BELANGRIK: Ontvangs van jou kortverhaal sal erken word. Daarna sal jy net van ons hoor as jou storie geplaas gaan word. As ons jou storie aanvaar, verskyn dit in Huisgenoot en op Netwerk24. Dit word ook op Netwerk24 voorgelees. As jy dus na ’n maand nie weer van ons gehoor het nie, is jou storie nie aanvaar nie en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. Jy mag nie jou storie terselfdertyd aan ander tydskrifte ook voorlê nie. Skrywers wat uitgevang word, word op ’n swartlys geplaas.

Lengte: 1600 woorde.

Genre: Alle genres, insluitend liefdesverhale, is welkom. Maak dit eietyds eerder as outyds. (Geen gedigte en vervolgverhale nie, asseblief.)

Storielyn: Die hoofvereiste is dat die verhaal lekker moet lees, en as daar ’n verrassing op die leser wag, des te beter. Dit moet ook opbeurend eerder as morbied wees. Laastens moet daar ’n besliste storielyn wees; sketse word nie aanvaar nie.

Teikenmark: Huisgenoot is ’n gesinstydskrif en ideaal gesproke moet die kortverhale geskik wees vir almal (mans en vroue asook jongmense).

Aanbieding: Geen handgeskrewe stories sal aanvaar word nie.

Om ons sub-proses te vergemaklik let asb. op die volgende:

  • Gebruik dubbele aanhalingstekens deur SHIFT en die toets met dubbele aanhaaltekens te druk.
  • Gebruik net een spasie ná punte, kommas, kommapunte, vraagtekens, ens.
  • Druk ENTER net een keer om ’n paragraaf te maak; moenie indents maak nie.
  • Vermy die oorgebruik van aksenttekens; gebruik dit net waar absoluut nodig.
  • Vermy die gebruik van verkleinwoorde.

Betaling: R1 950.

Sorg asseblief dat volledige adres- en kontakbesonderhede saam met jou storie verskyn.

Alle stories moet via e-pos gestuur word aan stories@huisgenoot.com.