1. Braaimarinade-inspuiting: Dié klein uitvindsel kan gebruik word om marinade, botter of souse in jou braaigroente of steak in te spuit sodat jou kos lekker geurig en sappig is van binne en buite. Die inspuiting kan tot 30 ml-marinade per slag inspuit en is ook skottelgoedwasserveilig.

2. Magnetiese braaispeseryrak: Dié speseryrak kan op enige toonbank neergesit of aan jou braai gehang word. Dit is magneties, met vier oulike metaalhouers met deurskynende deksels waarin jou braaispeserye gesit kan word en het klein gleufies waaruit die speserye gestrooi kan word. Nou hoef jou speserye nie oral rond te staan nie.

3. Batterygedrewe draaispit: As jy hou van ’n lekker gebraaide hoender, maar jy is nie lus om heeltyd die hoender te draai nie, is dié item die een vir jou. Nou kan jy rugby kyk en steeds ’n lekker hoenderbeentjie eet, alles te danke aan die spit wat net op jou braai geplaas kan word en die masjien doen al die draaiwerk vir jou.

4. KettleCADDY-pizza-oond: Dié trots Suid-Afrikaanse produk kan ’n heel ander soort braai-ervaring vir jou en jou gesin lewer. Hoekom maak julle nie die naweek lekker pizza op die braai nie? Die oondjie is spesiaal ontwerp om op ’n groot Weber te pas en lewer die volmaakte pizzas in net drie minute.

5. Digitale temperatuurvurk: As jy sukkel om jou vleis volmaak volgens al jou gaste se voorkeure te braai, is dié digitale temperatuurvurk dalk jou nuwe geheime wapen. Met verskillende vleissoorte, smaakkeuses en ’n ingeboude lig sal die toestel vir ’n kuier sonder klagtes sorg.

6. “Jalapeño popper”-en-hoenderbeentjie-rooster: Haal jou meestersjef-voorskot uit en sit tot 24 sappige jalapeño poppers of hoenderbeentjies met dié staalhouer voor wat jy bloot bo-op jou kole kan plaas. Die ontwerp van die houer verhoed dat die sappe van die hoender of “jalapeño poppers” in die vuur val en ligfakkels maak. Die bonus is sy bene kan maklik toevou en in die skottelgoedwasser geplaas word.