Al ooit gehoor van ’n Amasoneleër wat in skrapse kleertjies ’n stryd aanknoop? Dis hoe die aksieheldin Wonder ­Woman en haar krygers in Justice League, die jongste af­lewering in die DC ­Comics-fliekreeks, daar uitsien.

Dit sal sommige fliekvlooie se oë laat rek – en nie almal sal hou van wat hulle sien nie. Sommige resensente het reeds gekla dit is “te geseksualiseerd” en veel skrapser as die uitrustings wat die vroue in die Wonder Woman-fliek gedra het. 

Maar die rolprentbase het gou ’n antwoord reg ­gehad: Die skrapse klere word gedra in terugflits­tonele; daarom is die vroue se uitrustings “minder gesofistikeerd”. Maar of jy nou jou Amasone met meer klere of ’n kaal magie verkies, Justice League ­beloof ’n fees van aksie. 

Dit wemel ook van interessante karakters: ’n ­Hawaise Aquaman-spiertier, ’n skrikwek­kende skurk wat die wêreld wil vernietig en ’n spul stryders wat oorgehaal is om die goeie oor die bose te laat seëvier.

Nie net Wonder Woman en haar Ama­sones wys lyf nie; Aquaman is self ’n lus vir die oog. Daaroor kla niemand – beslis nie Jason Momoa, wat die rol vertolk, nie.

Jason Momoa. Foto: Getty Images/ Gallo Images

“Dis koel dat daar ’n superheld met ’n bruin vel is,” sê Jason (38), ’n boorling van Hawaii, wat met die aktrise Lisa Bonet getroud is. Sy is veral bekend vir haar rol as Denise Huxtable in The Cosby Show. Hul kinders, Lola Iolani (7) en Nakoa-Wolf Manakauapo Namakaeha (8), is groot aan­hangers van Wonder Woman en ­Batman.

Die storie

Justice League begin waar die fliek ­Batman v Superman geëindig het. Superman is (half) dood, en Batman en Wonder Woman stel ’n span superhelde saam om teen die superskurk Steppenwolf (Ciarán Hinds) uit die nagmerriewêreld Apokolips te veg. 

Aquaman is die seun van ’n mensepa en ’n koninklike ma. Hy kon nog nie sy plek uitpluis in ons wêreld of in die onderwater­koninkryk waaroor hy eendag sal regeer nie.

Die fliek is tans in teaters landwyd te sien.

Ontmoet die res van die Justice League

Batman, ook bekend as Bruce Wayne gespeel deur Ben Affleck.


Foto: Getty Images/ Gallo Images

Magte: Hy’s skatryk met ’n persoonlike rykdom wat Forbes glo op sowat R129 biljoen raam. Daarom kan hy allerlei wonderbaarlike tegno-wonders bekostig om in die stryd teen die skurke in sy wêreld en op ander planete in te span. 

Wonder Woman, ook bekend as Diana Prince gespeel deur Gal Gadot .

A post shared by Gal Gadot (@gal_gadot) on

Magte: Sy is die dogter van Zeus en haar mense is die Amasones. Sy is slim, supersterk en ’n ervare vegter teen skurke op aarde en elders in die heelal. Wanneer sy nie teen ruimtewesens baklei nie, werk sy as kurator van oudhede in die Louvre-museum in Parys. 


The Flash, ook bekend as Barry Allen gespeel deur Ezra Miller.

A post shared by Ezra Miller?? (@ezrator) on

Magte: Dié kriminologiestudent is die vegter in die span met die minste ervaring, maar hy kan blitsvinnig hardloop; trouens, so vinnig dat hy na die verlede, die toekoms en ander dimensies kan reis.


Cyborg, ook bekend as Victor Stone gespeel deur Ray Fisher.

Represent. #BORGLIFE

A post shared by Ray Fisher (@rehsifyar) on

Magte: Die voormalige Amerikaanse voetbalspeler het byna 

in ’n motorongeluk gesterf. Maar sy pa, ’n geniale wetenskaplike, het toe nuwe lewe in hom geblaas deur die oorblyfsels van Victor se liggaam met biomeganiese ruimtetegnologie te versmelt. Hy is nou deels mens, deels masjien en pas nog aan 
by sy nuwe liggaam en vermoëns.

Superman, ook bekend as Clark Kent gespeel deur Henry Cavill.

Magte: Hy was dood, maar begin weer lewe kry . . . Soos sepiesterre bly strokieshelde nie lank dood nie. Ons sal nog moet kyk watter rol die Man of Steel in Justice League sal speel – buiten dat hy die motivering was om die span saam te stel. Wanneer hulle hom nodig kry, sal hy gewis tot hul redding kom. 

Die skurke

Steppenwolf gespeel deur Ciarán Hinds

Foto: Getty Images/ Gallo Images

Bekend vir: Hy is ’n ongelooflik magtige, antieke, onsterflike kryger van die planeet Apokolips wat die aarde wil verower. En dit lyk baie makliker noudat Superman, die planeet se beskermer van Kripton, skynbaar dood is.

Die Parademons gespeel deur verskeie waaghalse.

Magte: Dié demoniese wesens wat vir die eerste keer in ’n droomtoneel in Batman v Superman verskyn het, is Steppenwolf se voetsoldate. Hulle is swaar bewapen, kan vlieg en het ’n baie hoë pyndrempel. 

Interessante brokkies

  • Jason Momoa se eie tatoes was die inspirasie vir Aquaman se tatoes en wapen­rusting, vertel die kostuumontwerper Michael Wilkinson. “Die een op sy voorarm is veral wonderlik. Ek is geïn­spireer om ’n nuwe grafiese taal te skep en het ’n unieke tatoe ­ontwerp wat sy hele lyf bedek. Dit bring op ’n interessante manier Jason se eie agtergrond met dié van sy karakter in verband.” 
  • Ciarán Hinds, wat die skurk Steppenwolf speel, het nooit sy ­medeakteurs ­ontmoet nie. Sy tonele is voor groen skerms geskiet. “Hulle plak ’n helm op jou kop, sit twee kameras om jou en vang al jou gesigsuitdrukkings vas. En dan verander hulle my in hierdie moorddadige, wraaksugtige Steppenwolf van die veraf planeet Apokolips,” vertel hy.
  • Die Avengers-regisseur, Joss Whedon, is aangestel om dele van Justice League oor te skiet nadat die aanvanklike regisseur, Zack Snyder, en sy vrou, Deborah, een van die rolprent se vervaardigers, verlof geneem het ná die selfdood van hul dogter vroeër vanjaar. Zack kry steeds krediet as die fliek se ­regisseur.
  • Die klankbaan se komponis, Danny Elfman, het ook die musiek vir Tim Burton se Batman-flieks, Batman en Batman Returns, geskep. Sy Batman-­tema van 1989 word in Justice League gehoor, saam met elemente van John Williams se Superman-­agtergrondmusiek van 1978. 

Die Syfers

R4,2 Biljoen
Die koste om die rolprent te vervaardig. Dit het die hoogte ingeskiet omdat baie tonele oorgeskiet moes word. 
3
Soveel Oscar-wenners speel daarin: Ben Affleck (Batman), Jeremy Irons (Alfred Pennyworth) en JK Simmons (kommissaris Jim Gordon).
3
Soveel kere is Justice League al op die silwerdoek en kassie deur mense van vlees en bloed uitgebeeld. Voor die nuwe fliek was daar ’n mislukte televisie-loodsprogram van 1997 wat elke paar jaar op e.tv opduik, en die League is ook in die televisiereeks Smallville byeengeroep.


120 Minute
Die tydsduur van Justice League – die kortste van die eietydse DC-rolprente. Daarteenoor draai die regisseursnit van Batman v Superman: Dawn of ­Justice ’n volle 183 minute lank.
104 KG
Jason Momoa se gewig. Hy het saam met ’n afrigter gewerk om sy borskas nog meer te laat uitbult vir die komende Aquaman-solo­fliek.


Bronne: TMFilms/Warner Bros, CBR.com, TheDailyBeast.com, Hindustantimes.com, Screenrant.com, CinemaBlend.com