1. MINIVETKOEKE

Berei 1 kg gewone brooddeeg of gebruik winkeldeeg.

Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot sowat 2 cm dik en sny dit in 10 cm-vierkante (rofweg). Bedek en laat die vetkoek 30 min. rys.

Verhit genoeg olie in ’n diep pan vir vlakbraai. Braai die deeg in sarsies oor matige hitte tot goudbruin en deurgaar. Dreineer op kombuispapier.

2. KASJOESTROOISEL

Kap 100 g kasjoeneute, ’n bos koljander en 1-2 rooi brandrissies fyn.

Meng in ’n bak en voeg 5 ml (1 t) bruinsuiker en 15 ml (1 e) appel- of rysasyn by.

Geur met ’n knippie sout en meng.

3. PARMESAAN-KRAAKBESKUITJIES

Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit
en bespuit met kossproei.

Rasper 100 g parmesaankaas en strooi hopies op die bakplaat. Bak 10-15 min. of tot die kaas gesmelt en liggies om die kante verbruin is.

Haal uit die oond en laat 15 min. afkoel. Verwyder van die bakplaat en bêre in ’n lugdigte houer.

4. GESPESERYDE TORTILLADRIEHOEKE

Sny 3 tortillas in driehoeke.

Verhit genoeg olie in ’n diep pan vir vlakbraai. Braai die tortilladriehoeke in sarsies tot goudbruin.

Dreineer op kombuispapier.

Meng 10 ml (2 t) seesout, 5 ml (1 t) rooipeper en 5 ml (1 t) fyn komyn.

Strooi die speserymengsel oor die tortilla-driehoeke en bêre in ’n lugdigte houer.

5. MAKLIKE TUISGEMAAKTE CIABATTA

Meng 500 ml (2 k) warm water (liggaamstemperatuur, nie te warm nie), 5 ml (1 t) suiker en 5 ml (1 t) kitsgis.

Laat staan die mengsel 30 min. of tot ’n dik skuim op die oppervlak verskyn.

Meng 4 x 250 ml (4 k) bruin- of witbroodmeel en 10 ml (2 t) sout in ’n groot bak. Maak ’n holte in die middel van die meelmengsel en voeg die gismengsel by. Meng met ’n vurk. (Die deeg sal baie nat wees.)

Bedek en los oornag op ’n warm plek.

Voorverhit die oond tot 220 °C.

Bespuit ’n gietysterpot (met ’n deksel) met kossproei en bestrooi liggies met meel. Strooi 30 ml (2 e) meel oor die deeg en skraap van die kante van die bak af weg.

Skraap die deeg in die pot in, sit die deksel op en bak 30 min. Haal die deksel af, verlaag die temperatuur tot 200 °C en bak nog 25-30 min. of tot die brood goudbruin en gaar is.

Keer die brood uit en laat afkoel.

6. MIELIE-EN-GRASUI-POFFERTJIES

Meng 375 ml (1½ k) bruismeel, 2,5 ml (½ t) elk sout en vars gemaalde swartpeper, 125 ml (½ k) gerasperde cheddar, 500 ml (2 k) mieliepitte en 60 ml (¼ k) gekapte vars pietersielie liggies in ’n mengbak.

Klits 125 ml (½ k) melk en 1 eier saam, voeg dit by die meelmengsel en meng goed.

Verhit genoeg olie in ’n klein kastrol vir diepbraai. Skep eetlepels van die koekiemengsel in die warm olie en braai oor matige hitte tot goudkleurig en deurgaar.

Dreineer op kombuispapier.

Herhaal met die res van die beslag.