Die liedjie is Jack Parow se ode aan Suid-Afrika. Die video is aan die begin van Januarie verfilm terwyl hy en ’n paar pelle ’n week lank deur die Weskus gereis het.

Jack, wat eintlik Zander Tyler heet, voel dat sy landgenote veels te min die land verken. “Ons is baie gelukkig dat ons in so ’n amazing land bly,” sê Jack.

“Dit was nie ’n baie moeilike music video nie, want ons kon net ’n jol gehad het,” sê hy.

En dit is presies wat hy wou probeer wys – ’n mens kan op ’n “Vrydag besluit om ’n paar tjommies bymekaar te kry en te mission".

Volgens hom is daar niks beters as om dit saam met familie of vriende te doen en net ’n goeie tyd te hê nie.

“Orals waar ek gaan, mis ek altyd die huis, maar as ek travel in my land, voel ek altyd tuis,” sing hy in die liedjie.

Brannaste // ??‍???? // #weskusyoga @parowbrandy

A post shared by Jack Parow (@jackparow) on

Jack hou ook sy lyf ambassadeur as hy nie die land plat toer nie.

“Ek is nou weer op pad Holland toe en sê altyd net goeie dinge en probeer ons land altyd in die beste moontlike lig wys, want ons is ongelooflik lucky. Dis ’n beautiful en amazing plek om te bly.”

Day 2 done // #mykoningkryk

A post shared by Jack Parow (@jackparow) on

Ná die berugte Boepens Vark-musiekvideo is My Koningkryk (sic) dalk vir sommige mense ’n welkome verandering.

Sy eerste musiekvideo van die jongste album het behoorlik die tonge laat klap toe Jack outydse pornografiese films gebruik het en sy gesig op die mense in die film laat dokter het.

Hy't dit egter nie heeltemal so beplan nie, sê Jack. Hy wou ’n roadtrip-musiekvideo maak, sê hy. Hy moes toe besluit watter liedjie die beste daarby gaan pas.

“As jy na my album luister, dan is dit vanselfsprekend dat dit die volgende liedjie is wat ek wou gedoen het.”

“As ek nog iets so hard soos Boepens Vark gehad het wat kon gewerk het met ’n travel-video, dan sou ek dit gekies het,” spot hy verder.

Jack is omtrent bedrywig. Hy het die leisels oorgeneem by die komediant Schalk Bezuidenhout en is nou die nuwe aanbieder van die pasmaatprogram Die Kliek op VIA. 

Die Kliek se sesde seisoen met Jack Parow as die aanbieder begin amptelik 15 Februarie op VIA (DStv-kanaal 147). Nuwe episodes van Die Kliek sal elke Donderdag om 20:30 uitgesaai word met heruitsendings op Saterdae om 21:00.