Hou ses sosatiepenne byderhand.

  • Geur die hoenderborsies met jou gunstelingbraai- of hoenderspeserye of sommer net sout en peper. Braai die hoenderborsies oor warm kole en draai gereeld om tot gaar. Dit sal so 8 min. neem. Terwyl die hoenderborsies braai, braai jy ook die spek op die rooster oor dieselfde warm kole. Draai elke repie spek net een keer om. Spek braai baie lekker en raak lieflik bros op ’n braairooster.
  • Botter of olie die 18 snye brood aan die een kant en lê nege van hulle neer op ’n skinkbord met die botterkant na onder.
  • Sny, kap of skeur die vier gebraaide hoenderborsies in stukke en meng met die mayonnaise, ui, agurkies, blatjang, mosterd, sout en peper. Verdeel die hoender-en-mayonnaisemengsel tussen die nege snye brood op die skinkbord en smeer dit eweredig oor elke sny.
  • Verdeel nou die gebraaide spek en gerasperde kaas eweredig tussen die nege snye met die hoender-en-mayonnaisemengsel. Volgorde is hier nogal belang­rik, want as jy die hoender-en-mayonnaisemengsel akkuraat aan die een kant gesmeer het en die kaas netjies op die ander kant gepak het, sal dit die braaibroodjie se struktuur verstewig. Pak nou die ander nege snye brood (met die botterkant na bo) elkeen op ’n maatjie.
  • Plaas die nege broodjies in ’n toeklaprooster, braai oor matige kole en draai gereeld om tot die buitekante goudbruin en die binnekante goed warm is en die kaas gesmelt het. Haal van die vuur af en verwyder uit die rooster.
  • Verdeel die helfte van die fyngedrukte avokado eweredig en smeer dit op die bokant van drie van die braaibroodjies, gevolg deur tamatieskywe. Pak dan nog ’n braaibroodjie op elkeen en sit die res van die avokadopeer en tamatie daarop. Laastens sit jy die derde braaibroodjie bo-op.
  • Nou behoort jy drie identiese torings te hê. Elke toring behoort ses snye brood in te hê met lekker lagies hoender en mayonnaise, spek, kaas, tamatie en avo tussenin. Steek twee sosatiepenne van bo af deur elke toring en sny die torings in die helfte met ’n groot mes.
  • Sit een sosatiepenporsie klub-braaibroodjie per persoon voor.