Voorverhit die oond tot 200 °C. Bespuit 4-6 middelslag-losboomtertpanne met kossproei of 12 holtes van ’n muffinpan.

  • Vulsel: Plaas die botterskorsie, patat, ui, soetrissie en spek in ’n oondpan.
  • Geur na smaak met die sout en peper en sprinkel die tiemieblaartjies oor.
  • Meng die olie en suurlemoensap en meng deur. Bak 15-20 min. tot die groente se puntjies net-net swart verkleur. Laat afkoel.
  • Kors: Braai die ui in die botter in ’n pan tot sag. Voeg die broodkrummels by en braai ’n paar minute tot effens bruin.
  • Verdeel die krummels tussen die pannetjies en druk op die bodem vas. Laat afkoel.
  • Eiervla: Plaas die eiers, suurroom, melk en jogurt in ’n mengbak en klits tot gemeng. Maak seker jy het 1 L vloeistof. Indien te min, voeg nog melk by. Geur na smaak met die paprika, sout en peper.
  • Samestelling: Verdeel die groente tussen die pannetjie se holtes. Giet die eiervla bo-oor. Sprinkel die gerasperde kaas bo-oor. Verlaag die temperatuur tot 180 °C en bak 20-25 min. of tot die vla gestol het.
  • Haal uit die oond, laat ’n bietjie afkoel en haal uit die pan.
  • Sit voor as ’n ligte ete saam met ’n slaai of gebruik as inpakkos vir die kinders se kosblikke.
Van links is die Wenresep-deelnemers Anzette Loubser, Tanya Spies en vandeesweek se wenner, Hanli Stepcic.

In die Wenresep-kombuis kan inspirasie van enige plek kom.

Hanli Stepcic van Kuilsrivier se ma het altyd vir hulle die lekkerste varsgebakte broodrolletjies met frikkadelle op vir pouse skool toe gestuur, maar sy het dit vir broodjies met uitgebraaide varkvet en appelkooskonfyt verruil.

Sy is sowaar later jare uit eie reg terug­betaal toe sy in die skoolkoerant lees hoe haar seuns hul heerlike toebroodjies verkoop of geruil het.

Tanya Spies van Somerset-Wes het vir ons makrolletjies gemaak wat sy by haar ouma leer bak het.

Anzette Loubser van Bellville het Griekse lamskoftas berei wat sy leer maak het tydens ’n kookklas wat sy by die kosblogger Ilse van der Merwe gewen het. 

Vandag sit Hanli die kosbliktradisie voort deur heerlike voedsame quiches by haar koffiekroeg te verkoop wat ideaal is vir die kosblik. Dit besorg aan haar vandeesweek se wenresep.

  • Jy Het ’n Wenresep! is Maandae om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Stuur ’n e-pos na via@mediaclubproduc­tions as jy as deelnemer oorweeg wil word.