Die liedjie heet Tweede Kans en spog met ’n moderne en unieke klank wat aanslag by oud en jonk sal vind.

“Ek was mal oor die liedjie toe ek dit vir die eerste keer hoor," vertel André. "Die melodie is beeldskoon en die lirieke, wat Joe Foster geskryf het, vang empatie vas, " sê die sanger, wat ook bekend is vir treffers soos Ek Wil Jou Nooit Weer Sien.

Die snit gaan oor tweede kanse. “Ons is so vinnig om mense uit ons lewe te sny.” Hy vertel verder dat dit ’n “lonende ervaring” vir albei partye kan wees om vir enigiemand met wie jy al ’n lang pad gestap het, nog ’n kans te gee.

Die liedjie sal eksklusief en slegs vir vandag hier geluister kan word.

Tweede Kans sal ook Maandagmiddag sy pad na talle radiostasies toe vind en later hierdie week sal aanhangers op Itunes en die stroomdiens Joox die liedjie kan luister.

Die enkelsnit sal later in 2018 met ’n album opgevolg word.

Hier is vyf interessanthede wat jy moontlik nie van André weet nie.

1. André is 'n regte 'foodie'

Hy is mal daaroor om proespyskaarte te probeer. Hy hou van al die geure en is baie nuuskierig oor hoe als aanmekaar gesit is. Hy wys selfs sy slag in die kombuis en probeer om die disse op die spyskaart tuis te maak. Tog bieg hy: Dit draai die meeste van die tyd nie soos die restaurant s'n uit nie.

2. Hy't ’n vrees vir perde

Al hou hy op sy plaas in die Wieg van die Mensdom perde aan wat gered is, het hy eintlik ’n vrees vir dié diere. Hy neem nou perdrylesse en wil graag op een van sy perde, Darling, wat 'n resiesperd was, ry.

3. Hy is mal oor karre

Die sanger hou veral van afslaankapmotors. Maar vergeet van blink, vinnige sportmotors. Met die dat hy tans op ’n plaas bly, bestuur hy meer praktiese motors.

4. Hy hou van poetse bak

Hy is bekend onder sy vriende vir iemand wat daarvan hou om poetse op ander te bak. Gelukkig is dit darem altyd net vir pret. 

5. Hy geniet dit om diere dop te hou

Die sanger hou daarvan om diere soos voëls, insekte en hoenders op die plaas dop te hou. Hy bestee heelwat tyd daaraan en vind hulle unieke persoonlikhede fassinerend.