Dit was ’n jaar van die gordel intrek soos min met ’n flou ekonomie, hemelhoë brandstofpryse en stygende ­lewenskoste. En nou breek die feestyd aan met al die uitgawes wat dit meebring – dis genoeg om ’n mens daarteen te laat opsien pleks van daarna uit te sien!

Die gedagte aan ’n Kersmaal vir ’n klomp honger monde laat jou dalk lus voel om Kersfees te kanselleer. Maar lees hier voor jy eenvoudig besluit daar is nie geld vir feesvier nie.

Ons het by koskenners gaan raad vra oor hoe om ’n sakpas Kersete uit die boonste rakke op te tower.

Mogau Seshoene, die sjef ook bekend as The Lazy Ma
Mogau Seshoene, die sjef ook bekend as The Lazy Makoti.
Otto de Jager, partytjiebeplanner van Otto de Jage
Otto de Jager, partytjiebeplanner van Otto de Jager Events.
Andrew Draper, sjef van die spysenierings­firma Fo
Andrew Draper, sjef van die spysenierings­firma Food by Andrew Draper.
Lesego Semenya, sjef van die spysenierings­firma L
Lesego Semenya, sjef van die spysenierings­firma LesDaChef Culinary Solutions.
Carmen Niehaus, Huisgenoot se kosredakteur.
Carmen Niehaus, Huisgenoot se kosredakteur.
Bruce Burns, sjef van die kookkunsskool Hospitalit
Bruce Burns' sjef van die kookkunsskool Hospitality Trainers and Associates School of Culinary Art.

Fleurige voorgereg

Somergeregte is die beste vir Kersfees, meen die sjef Andrew Draper.

“ ’n Slaai met waatlemoen, aarbei, roket en feta het al die fees­kleure en sorg dat jy by ’n knap begroting bly.”

Pleks van ’n voorgereg stel Huisgenoot se kosredakteur, Carmen Niehaus, ’n kaasbord voor.

“Maar kaas is duur,” voeg sy by.

Sjef Andrew Draper sê 'n slaai met waatlemoen, aar
Sjef Andrew Draper sê 'n slaai met waatlemoen, aarbei, roket en feta het al die fees­kleure en sorg dat jy by ’n knap begroting bly.

“Jy kan ’n hangkaas maak van dik Griekse jogurt. Daarvoor meng jy die jogurt met neute of bessies en hang dit oornag in ’n moeseliendoek op om ’n dik kaas te vorm.”

Pleks van beskuitjies kan jy bruschetta van Franse brood maak, met olyfolie gesmeer en in die oond gerooster. Druiwe en perskes is heerlik daarby en lyk mooi, sê Carmen.

Of stel ’n kaasbord saam met sampioene en piekels daarby, sê die kookkunskenner Bruce Burns. Sit dit saam met ’n suurdeegbrood voor.

Watertand-hoofgereg

Pleks daarvan dat jy jou sak skud vir ’n groot lamsboud of kalkoen, beveel die onthaalorganiseerder Otto de Jager ’n hoendergereg aan.

“Dis ’n kostedoeltreffende opsie wat goed by ons warm klimaat en buitelugleefstyl pas, veral met Kersfees,” sê hy. “ 

’n Eenvoudige coronation-­hoenderslaai en ’n boontjieslaai is heerlik.”

Coronation-hoenderslaai is maklik om aanmekaar te slaan: Sny ’n gaar hoender op en meng mayonnaise, kerriepoeier, suurlemoensap, blatjang, konfyt en mosterd in ’n groot bak. Vou die hoender in, en siedaar, dis kant en klaar!

As jy dit wil opdollie, kan jy ’n paar druiwekorrels en amandels byvoeg. Sit dit op ’n bed van blaarslaai voor.

Ook Andrew reken hoender is ’n goeie keuse vir ’n Kersmaal.

“ ’n Lekker braaihoender is altyd ’n gunsteling, en as jy dit met feestelike vulsels soos een van gemmerbrood, appel en spek of ’n worsvulsel voorsit en met esdoring­stroop glaseer, is dit die volmaakte alternatief vir kalkoen.”

'n Lekker braaihoender is altyd ’n gunsteling,
'n Lekker braaihoender is altyd ’n gunsteling,

Ook varklies sal jou begroting minder knou. Maak dit in appelsap en aromatiese speserye gaar om dit ’n feestelike kinkel te gee, is Andrew se raad.

Sy gunstelingbykos is bros­gebraaide aartappels.

“Ek kook myne vooraf en gooi dan Engelse mosterd, knoffel, suurlemoensap en vars kruie oor voor ek hulle diepbraai tot lekker bros.”

Varkboud is die bekostigbaarste vleissnit, meen Carmen. Daarby is dit veelsydig.

“Jy kan dit soos gewone boudvleis gaarmaak of dit sag kook en rafels trek.”

Gebruik appelkooskonfyt, gemmer en knoffel om geur aan die varkboud te gee. Dit sal vorentoe smaak saam met kool-en-wortelslaai.

“Jy kan rosyntjies en grondbone byvoeg en dit met mayonnaise of natuurlike jogurt meng,” sê sy.

Die sjef Mogau Seshoene, oftewel die Lazy Makoti (’n Zoeloewoord vir ’n jong, getroude vrou), sê ook varklies is ’n keuse wat jou sak minder sal ruk.

Ook varklies sal jou begroting minder knou. Maak d
Ook varklies sal jou begroting minder knou. Maak dit in appelsap en aromatiese speserye gaar om dit ’n feestelike kinkel te gee, is Andrew se raad.

“Dis so maklik om gaar te maak; feitlik flatervry.” As jy tradisionele geregte verkies, is ham steeds ’n goeie en betreklik bekostigbare keuse, voeg sy by.

“Dis ’n goeie vleissnit wat goed op die tafel lyk, en dis nie so duur soos ’n lamsboud nie. Dis heerlik saam met geroosterde patat.”

Dis die beste om goedkoper vleissnitte te stowe, sê Bruce – soteer eers die vleis in ’n pan en laat dit dan teen ’n laer temperatuur prut in ’n kastrol met ’n deksel op.

“Met stowe kry jy ’n fantasties sagte en geurige produk.”

Verfrissende nagereg

’n Groot bak roomys is dikwels ’n goeie opsie wat nie jou begroting sal knou nie, maar as jy baie monde moet voed, kan een bak dalk te min wees.

“Winkelroomys kan baie duur wees, maar jy kan maklik jou eie maak met kondensmelk, room en melk,” sê Carmen.

’n Groot bak roomys is dikwels ’n goeie opsie wat
’n Groot bak roomys is dikwels ’n goeie opsie wat nie jou begroting sal knou nie.

Vrugteslaai is ’n heerlike alternatief vir ’n tradisionele Kerspoeding, meen sy, veral as jy seisoensvrugte koop en dun vanielje­stroop bo-oor giet. Pleks van roomys kan jy dit saam met volroomjogurt voorsit.

Ook Bruce reken roomys is ideaal om ’n Kersmaal mee af te rond. Nog ’n opsie is om ’n paar verskillende geure roomys effens sag te laat word en dit dan in lae in ’n ronde bak te skep.

“Jy kan lae neute, klapper, fyngedrukte gemmerkoekies en vrugtepuree tussenin plaas,” sê hy.

Hy hou ook van kleurryke koekstruif op die Kerstafel.

“Daar is soveel variasies wat ’n mens kan maak deur jellie, vrugte, neute, sponskoek en karamel in lae te pak. In ’n mooi glasbak lyk dit altyd indrukwekkend.”

Peppermint Crisp-tert.
Peppermint Crisp-tert.

Mogau se staatmaker is ’n Peppermint Crisp-tert.

“Dis bekostigbaar, maklik om te maak en sal binne sowat 30 minute gereed wees,” sê die selferkende “lui” sjef.

Sakpas drinkgoed 

Maak nie saak hoe bekostigbaar jy jou Kersete maak nie, die drinkgoed is dikwels die ding wat jou begroting in die rooi laat beland.

Dit is heeltemal aanvaarbaar om jou gaste te vra om hul eie drankies saam te bring, sê Andrew. Of pleks daarvan om vir hulle bier, wyn en sterk drank aan te bied, kan jy ’n verfrissende pons maak.

“ ’n Pimm’s-skemerkelkie is my gunsteling vir die feestyd. En die niealkoholiese weergawe daarvan lyk net so mooi en is volmaak vir ’n warm dag saam met kinders,” sê hy.

Pleks daarvan dat jy gaskoeldranke vol suiker vir die kinders koop, stel die sjef Lesego Semenya voor dat jy kreatief raak met sodawater.

“Laat die kinders self die water met suikervrye vrugtestroop, tee, vars bessies of vrugte geur.”

Bessiegegeurde water is ook ’n elegante keuse vir
Bessiegegeurde water is ook ’n elegante keuse vir die grootmense.


Bessiegegeurde water is ook ’n elegante keuse vir die grootmense.

“ ’n Beker kraanwater met ys en ’n paar aarbeie is altyd welkom, lyk goed en verg geen moeite nie,” sê die partytjiebeplanner Otto de Jager.

Dekor uit die natuur

Met ons sonnige Desembers kan Suid-Afrikaners na hartelus Kersfees buite vier. ’n Gedekte tafel op ’n grasperk onder sambrele is ideaal vir ’n eg Suid-Afrikaanse Kersmaal,” meen Lesego.

“Los die tafeldoeke in die kas – deesdae is tafeldek minimalisties en landelik.”

As jy weet julle gaan tot ná donker kuier, kan jy met feetjieligte in jou bome en plante ’n feestelike atmosfeer skep, voeg hy by.

Jy kan maklik jou kos as dekor inspan as jy dit op mooi borde of planke of in besonderse bakke voorsit, sê Carmen.

“Slaai, klaar in ’n kleinbordjie opgeskep, in die middel van die grootbord laat ’n tafel dadelik vrolik lyk.”

Sy hou van vars, eenvoudige tafelversierings. Druiweblare kan ingespan word om ’n kaasbord te versier.

“ ’n Olienhouttak is ’n mooi ding waarmee jy ’n krans kan vorm.”

Met ons sonnige Desembers kan Suid-Afrikaners na h
Met ons sonnige Desembers kan Suid-Afrikaners na hartelus Kersfees buite vier.

Andrew gebruik graag kruie in potte as tafeldekor.

“Ek sit altyd die potte met kruie in goiing of bruinpapiersakke in die middel van die tafel en versier dit met blomme of blare,” sê hy.

“Daarna plant ek die kruie sodat hulle my aan daardie wonderlike dag kan herinner, of ek gee hulle ná die ete as geskenke weg.

Met dié dat blomme so duur is, stel Otto voor jy pluk blare, spriete en takkies van plante en bome in die tuin en rangskik dit, pleks van blomme, in vase.

“Jy kan dit net so gebruik of met spuitverf uit jou ysterwarewinkel goud of silwer spuit.”

So kan jy nog bespaar

Beplan vooruit

Beplan jou spyskaart vooruit en maak ’n lys van alles wat jy nodig het. Koop soveel van die bestanddele vroegtydig as wat jy kan. Dit sal jou stresvlak laag hou en keer dat jy op die nippertjie impulsief aan die koop raak.

“Kersbemarking is genadeloos en doeltreffend,” maan Andrew. “Hou by jou lys, en moenie toelaat dat versoekings jou aandag aflei nie.”

’n Inkopielys is noodsaaklik as jy binne jou begroting wil bly, beaam Lesego. Winkels adverteer in die Kerstyd spesiale aanbiedings vir die vale, maar vra jouself af of jy iets regtig nodig het voor jy dit in jou trollie pak, is sy raad.

Plunder jou kaste

Kyk eers wat jy in jou spens en yskas het voor jy die winkels invaar, sê Mogau.

“Dit kan jou baie geld spaar en is ’n goeie manier om goed op te gebruik wat bêreplek in beslag neem.”

Blikkieskos soos bone en kekerertjies en be­vrore groente kan jy in ’n slaai of bygereg vir die Kersmaal gebruik. Of gooi dit in bredie wat jy ’n dag of wat ná Kersfees van die oorskietvleis maak.

Vra hulp

Jy hoef nie alleen vir die hele familie reg te staan en uit jou eie sak daarvoor op te dok nie, sê Andrew.

“Vra jou gaste om ’n slaai, voorgereg, nagereg of drinkgoed saam te bring.”

Onthou, Kersfees gaan oor tradisie en samesyn vir die familie.

“Al wil ons graag ons geliefdes bederf, behoort dit nie ’n kompetisie te wees nie. Gee jou familie iets waarvoor hulle lief is en iets wat jy geniet om te berei.”

Begin vroeg

Vroeg koop is altyd die beste manier om vir Kersfees voor te berei, meen Lesego.

“Koop soveel as wat jy kan in die weke voor die groot dag voor die pryse kwaai styg.” 

FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, TUMELO LEBURU, JACQUES STANDER, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, FACEBOOK/BRUCE.BURNS.161, INSTAGRAM (@WHYCOOK, @FOODBYANDREWDRAPER)