Die bring in die braai – wat neem ’n mens saam?


Volgens die aanbieder van Moskou Se Kombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Moskou du Toit, is dit altyd lekker om ’n pakkie skyfies of peuselhappies saam te neem en dan natuurlik bykosse as dit vooraf so gereël is.

“Ek dink dis goeie maniere om die gasvrou te vra of daar iets is wat jy kan saambring, en of jy dalk met die ete kan help,” sê Annelien Pienaar, ’n dosent en die skrywer van die kookboek Boerekos Met ’n Twist. 

En troos jouself hieraan: Jy hoef eintlik nie ys óf hout na ’n braai toe te neem nie. Moskou meen dis die gasheer se plig om dit te verskaf.

Moskou du Toit
Die Spoegwolf-drommer en bobaas-sjef Moskou du Toit geniet dit om te braai wanneer hy kans kry.

Volgens Renette Vosloo, die eienaar van die Rooitamatie-restaurant in Pretoria en aanbieder van die VIA-kosprogram Rooitamatie, is daar ’n eenvoudige oplossing: “As jy iemand is wat ys in jou wyn gooi of jou glas eers vol ys maak en dan die dop skink, bring ys. As jy een van daai kanniedood-partytjiediere en fanaties oor vuur is, bring hout.”

En neem jy dan wors of eerder ’n tjoppie? “Dit hang af waarvoor jy lus is,” sê Moskou. “Ons almal weet ’n tjoppie is lekkerder, maar wors pas ’n mens se begroting beter.” 

Solank jy net nie jou oorskiet in foelie toedraai en huis toe neem nie, sê dié sangersjef. Hy meen dis bloot goeie maniere om nie jou oorskietkos of -drank huis toe te neem ná ’n bring-en-braai nie.“’n Mens moet in elk geval altyd genoeg kos vir jouself saamneem en dan so ’n bietjie ekstra om te deel,” sê hy. 

Maar Renette meen weer jy moet eerder jou oorskiet huis toe neem. “Oorskietkos is vir die meeste mense ’n probleem. Los maar die bruikbare drank daar,” sê sy.

Renette geniet dit om 'n vleisie op die kole te gooi.

“Ek is nog van die ouer garde en bring-en-braai is vir my ’n snaakse term,” sê Annelien. Haar opvatting is wanneer sy iemand nooi om by haar te kuier, is dit haar beurt om hulle te bederf. 

Help die gaste dan met die skottelgoed? “Ja, eintlik, maar niemand doen dit mos ooit nie,” skerts Moskou.

Moskou du Toit, Chris von Wielligh
Moskou (links) braai ook dikwels vir sy Spoegwolf-broers wanneer hulle op die langpad is.

Volgens Renette is dit nie nodig nie. Jy is dan mos die gas, nie waar nie?

“Dis deel van die saamkuier om die tafel te dek of die skottelgoedwasser te pak,” meen Annelien. 

Dié drie kosliefhebbers se goue reëls wat goeie braai-etiket betref?

Die wenresep volgens Moskou is dit: “Wees altyd betyds en maak seker jy luister na goeie musiek.”

“Jare gelede het ons ’n situasie gehad met ’n gas wie se vrou net besluit het sy gaan op die bank lê. Sy het geslaap tot ete, geëet en weer gaan lê en slaap,” vertel Annelien.

“Die arme man het die kinders opgepas en ’n wyntjie probeer geniet. Daardie aand sou ek hom vergewe het as hy na die bottel wou gryp. 

“Dus, in my boekies, as jy nie lus het vir kuier nie, bly liefs tuis, want ek sal jou in mooi suiwer Afrikaans sonder ’n misverstand vra: ‘Waar is jou maniere?'"

Renette se raad om in gedagte te hou wanneer jy na ’n bring-en-braai genooi word: “Nommer een, moenie in die gasvrou se kombuis rondkrap nie – nog minder in haar slaapkamer!"

"Tweedens, al is dit ’n bring-en-braai, die gasheer en -vrou moet juis daardie rol vir die aand speel – moenie probeer oorneem nie. En laastens, it’s not your party. As jy dus begin dronkverdriet kry, kry ’n Uber en gaan huil by die huis.”

Wen die Grootste Braai van die Jaar!
Neem deel aan ’n reusekompetisie: Jy kan 2019 se braai der braaie vir jou en 20 gaste losslaan – ’n kuier ter waarde van R50 000! Plus, jy het ’n kans om elke week R2 000 kontant te wen. Kry al die besonderhede om die braai van jou lewe wen – en skryf sommer nou in!