Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit 6 holtes van diep muffinpannetjies sowel as ’n bakplaat goed met kossproei.

  • Kors: Verf 2 velle van die filodeeg met die gesmelte botter en plak die oorblywende twee op elke gesmeerde vel. Halveer elkeen en sny elke helfte weer in drie stukke. Voer elke muffinholte met twee stukke filodeeg uit sodat dit oorvleuel en ’n bakkie vorm. Bedek met ’n klam doek en hou eenkant.
  • Vulsel: Pak die pampoen- of botterskorsieblokkies op ’n bakplaat, meng die knoffel en olyfolie en giet oor. Geur met die sout en komyn en vryf die olie goed in die pampoen of botterskorsie. Oondbraai tot net-net gaar, sowat 20-30 min.
  • Sprinkel die cheddarkaas onderin elke bakkie, skep die gaar botter­skorsie of pampoen bo-op en sprinkel die krulkool oor.
  • Eiervla: Meng al die bestanddele vir die eiervla buiten die bloukaas en giet bo-oor. Meng liggies deur, sprinkel die bloukaas bo-op en bak 25-30 min. of tot die eiervla gestol is. (Bedek met tinfoelie as die filodeeg te donker bak en die vulsel nog nie gestol is nie.)
  • Afronding: Rond die tertjies af met die saadsprinkel.

Vervang die pampoen en krulkool met vars skyfies pere en swartwoudham. Jy kan ook spinasie pleks van krulkool gebruik.