Maak ’n vuur met genoeg kole vir potjiekos. Sit ’n driepoot in die kole waarop jou potjie sal pas; maak ook ’n kantvuur om te verseker daar is ekstra kole indien nodig. Hou ’n potjie byderhand.

Beet

Sit die beetjies op stukke foelie en drup die olie oor. Geur met sout en vou die foelie stewig toe – die beet moet heeltemal bedek wees. Sit die beetjies in die kole en bak tot gaar; draai die beet af en toe om te verhoed dat dit aanbrand.

Groentepot

Sit die potjie op die driepoot en giet die olie in. Voeg die botter by en roerbraai die uie en knoffel tot sag. Voeg die kruie by en roerbraai tot geurig.

Giet die aftreksel by en bring tot kookpunt. Voeg die pampoenblokkies by, sit die deksel op en laat die potjie 30 min. stadig kook of tot sag. Giet nog aftreksel by
indien die potjiekos te droog kook.

Voeg die blomkool en spinasie by, sit die deksel van die pot weer op en laat nog 10 min. prut. Geur met die sout en peper na smaak.

Vir voorsit

Haal die beetjies uit die foelie en halveer. Sit die potjie voor saam met die pampoen, beet en ba­silie.