Voorverhit die oond tot 220 °C.

  • Sif die meel, suiker, bakpoeier en sout in die bak van ’n elektriese menger. Pols een of twee keer om te meng. 
  • Voeg die koue botterblokkies by die meelmengsel en verwerk tot dit soos fyn krummels lyk. 
  • Klits die eier, ekstra eiergeel en karringmelk saam in ’n aparte bak. 
  • Voeg die nat mengsel by die droë bestanddele en meng met die hand tot die deeg in ’n sagte bal bymekaarkom. Moet dit nie te veel meng nie. 
  • Keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Maak al die stukkies bymekaar en knie ’n paar keer liggies tot dit ’n bal vorm.
  • Druk dit met jou vingerpunte in ’n deegvierkant van 18 x 18 cm met ’n dikte van sowat 3 cm en sny dit dan met ’n skerp sjefsmes in nege vierkante wat ewe groot is. 
  • Plaas die skons effens uitmekaar op ’n bakplaat wat met ’n silikoonvel of bakpapier uitgevoer is en gebruik ’n deegkwas om die bokante met die geklitste eier te verf. Laat 5 min. rus en verf dan ’n laaste keer met die eier.
  • Bak 16 min. of tot goudbruin. Pak op ’n draadrak en laat effens afkoel voor jy dit voorsit.

Wenk: Dis belangrik om die droë bestanddele goed te sif. Dit verwyder enige klonte, belug die meel en versprei die rysmiddel egalig daardeur. As jy nie ’n elektriese menger het nie, vryf die botter met jou vingerpunte in.

Ons het baie resepte getoets voor ons op dié weergawe besluit het. Dié resep is flatervry.