Ys  

Deur Rudie van Rensburg

(Queillerie, R209*)

In Rudie se jongste roman is sy hoofkarakter, kapt. Kassie Kasselman, se enigste plesiertjies steeds seëls versamel en Creme Soda drink – maar dié keer is ’n orige eks by.
Rudie van Rensburg. Foto: Brenda Veldtman

Die man met Die Drang en die ywerige kettingsaag in Ys is iets allerverskrikliks.

“ ’n Speurder wat des­tyds by die Brixton-moord-en-roofeenheid gewerk het, het vir my gesê al dink ek die gruwelikste moord as skrywer uit, kan hy my verseker daar het al so iets in die regte lewe gebeur,” vertel Rudie van Rensburg.

“Dink net aan die gruweldade van die Amerikaanse reeksmoordenaar en kannibaal Jeffrey Dahmer.

"En hier in ons eie midde kan jy nie veel wreder kry as iemand wat sy gesinslede met ’n byl uitwis nie.”

In Rudie se jongste roman is sy hoofkarakter, kapt. Kassie Kasselman, se enigste plesiertjies steeds seëls versamel en Creme Soda drink – maar dié keer is ’n orige eks by.  

Hy het ’n ingebore flair om misdaad uit te snuffel op plekke waar ander speurders nie eens sou dink om te gaan ruik nie.

“Kassie se persoonlike lewe sal altyd saai wees, want sy posseëlversameling en liefde vir boeremusiek (terwyl hy die een glas Creme Soda ná die ander wegslaan) is sy allesoorheersende passies.

"Toe sy orige eksvrou dan skielik op die toneel verskyn, versteur dit die rustige ritme van sy Goodwood-woonstel­bestaan so erg dat hy dit nie as ’n spoedwal ervaar nie, maar ’n yslike berg.

“Dis maar hoe Kassie bedraad is,” verduidelik Rudie.

“Maar wanneer hy agter sy lessenaar by die polisiekantoor inskuif, begin sy plesier en kom sy opwindende en onkonvensionele kant na vore – ’n speurder wat nie sake volgens die SAPD-­handboek benader nie.

“Boonop het hy ’n ingebore flair om misdaad uit te snuffel op plekke waar ander speurders nie eens sou dink om te gaan ruik nie. En ondanks sy fasade van onbeholpenheid het hy ’n vlymskerp brein waarteen misdadigers hulle gereeld vasloop.”

Rudie se gunsteling­karakter in Ys is die Pollsmoor-gevangene Frankie Kriel, wat droom van die tweedehandseboekwinkel wat hy en sy vrou gaan begin wanneer hy vrygelaat word.

“Hy was ’n interessante karakter om te skep en het nogal uitdagings aan my gestel.

“Dan was brig. Shaheena Fortuin, Kassie se nuwe hardekwas bevelvoerder, ook ’n gunsteling. Ondanks die trauma in haar lewe is sy geestelik ’n sterk vrou.”


Redelike Twyfel

Deur Chris Marnewick

(Protea Boekhuis, R250)

In sy regsroman Redelike Twyfel is sy hoof­karakter Manon Viljoen, ’n jong advokaat.
Chris was 40 jaar in die regsberoep, wat by senior advokaat in Durban geëindig het.

“Vroueadvokate se kleedkamer; dit is soos ’n vrou se handsak, meen ek. Net ’n filosoof of ’n gek sal daar inloer,” sê Chris Marnewick.

In sy regsroman Redelike Twyfel is sy hoof­karakter, Manon Viljoen, ’n jong advokaat wat dikwels ’n draai maak in hierdie verkwiklik beskryfde ruimte met sy duur handsakke, brevette en boeke wat rondlê en waar haar kollegas tussen hul sake deur kans kry vir borsvoed en sekspraatjies sonder ’n wag voor die mond.

Chris het self ondervinding hiervan, want hy was 40 jaar in die regsberoep, wat by senior advokaat in Durban geëindig het. Hy het in 2011 afgetree en woon nou in Auckland, Nieu-Seeland.

“In Durban was eers aparte kleedkamers, maar een van die vroue het daarop aangedring om die mans se kleed­kamer te gebruik,” vertel Chris.

“Ek het nie gekla nie – ek het in ’n huis vol vroue grootgeword – maar een van die ouer manne het daar uitgestorm toe een van die vroue inderdaad haar baba begin borsvoed.”

Adv. Viljoen is so slim soos die houtjie van die galg in die hof en jaag graag naweke op haar motorfiets rond. Die enigste raakpunt aan die stereotipe van die storieboekheldin is dat sy blond is.

Ek het ’n kleintjie dood aan stereotipes in die algemeen en nog meer so in spanningsverhale.

“Die Manon-karakter is miskien ’n sameflansing van verskeie vroueadvokate wat ek geken het.

“Om ’n bietjie kleur aan haar te gee, het ek haar op ’n motorfiets gesit. Ek het ook nie juis geweet hoe ’n vrou soos sy ’n liefdes­teleurstelling sou hanteer nie.

"Op die ou end het dit goed uitgewerk terwyl sy om die beurt met haar fiets en haar gevoel vir Nantes (die regter met wie sy as student deurmekaar was) gestoei het.

“Ek het ’n kleintjie dood aan stereotipes in die algemeen en nog meer so in spanningsverhale,” sê Chris.

“Die speurders kan tog nie almal alkoholiste en vroueslaners wees nie. En die vroue kan nie altyd swakkelinge wees nie.”

Die bebloede-hand-regsreël waarvolgens adv. Charles Mouton niks van sy vrou se miljoene gaan erf indien hy haar vermoor het nie, is nou ter plaatse op baie mense se lippe weens die Henri van Breda-­saak.

“Ek het in 1994 so ’n moordsaak gedoen toe ’n jong man sy ma, ouma en oupa doodgeskiet het. Ons het vinnig moes leer hoe so iets binne ’n gesin kan gebeur.

“Daar is net drie moont­likhede volgens die kundiges en statistieke: kinders wat psigoties is (‘the mad’), kinders wat psigopaties is (‘the bad’) en kinders wat mishandel is (‘the sad’). Die terminologie is Amerikaans; ek sou meer diplomaties wou wees. My saak het in die ‘sad’-kategorie geval.”

Chris het sy eerste roman, Shepherds & Butchers, wat hy later oorgeskryf het as In die Laksman Se Skoot, in 2002 begin.

“Die fliek van Shepherds het dié maand hier in Nieu-Seeland op Sky Movies gewys.”

Die manuskrip vir Redelike Twyfel het ontstaan tydens Nanowrimo (National Novel Writing Month). Dit is ’n aanlyn uitdaging om 50 000 woorde te skryf in die 30 dae van November.

“Ek het Nanowrimo al drie keer gedoen. In die Laksman Se Skoot en ­Clarence van Buuren – die Man agter die Donkerbril het ook so ontstaan.”

Chris, wat in Afrikaans en Engels skryf en self sy boeke vertaal, sê hy het nog nie ’n skryfkursus bygewoon nie, maar lees wyd oor die onderwerp.

“Ek lees juis tans How Novels Work deur John Mullan. Ek leer deur te lees en te skryf.

Waaroor gaan Redelike Twyfel?

Die gerekende advokaat Charles Mouton word een oggend wakker langs sy vrou. Sy lê koud en dood langs hom en hy het geen benul wat gebeur het nie. In die daaropvolgende hofsaak weier hy om homself te verdedig, want hy wil self ook weet of hy skuldig is of nie.

Adv. Manon Viljoen, wat sy saak aan die hof moet stel sonder sy same­werking, krap ’n byenes van intrige oop wat insluit die beskuldigde se vrou wat haar skatryk geërf het aan geld wat haar pa in die dae van apartheid wederregtelik verkry het, maar bowenal die drie s’e: seerowers, Somalië en die Staatsveiligheidsagentskap.

En tussen Manon en regter Castel draai die duiwels rond . . .
Kry dit hier
* Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.