1. GESONDE KOS

slaai
Foto: Misha Jordaan

Om nie sommer enigiets in jou mond te druk nie was nog altyd op die radar. Nou is die fokus op permanente leefstylveranderings en nie net ’n vinnige dieet om gewig te verloor voor ’n groot gebeurtenis nie.

Etiese koskeuses speel ook ’n ál groter rol waar die verbruiker wil weet of diere, mense of die omgewing skade aangedoen is ter wille van dit wat op jou bord is.  

Plantgebaseerde etes 

Plantgebaseerde etes word meer as net ’n foefie met ál meer mense wat nee sê vir vleis.

Proteïen word ingekry uit bone, sade, lensies en quinoa. Veganistiese opsies in restaurante en kruidenierswinkels word meer volop sodat dit makliker word om ’n plantgebaseerde eetplan te volg. Vir diegene met ’n suiker­tand sal klaargemaakte nageregte sonder enige diereprodukte ook beskikbaar raak. 

Geurig 

Verby is die dae toe gesonde kos taamlik smaakloos was. Ongesonde bestanddele soos suiker, vet en sout wat ge-bruik is om geur te gee word ál meer vervang deur natuurlike kruie en speserye. Pesto gee geur aan byvoorbeeld blomkoolsteaks, en vrugte­puree of droëvrugte gee ’n soet smaak aan koek en tert. 

Persoonlike behoeftes 

Jy wil meer uit jou kos hê. As jy gereeld oefen, soek jy pasta wat energie gee; as jy ’n besige ma is, soek jy visvingers wat goed is vir jou kinders. Wees op die uitkyk na ál meer kossoorte wat verryk is met mikronutriënte.

Beter keuses 

Tradisioneel ongesonde produkte kry ’n nuwe, gesonder baadjie met proteïenryke bestanddele of minder kilojoules. Sjokolademousse word byvoor­beeld met avokado pleks van room gemaak, tjips word van kekerertjies of lensies pleks van aartappels gemaak, piesang of avokado is die hoof­bestanddeel in roomys, en focaccia kry groente as basis waar ’n deel van die meel deur byvoorbeeld krulkool vervang word. 

Nuwe versoeter 

Inulien, ’n natuurlike, plantgebaseerde versoeter, het ’n lae GI, bevat baie vesel en het probiotiese voordele. Dit word in vrugte en groente soos artisjokke, sigorei, piesangs en uie aangetref en word in gebak gebruik of om drankies te versoet.

Goeie vet 

Die fokus is vanjaar op die gebruik van gesonde vette soos olyf- en klapperolie of vet in kos soos avokado, neute, sade en vis. Om nie sommer enigiets in jou mond te druk nie was nog altyd op die radar.

Nou is die fokus op permanente leefstylveranderings en nie net ’n vinnige dieet om gewig te verloor voor ’n groot gebeurtenis nie. Etiese koskeuses speel ook ’n ál groter rol waar die verbruiker wil weet of diere, mense of die omgewing skade aangedoen is ter wille van dit wat op jou bord is. 

2. TACO'S IS ORAL 

Tacos
Foto: Gallo Images/Getty Images

Mexikaanse kos is al jare lank gewild, maar taco’s vat nou behoorlik die koswêreld oor. Nuwe bestanddele soos spinasie en soet­patat word gebruik om die tacoskulp te maak en nie mieliemeel nie. Ons kan ook uitsien na taco’s met heerlike soet vulsels.

3. OUTYDSE KOS 

koek
Foto: Gallo Images/Getty Images

Van hoender à la king tot gevulde eiers; van vleisbrood tot gebakte Alaska en fondue – jou ouma sal kan hand bysit.

4. Pak nog proteïen in

melkskommel
Foto: Ideas/Neil Corder
 Proteïen word ’n ster in die kombuis. Dit word gevoeg by allerhande produkte soos energiestafies, pasta, tjips en ontbytkos. Proteïendrankies kom in ­opwindende nuwe geure soos papaja, vanieljekoek en botterkaramel.

5. WÊRELDKOS 

Acaranje
Foto: Jacques Stander

Latyns-Amerikaanse kos van lande soos Ecuador, Peru en Brasilië is op almal se borde. Daar is streeksverskille, maar rissies, mielies, peulgroente, aartappels, seekos en gebraaide vleis maak hul verskyning op groot skaal. Marokkaanse kos met sy kenmerkende speserye word ook ál wyer gewild.

6. SOETGOED

Minikoek

Vergeet die basaartafel se grootkoeke. Hulle is nou kleiner en word in ’n blikkie gebak. Dit en ’n ryk beslag sorg dat hulle langer vars bly. Jy kan dit maklik vervoer en net so present gee. 

Croquembouche

poffertjies
Foto: Gallo Images/Getty Images

Nog ’n gier van ’n paar dekades gelede keer terug: die indrukwekkende stapel roompoffertjies wat met ­suikerdrade afgerond is. Nou word dit gemaak van ­mini-oliebolle, sjokoladetruffels of madeleines vir ’n  byderwetser gevoel. 

Minder is genoeg

Troukoeke word eenvoudiger. Pleks van dik versiersuiker en allerhande suikerkuns is daar eerder vars blomme en/of vrugte as versiering.

Wafels

croucumbouche
Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie heerlikheid word aan ’n stokkie geryg en so voorgesit of in ’n dekadente stapel. 

7. GROOTMAAT KOOK 

Dis iets wat besige ma’s al lank doen, maar dit word nou wêreldwyd ’n gewilde manier van kook. Dit bespaar tyd en voorkom dat met kos gemors word.

Op ’n naweekdag word volgens ’n beplande spyskaart vir die daaropvolgende week gekoop, geskil, gekap en gekook. Kos vir die werkkosblik word vooraf berei en in individuele bakkies in die yskas gehou, gereed vir gryp in die oggend. 

Steeds gewild

Geen kosvermorsing 

Sjefs gaan ál kreatiewer met kosbereiding werk sodat geen deel van ’n dier of plant in die asblik beland nie. 

Goed vir jou maag 

Die vraag na kos ryk aan probiotika word ál groter. Dit sluit in gefermenteerde en gepiekelde kos soos jogurt, kombucha, kimchi, sauerkraut en piekels.

Hawaise poké

Thaise kos
Foto: Gallo Images/Getty Images

Mense bly verlief op hierdie gesonde gereg: stukke rou of gemarineerde vis wat voorgesit word saam met rys, groente en souse.

Sampioene  

sampioene
Foto: Jacques Stander

Sampioene is meer as net ’n geliefde bestanddeel op pizza of in ’n steaksous. Dit neem die plek van vleis in in burgers en stapeltoebroodjies.  

8. RUM 

Rum
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jenewer is steeds op almal se lippe, veral die pienk soort. Maar hier’s ’n nuwe kandidaat wat die kollig steel, naamlik rum, en veral donker rum. Vermoet, ’n gefortifiseerde wyn wat tradi­sioneel in Italië en Frankryk gemaak word, word ook gewild. In pas met die wêreldwye begeerte na ’n gesonder lewe is daar ’n groot vraag na nie-alkoholiese wyn en bier. Veganistiese en organiese wyn geniet ook aandag.

9. PIMPEL EN PERS 

slaai
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis moontlik ’n mode wat op Instagram begin het, naamlik om pienk en pers vrugte en groente op ’n bord te pak omdat dit kosfoto’s so mooi laat lyk. 

Dink byvoorbeeld aan pers kool, radyse en bloubessies wat ’n slaai ekstra kleurryk en smaaklik laat lyk. Eetbare blomme soos laventel en gesiggies word ook graag gebruik. 

Bronne: Berriesandspice.com, Brides.com, Champagneandpaperplanes.com, Hellonutritarian.com, Livingly.com, Mariellebordewijk.nl, NYtimes.com, Purewow.com, Thethirty.byrdie.com, Visityogurtlab.com, Winsightgrocerybusiness.com