1. Die braaisous

Ja, het jy al ooit na die bestanddele van jou gunstelingbraaimarinade gekyk?

Dit bevat lepels en lepels suiker! Vir my is sout, peper, olyfolie en suurlemoensap genoeg.

Giet hierdie 4 bestanddele so ’n uur of twee voor jy wil braai oor jou vleis, en proe die wonderlike geure wat natuurlik in die vleis voorkom.

2. Die braaibroodjie

Hierdie is ’n teer punt. Volksbesit, so ek durf nie vir ’n Afrikaner sê hy mag nie ’n braaibroodjie geniet nie. Maar ek het raad: Maak net genoeg broodjies sodat elkeen die helfte van ’n broodjie kry. As daar byvoorbeeld ses mense by die braai is, maak net drie braaibroodjies.

As jy enigsins soos ek, met ander woord met geen selfbeheersing nie, dan sal jy verstaan dat as daar eers ’n happie van ’n braaibroodjie gevat word, dan sal ek nie rus tot elke liewe broodjie wat gebraai was, verorber is nie.

Met hierdie wonderlike wenk, kan ek binne my keto-perke leef en af en toe ’n ou braaibroodjie geniet.

3. Die bykosse

By enige goeie Afrikaner Braai is daar altyd ’n magdom bykosse, en dié is gewoonlik styselbelaai, byvoorbeeld braaibroodjies, knoffelbrood, aartappelslaai, pap en pastaslaai . . .

Nee man! Dis mos ’n katastrofe wat wag om te gebeur.

Kies eerder een styselbykos en maak dan seker al die ander is min-koolhidraat alternatiewe soos groenslaai, geroosterde groente (sonder aartappels), groenbone, gebakte blomkool en broccoli met kaassous of selfs ’n lekker vinnige caprese-slaai.

4. Die drankies

Bier en brandewyn-en-Coke vloei ook gewoonlik in oormaat by ’n braai. Maak beter keuses deur bv droë wit- of rooiwyn te drink, light bier of gin/whiskey/wodka met sodawater en kruie/vrugte soos bessies en ment.

Maak jou eie ystee deur sterk rooibos saam met lekker baie suurlemoen ’n paar uur voor die tyd te laat trek en voeg dan sodawater en jou drank van keuse by.

Onthou net dat drank jou gewigverlies sal kniehalter, maar jy kan slimmer kies as jy wel iets met alkohol wil geniet.

5. Die nagereg

Bly weg van gebak met suiker en souse. Vars bessies met geklopte room en neute is ’n gesonder opsie. Wat van ’n kaasbord met saadkraakbeskuitjies of ’n stukkie donkersjokolade (85%-90%) saam met goeie koffie?

Ai, my mond water reeds.

Lekker (banting-) braai!

Wen die Grootste Braai van die Jaar!
Neem deel aan ’n reusekompetisie: Jy kan 2019 se braai der braaie vir jou en 20 gaste losslaan – ’n kuier ter waarde van R50 000! Plus, jy het ’n kans om elke week R2 000 kontant te wen. Kry al die besonderhede om die braai van jou lewe wen – en skryf sommer nou in!

  • Nuwe episodes van Armand Kook Kaal wys Maandae om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Saterdae om 15:30.