Stormkind staan met haar beentjies stewig in twee genres geplant: jeuglektuur en volwasse lektuur.

“Ek het ’n boek geskryf wat ék graag sou wou lees – of ek 16 was. Of 60,” sê Riana Scheepers. Sy vertel Stormkind het ontwikkel uit haar woede en hartseer oor dit wat ons aan die Boesmans gedoen het, “die oneindige gevoel van verlies wat ek ervaar het”. (Terloops, hulle is deur almal gejag – wit én swart het hulle uitgeroei.)

“Ek wou op ’n manier wys hoe waardevol die Boesmans was; nie net as mense nie, maar as geestelike begeleiers. ’n Mens kan dit nie vir grootmense sê nie, net vir kinders. Vandaar dat my keuse op ’n kind geval het.

“Kinders van daardie ouderdom het nog die onbelemmerde waardering van menswees sonder aansiens des persoons, die vermoë om te fantaseer, om tot op die been toe eerlik te wees,” sê Riana. “En toe het die verhaal eintlik generies gegroei uit die landskappe wat my naby aan die hart lê: die Bolandse wynplaas waar ons tot onlangs nog gebly het, die Tankwa-Karoo en Ierland.”

Van Ierland sê Riana as sy ooit ’n ander land haar “tuiste” kon noem, sou dit dié land wees. “Ek reis daarheen nét wanneer ek kan. Ek en Johann het daar weer ‘getrou’ as ’n herbevestiging van ons huwelik ná 15 jaar.

“Alles van die Iere spreek tot my; hul musiek, hul poësie (W.B. Yeats en Seamus Heaney) en daardie onverbiddelike en beeldskone landskap.

“Ek het baie seker gemaak van my feite. Ek was op die plek waar Deidre, Jana se ma, verdwyn het. Ek ken daardie landskap so goed soos my eie,” vertel Riana. Sy leun sterk op die gebruik van magiese realisme.

“Dit is nie die magiese realisme van die Suid-Amerikaanse skrywers nie, maar van Afrika, en dan binne die konteks van die fyn geesteswêreld van Boesmans. Dis dié dat die styl liries en aards is.”

Riana vertel die storie

“Die verhaal begin een stormnag toe ’n eeu oue olienhoutboom omwaai.

“Jana, wat daardie nag buite is, ontmoet die volgende oggend vir !X’uri, ’n Boesman-meisietjie.

“Volgens Boesman-oorlewering het die eerste mense op aarde gekom nadat ’n groot boom omgeval en die mense onder die wortels uitgekruip het.

“!X’uri leer Jana om al haar sintuie te gebruik, om aards en sintuiglik te leef om te oorleef. Sy beloof om saam met haar na haar ma te gaan soek.

“Daar is ook die lewensverhaal van ouma Lien wat in die Karoo grootgeword het. Toe sy klein was, was Letjie Stamboom, ’n Boesmanvrou, haar oppasser.

“Soos Jana deur !X’uri geleer word, so is Lien liefdevol deur die wyse Letjie begelei.

“Die leser besef later Letjie Stamboom en !X’uri is dieselfde mens. Ouma Lien vermoed dit ook toe Jana oor !X’uri begin praat, maar sy kry nooit die direkte bewys nie. Is !X’uri nie net ’n verbeelde maatjie nie?

“Toe Jana in staat is om al haar sintuie te gebruik soos wat die Boesmans dit deur die eeue gedoen het om te oorleef, is sy gereed vir die volgende fase van haar individuasie: die sesde sintuig, haar intuïsie.

“Kleinstorm neem sy dogtertjie Ierland toe – nie soseer om Deidre te gaan soek nie, maar om van haar afskeid te neem.

“Sewe jaar het verloop sedert haar verdwyning, en volgens Ierse wetgewing kan sy nou dood verklaar word.

“Deur haar verskerpte sintuie en ook haar intuïsie vind Jana haar oplaas en weet sy eindelik wat met haar ma gebeur het.”

Stormkind Deur Riana Scheepers (Tafelberg, R240*)

Vier van die karakters

  • StormJana, “ ’n meisietjie met fyn sproetjies op haar neus en ’n verskriklike bos rooi hare”, word op driejarige ouderdom StormJana toe haar ma wegraak.
  • Raka die Wraka is ook Raka die Rooie, die Sagte, die Oppasser, die Held. Hy blaf nooit, maar wys tande vir almal wat op die werf kom en pas Jana slaafs op.
  • Kleinstorm van Deventer is StormJana se pa en boer op die familieplaas. Hy het die liefde van sy lewe, die fluitspelende rooikop Deidre O’Donnell, in Ierland ontmoet toe hy saam met die universiteitskoor in haar land optree.
  • Deidre O’Donnell van Deventer gaan terug Ierland toe om van haar bejaarde ma te gaan afskeid neem. Daar raak sy sonder spoor weg. “Die polisie se lêer word nie in die kluis met afgehandelde sake gebêre nie, ingeval iets dalk opduik. In Ierland kan enigiets, enige dag, opduik. Of nie.”
* Teen dié prys beskikbaar by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.