Patrys, kom, ons is laat!”

Ek kan nouliks ’n geluid oor my droë tong uitkry.

“Ek kom,” piep ek in die rigting van die voordeur.

In die badkamerspieël kaats ’n verwilderde gesig na my terug.

Wat het ek gedoen? Hoe kon ek? vorm my bleek lippe die woorde.

Ek voel lus en hardloop weg, weg van die onafwendbare oordeel wat nou op my wag. Want ek het met ons toekoms gedobbel.

Ek sit stokstyfbenoud langs Rampie, my man, wat die hoeke van die plattelandse dorpstrate roekeloos sny. My hart klop in my kuiltjie, spring na my slape toe.

Jy wil mos instorm sonder om aan die gevolge te dink. Nou het jy sy hele toekoms verongeluk, die wonderlike geleentheid waarop hy sy hart gesit het.

Ek kan die aanklag nie smoor nie en strompel met ’n verslae gees na die agterste sitplekke. Almal kan seker die ellende op my gesig lees. Die selfverwyt. Stemme, klanke spoel oor my, maar maak nie sin nie.

Net die onthou van die opsweping oor soveel dae van my nou verpletterde gemoed. Die saadjie was lankal geplant, en hoe langer ek my aandag op die probleem toegespits het, hoe vinniger het die saadjie ontkiem.

Ek moes iets doen voor D-dag of ek verloor beheer oor myself. Maar wat?

Ek moet iets doen. Ons as jonggetroude paartjie moes soveel inboet vir ons ideaal wat nou voor my oë gaan opblaas. Ja, finansies het geknyp, emosies het dikwels hoog geloop, fisieke uitdagings het hul merk gelaat, en geestelik moes ons desnoods swaarde kruis.

Al hierdie omstandigheidsfaktore het die saadjie gevoed. My handsak glip van my skoot af en plof op die vloer. My wange word warm toe ek oë sien draai. Angstig soek myne oor die koppe na Rampie.

Daar sit hy; rustig, vredig. En hier, in die agterbanke, wag ek soos ’n tydbom terwyl tafereel ná tafereel wat tot dié oomblik van senuspanning gelei het voor my oë verbyflits.

"Rampie, asseblief tog, kan jy nie soos enige normale mens met jou hande ook praat nie? Mimiek maak 50% van die sukses van die trefkrag van ’n gesprek uit.”

“Ek het nie gebaretaal nodig nie; my stem het genoeg trefkrag. Jy het op my stem verlief geraak. So het jy gesê, onthou jy?” was sy vrolike reaksie.

“My man, vou jou arms dan so liggies, so nonchalant voor jou; dit stel die een met wie jy praat op sy gemak en oop vir ’n gesprek.”

“Aitsa, as jy daardie hoge woord kan spel, sal ek dit oorweeg,” het hy laggend getroef.

En ek kon nie, wou nie. Wat kan ’n “s” of “c” nou aan die situasie verander? So het die klein jakkalsie my wingerd betree, dit kruis en dwars gekruis.

Groter geword. Ek het myself nogtans bestraf en my aandag aan belangriker take probeer knoop. En toe klop dié uitkoms aan ons deur. ’n Geleentheid waarna ons so uitgesien het, voor gebid het.

’n Kans wat hy met hart en hand aangegryp het. ’n Geknypte hoes agter my pluk my na die hede. Formaliteite nog nie afgehandel nie, merk ek vlugtig op. My gestrengelde vingers is klam en ek voel sweetdruppels aan my voorkop.

Vroumens, dink oor iets anders; dink na buite. En dis toe juis waarna sekelstert my weer lei: na my wingerd vol gate. Ek hoor weer sy ontevrede stem. “Patricia.” Nie Patrys nie.

“Wat gaan met jou aan? Daar is iets geheimsinnigs aan jou gedrag. Vertel my wat jou hinder. Juis nou moet my aandag onverdeeld wees. Heelwat is op die spel vir my . . . ons. Kom nou, ons het nog nooit so ’n krapperigheid in ons verhouding gehad nie. Toe, vertel my.”

Hoe kan ek hom vertel? Ek met my ingebore kuisheid en respek vir my man; hoe kan ek hom so afkraak? Toe gebeur dit daardie vreeslike oggend terwyl ek groenboontjies op die groentemark soek.

“Nee, vrou, tog net nie daardie kortetjie wat so in sy lies krap nie!”

Die woorde van oor die groentestellasie het my soos ’n skoot koue water getref. Sy praat van Rampie, my man, het ek besef.

Ek het die huis net-net gehaal, sonder die boontjies, en onder die kombersie in gevlug. As ’n vreemde ou vrou dit kon opmerk, hoeveel te meer die ander daar buite. Wat dink hulle? Wat sê hulle?

Dit het gevoel of bokhael my getref het. Koersloos en radeloos. Snaarstyf soos ’n string opgewende rourieme aan ’n breiklip. Die gruwelike aantyging van die onbekende vrou is verregaande, het ek besef.

Maar toe, Rampie het die ontstigtelike gewoonte om met sy linkerhand diep in sy broeksak aan enige gesprek deel te neem. As hy eers ernstig raak en sy stelling wil bewys, maak hy vuis en dan . . .

Hy is aan die kort kant en sy pakke klere, wat oor vele jare moes trek, se sakke hang tot amper kniehoogte. Sien. Hoekom kan hy nie vir hom van die moderne hipsters met die stigtelike dwarssakkies aanskaf nie?

“My broeke makeer niks; dis net geldmors.”

Ek, armsalige preutsie, het nie die moed gehad om vir hom hard en duidelik te sê nie: “Rampie, my liewe man, daardie hand-in-die-broeksak-gewoonte van jou wek die verkeerde indruk; dié van vroetel waar dit nie troetel nie,” of: “My magtie, mansmens, haal jou hand uit jou vervlakste broeksak en gaan krap jou in die badkamer.”

Maar ek sou 10 dode sterf voor ek hom so in sy waardigheid aantas en sy privaatheid so blatant binnedring. Toe word ek soos ’n valk. Daar, daar doen hy dit weer of hy gaan dit nou-nou weer doen?

Ek voel om die pennetjie te pluk en die granaat te gooi. Of in die kamer aan die spieëlkas te gaan knaag. My jakkalsie het ’n grynsende hiëna geword. Ek moes iets doen voor D-dag of ek verloor beheer oor myself.

Maar wat? Toe vorm ’n vae plan in my stormsterk gemoed. Ek skud dit af. Rampie begin kriewelrig word en hou my weer met arendsoë dop. Eers liefdevol en geduldig.

“Patrysie, my engel, wat hinder jou? Jy is so gespanne soos ’n snaar en ons het tog op ’n oop huweliksverhouding besluit.”

Toe omgekrap: “Patrys-vrou, kom nou, ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Wat krap?”

Toe naald in die rooi: “Patricia, dié houding van jou stop nou of jy pak jou tasse en gaan . . . gaan . . .”

En daar doen hy dit weer! Dit het trane en fyn diplomasie gekos om hom tot bedaring te bring. Dis toe dat ek besluit tot hier toe en nie verder nie.

Die asma-man agter my maak weer keel skoon en roggel my tot daar waar Rampie sy sitplek verlaat. Ek besef: Hier kom Waterloo.

Deur suisende ore hoor ek sy verwelkoming en bekendstelling. In sy sterk, suiwer stem met kop en skouers onbevrees gelig.

My ore slaan toe; my hart tamboer in my borskas, dan in my slape. Ek verlang na my ma se arms.

Ek dwing my oë na hom toe en weet hy gaan nou sy kenmerkende indringende inslag afskiet en dan, dan gaan hy stol, want . . .

Ek druk my mond in my sakdoek en vlug by die deur uit, aan en aan tot binne ons kamer, onder die komberse.

Dis verby, dis verby, refrein dit in en om my tot ek kragteloos suf wegraak. Die gelui van die telefoon ruk my wakker, dwing my gang toe.

“Mev. Beukes, dis Bart Verwey hier. Is jy oukei?”

Ek is nie; sal nooit weer wees nie.

“Jou man wil weet. En dan, mevroutjie, wil ek jou net sê dis die aangrypendste preek van ’n jong predikant wat ek as hoofouderling nog gehoor het. Ek verstout my om te sê dat dominee Rampie gekom het om te bly. Mevrou?”

Maar mevrou hoor niks verder nie. Hulle noem hom Rampie, op sy studentebynaam, besef ek bewoë, en hy kan preek sonder om sy vuis in sy broeksak te bal.

Want hy kan nie. Ek het dit met no. 10- swart gare toegewerk.