidooster-aktrise Denise Newman. Kloksgewys van voor sit Success Lekabe, Kay Karriem, Denise, Zelda en Ingrid.
Ingrid Jones en Zelda la Grange agter die skerms.

Al vyf vroue gee ’n eerlike blik en ’n ander siening oor verskeie kwessies wat bespreek word, sê Tracey.

“Die onderwerpe waaroor ons gaan gesels, fokus hoofsaaklik op vroue.”

Sy sê hulle gaan onder meer kyk of ’n vrou ernstiger opgeneem word as sy opgedollie is en hulle gaan gesels oor hoe vroue die beste kan maak van hul uniekheid en hul verskille in liggaamsvorme.

Die paneel van vyf bly weekliks dieselfde, maar gasaanbieders sal ook saam gesels.

Onder die gaste is die Suidooster-aktrise  Denise Newman, Tamaryn Green (Mej. Suid-Afrika) en die satirikus Pieter-Dirk Uys en sy alter ego, Evita Bezuidenhout.

Op die kassie
Tussen Ons word voor ’n regstreekse gehoor opgeneem en Donderdae om 20:00 op kykNET & kie uitgesaai.
Foto's: Donna Lewis