• Braai die ui ’n paar minute in die olyfolie in ’n potjie of pan.
  • Voeg dan die maalvleis en knoffel by, geur die spulletjie met die sout en peper en braai tot die vleis goudbruin is. Gebruik jou houtlepel om klonte vleis mee fyn te druk.
  • Voeg nou die kerriepoeier, tamatiepasta en appelkooskonfyt by en roerbraai tot jy tevrede is met wat jy sien. Haal die potjie of pan van die hitte af. As die maalvleis te droog kook en byna brand, gooi ’n bietjie water, wyn of bier by.
  • Bou die braaibroodjie: Smeer botter of olyfolie aan die een kant van elke sny brood (die kant wat na buite sal wys wanneer jy die braaibroodjie aanmekaargesit het).
  • Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer en verdeel die kerriemaalvleis gevolg deur die kaas eweredig tussen hulle.
  • Ek stel wit cheddarkaas voor omdat dit die kerriemaalvleis goed komplementeer, maar geel cheddar werk ook. Bedek met die oorblywende snye brood – botterkante na bo.
  • Braaibroodjies is draaibroodjies.  Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai, en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n verstelbare rooster sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet taamlik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster telkens oop- en toemaak ná die eerste paar kere se omdraai. Met dié braaibroodjie gaan jy sien hoe van die vulsel se sappigheid deur die brood syfer terwyl jy braai. Dit gaan jou braaibroodjies ’n wonderlike kleur aan een of albei kante gee. As jy perfek braai, sal die buitekante heerlik bros wees.
  • Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Eet dit onmiddellik.