Voorverhit die oond tot 180 °C.

Bespuit 3 kolwyntjiepanne met kossproei en voer met gesmeerde papierbakkies uit.

  • Kolwyntjies: Meng die koekmengsel volgens die aanwysings op die verpakking. Skep in die bereide panne en bak volgens die aanwysings op die verpakking of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal die kolwyntjies uit en laat heeltemal afkoel op ’n draadrak. 
  • Versiersel Vervierdubbel die basiese versiersel­resep. 
  • Vir versiering: Skep 400 ml van die versiersel uit en sit eenkant. Kleur die oorblywende versiersel met die wit koskleursel tot dit so wit soos sneeu is. Skep dit in ’n spuitsak met ’n gewone tuit. Kleur 300 ml van die versiersel wat jy eenkant gesit het swart, 150 ml bruin en 50 ml oranje.
  • Plak 2 groot koekborde aan mekaar vas en gebruik die foto om jou die kolwyntjies in die vorm van Olaf te help pak. 
  • Vir die kop begin jy aan die regterhoek van die bord. Pak 2 kolwyntjies langs mekaar en herhaal vir die volgende twee rye. Jy moet nou drie rye kolwyntjies hê. Pak tussen die 2de en 3de ry kolwyntjies weerskante vir Olaf se ore. Pak ’n ry van 3 
    kolwyntjies en dan ’n ry van 2.
  • Wanneer jy die lyf pak, werk na die regterhoek van die onderste bord toe. Pak ’n kolwyntjie onder die middel van die laaste 2 kolwyntjies. Pak nog een direk daaronder. Pak weerskante kolwyntjies tussen die twee.
  • Pak ’n kolwyntjie tussen die twee regs en nog een aan die linkerkant. Pak ’n ry van 3 direk daaronder, gevolg deur ’n ry van 4 en dan weer ’n ry van 3. Pak kolwyntjies weerskante van die laaste ry om Olaf se voete te maak. 
  • Spuit elke kolwyntjie met die wit versiersel terwyl jy dit effens laat oor­vleuel. Vul enige gapings met versiersel indien 
    nodig. 
  • Spuit met die swart versiersel wenkbroue op die 1ste twee kolwyntjies. Skep op die 2de ry Olaf se oë deur swart half­sirkels aan die buitenste dele van die kolwyntjies te spuit. Spuit met die wit versiersel blertse in die swart halfsirkels. Spuit swart op die wit om pupille te skep. Spuit dan die neus met die oranje versiersel. Spuit die mond met die swart, ­gevolg deur die knope. Spuit arms en vingers en drie slierte hare met bruin versiersel. 
Basiese botterversiersel

Lewer genoeg om 1 standaardkoek mee te versier.

Bestanddele

  125 g botter, versag
  250 g versiersuiker, gesif
  15-25 ml (3-5 t) melk
  5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode

Verroom die botter tot glad. Voeg die versiersuiker geleidelik by en klits tot die mengsel lig en donsig is.

Voeg ’n bietjie melk by om die mengsel ’n dik, smeerbare tekstuur te gee.

Klits die geursel in.