Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit ’n oondbak met kossproei.

  • Pannekoek: Braai die ui, knoffel en sampioene in ’n bietjie olie tot amper sag en voeg die maalvleis by. Braai tot effens bruin.
  • Voeg al die speserye, geurmiddels en groente by, meng goed, verlaag die hitte en laat prut sowat 7 min. of tot die groente net sag is. 
  • Skep van die vulsel in elke panne­koek en rol op. Pak in die bereide bak.
  • Sous: Verhit die soetmielies, melk en cheddarkaas in ’n kas­trolletjie tot die kaas net gesmelt het. Giet oor die pannekoeke. Rasper nog kaas bo-oor, rangskik die kruietakkies bo-op en bak 20 min. in die oond tot die gereg lekker warm is en die kaas gesmelt het.
  • Sit voor saam met ’n krakerige groenslaai.

Wenk: Pleks van pannekoeke kan jy ook volgraan­tortillas vir dié resep gebruik.

Ina Wurz van Kaapstad, Marelize Grobbelaar van Stellenbosch en Retha Rix van Wellington het almal al voorheen aan Jy Het ’n Wenresep! deelgeneem. Dié keer maak hulle heerlike trooskos waarmee hulle graag hul geliefdes bederf.

Van links is Marelize Grobbelaar, Retha Rix en die wenner, Ina Wurz. Al drie deelnemers het ’n tweede keer kos gemaak. Foto: Misha Jordaan.

Marelize het twee geliefde Suid-Afrikaanse geregte, melktert en koekstruif, in een gereg gekombineer.

Retha, ’n boorling van Calvinia, het ons weer met wonderlike stories vermaak wat ons laat skater het van die lag. Sy het ’n witsous as basis gebruik om verskeie soppe mee te maak.

Maar dit is Ina se gevuldepannekoek­gebak wat al die regmerkies kry om ’n tipiese middel-van-die-week-wengereg te wees.

Dit bestaan uit volgraanpanne­koeke gevul met ’n geurige maalvleis-en-­groentemengsel, met ’n soetmieliesous pleks van die gewone witsous bo-oor.

  • Jy Het ’n Wenresep! is Maandae om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Stuur ’n e-pos na via@mediaclubproductions as jy as deelnemer oorweeg wil word.