Ontbytbraaibroodjie

akkreditasie
Foto: Braaibroodjies en burgers
Foto: Braaibroodjies en burgers

  • Die spek moet brosgebraai wees. Die maklikste en lekkerste manier om dit te doen is in ’n rooster oor die kole. Pak die stukke spek versigtig uit sodat dit nie deur die gapings in die rooster val nie. Draai die spek net een keer om. Jy kan spek oor warmer kole as braaibroodjies braai, wat beteken dat dit chronologies goed werk. Haal die spek van die vuur af wanneer dit reg is en kap rofweg in stukke.
  • Maak roereier in ’n pan of potjie oor die kole. Elkeen het sy eie styl. Ek sit gewoonlik botter, olyfolie en al die ­eiers in die potjie voor ek die potjie op die vuur sit. Ek roer die eiers nie te geesdriftig nie, want ek hou van ’n bietjie wit en geel detail in my roer­eier. Sodra dit begin stol, meng jy die helfte van die gerasperde kaas by. Wanneer dit omtrent reg is, gaan jy dadelik aan met die volgende stap.
  • Bou die braaibroodjies: Botter of olie elke sny brood aan die een kant. (Dis die kant wat na buite sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaargesit het.) Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer, smeer die blatjang op en verdeel die tamatie en uie eweredig tussen die snye. Maal die sout en peper oor. Die bedrewe braaier sal dít alles doen terwyl hy die spek braai en die roereier maak. Verdeel nou die roereier tussen die snye en strooi die res van die kaas bo-oor. Pak laastens die gebraaide spek bo-op. Bedek met die oorblywende snye brood met die botterkante na bo.
  • Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai, en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n verstelbare rooster sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet taamlik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Jy spring weg met warm roereier in die braaibroodjie; jou kans op sukses is dus goed. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster telkens oop- en toemaak ná die eerste paar kere se omdraai.
  • Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Die regte tyd om dit te eet is onmiddellik.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees