Jan Braai gee wenke oor hoe om op Braaidag die volmaakte steak op die kole te braai. Foto: twitter.com/janbraai

“Ek glo glad nie in daardie handmetode nie (sien heel onder),” verklap Jan.

“Die hardheid van jou hand hang af van hoe gespierd jou hand is. Iemand wat sport beoefen of baie TV-speletjies speel se hand is harder as ander s'n en is nie ’n goeie aanduiding van die vleis se gaarheid nie."

 Sy wenke is:

1. Belê in ’n goeie termometer, wat by spesialiskombuiswinkels te kry is en tussen R150 en R200 kos.

“Jy kry dit nie by ’n gewone supermark nie,” vertel Jan. “Die duurder termometers het skerp puntjies en lees dadelik die hitte in die vleis. Vra vir ’n digitale kostermometer.

”Jy steek die termometer in die dikste deel van die vleis. Dis wetenskap, nes water wat by 100 °C kook en roosterbrood wat brand as dit warmer as 154 °C is. Vleisselle werk dieselfde. In die hoë 40 °C tot met 53 °C kan die vleis geëet word, maar daar is ook die perfekte middelpunt.

- 49 °C is dalk ’n bietjie te rou vir die meeste mense (dit word ook blue genoem vanweë die blou skynsel wat die rou vleis het).

- 52 °C is lig- tot halfgaar (medium rare)
- Tussen 50 °C en 52 °C is dit halfgaar (medium).
- Van 53 °C is die steak goedgaar (well done).

“Mense moet oopkop wees en dit nie veel langer as dit braai nie. Dis sappig en nie droog nie. Smaak, sagtheid en sappigheid is belangrik wat steaks betref.

"Hoe langer jy die vleis braai, hoe droër en taaier sal dit wees. Die sagtheid hang ook af van jou snit, hoe die bees geslag en verouderd is. Die lekkerte van die vleis word bederf as jy dit te lank braai."

2. Kap eerder die steak met ’n vleishamer pleks van dit oornag in marinade te laat lê, is Jan se raad.

“Die hamer maak die vleis sagter.”

Hy hou nie van marinade nie, want die vloeistof maak die kante van die vleis nat en dit stoom die oppervlak.

“Dis ’n chemiese reaksie. Dit verhoed ’n lekker bros smaakprofiel.”

3. Jy kry spesiale sous wat jy tydens die braai op die vleis verf (basting), maar Jan stel voor jy doen dit heel aan die einde van die braai. “Moenie dat die vleis die vorige aand daarin lê nie,” raas hy.

4. Hou eers die vet aan die kant van die vleis oor die kole sodat dit lekker bros kan braai voor jy die vleis plat neersit.

5. Gooi sout en peper na smaak op. Proe, moenie dit oordoen nie.

6. Koop die duurste en skerpste mes wat jy kan bekostig om die vleis in dun repies te sny voor jy dit laat rus. Die dikte wat supermarkte dit gewoonlik in sny, is 2½ cm. Dit neem dan sowat 8 minute om op warm kole te braai en 4 minute om te rus.

7. “Ek het niks teen souse nie. ’n Lekker peper- of sampioensous kan saam met die repies steak op die tafel voorgesit word."

Hoe gaar is my vleis? Die ander soort toets

Dié sjefstruuk kan jou help om te toets hoe gaar jou vleis is. Gebruik die dikste deel van jou handpalm, onder jou duim, as ’n riglyn en vergelyk dit met hoe jou steak voel. Druk op jou hand en dan op die vleis om vas te stel hoe gaar dit is.

  • Rou vleis (dis nou soos dit van die slagter kom) is die sagste, en wanneer jou hand oop en ontspanne is, is dit hoe rou vleis sal voel.
  • Druk jou wysvinger en duim opmekaar. Die dik deel onder jou duim voel nou effens fermer. Dit is hoe ’n liggaar (rare) steak voel.
  • Druk nou jou middelvinger en duim opmekaar. So voel vleis wat lig- tot halfgaar is.
  • Nou is dit jou ringvinger en duim se beurt. Dit is halfgaar.
  • Vir vleis wat goedgaar is, druk jou pinkie en duim opmekaar.

Bronne: lekkeslaap.co.za, netwerk24.com

Wen die Grootste Braai van die Jaar!
Neem deel aan ’n reusekompetisie: Jy kan 2019 se braai der braaie vir jou en 20 gaste losslaan – ’n kuier ter waarde van R50 000! Plus, jy het ’n kans om elke week R2 000 kontant te wen. Kry al die besonderhede om die braai van jou lewe wen – en skryf sommer nou in!