Pierre Schoeman

Hy was lank bekend as die Blou Bul-stut met die lokke, maar verlede jaar het Pierre Schoeman die Jakarandastad verlaat om sy loopbaan in Edinburgh, Skotland, voort te sit.

Pierre vertel telefonies dat hy en Charissa ná hul troue op 9 Junie 2018 ’n laaste draai in die Wildtuin gemaak het om die diere te gaan groet.

“Ons het in Suid-Afrika twee huise gehad met meubels, toe vlieg ons oorsee met twee tasse en ’n paspoort,” spot hy.

“Snaaks genoeg, was dit eintlik die moeilikste om ons worshondjie, Ella, agter te laat. Ek sê dit nie vir almal nie, maar ek mis my Toyota-bakkie die meeste!”

Die tweetjies het dalk Suid-Afrika verruil vir ’n woning in Meadows Park, langs die skool waar van die Harry Potter-flieks verfilm is, maar braai bly steeds in hul are.

“Kyk, as my broer (Juan Schoeman wat vir die Sharks uitdraf) in Natal saam met ’n klomp haaie kan braai, kan ’n mens seker enige plek in die wêreld braai,” skerts hy.

Hy sê dat dit ’n persoon se karakter kan toets om in Skotland ’n ketelbraai in die hande te kry. Hy vertel ook dinge het vinnig handuit geruk toe hy een keer by landgenote Jacó van der Walt, wat ook vir Edinburgh speel, en sy meisie, Siobhan Grobbelaar, gaan braai het.

Pandemonium

“Ons het gebraai en die volgende oomblik hoor ons net die sirenes van polisie en brandweer. Ons het eers gedink iemand kyk ’n aksiefliek binne die huis, maar toe vind ons uit hul bure het die brandweer gebel omdat hulle gedink het ons probeer die gebou afbrand.”


Pierre vertel dat die vleis in Skotland nie so lekker soos dié by die huis is nie en dat hulle moes leer om salm, wat uit die Loch Lomond-meer in Skotland gevang word, te braai.

Pierre se braaivleiswenk

Hoewel die soort vleis moes verander wat hy op die rooster gooi, het Pierre se braaitegniek egter nie.


“Daar is patentreg op ons Suid-Afrikaanse tegnieke,” spog hy.

“Al wat werklik verander het, is dat pleks van musiek op iemand se foon speel ons nou die klanke van sonbesies, sprinkane, tarentale of krieke moet speel om tuis te voel.”

Sy geheim vir ’n lekker braai so ver van die huis af? Hoe groter die vuur, hoe beter.

“En natuurlik grappe,” voeg hy by.

“Suid-Afrikaners se sin vir humor bly maar die beste.”

Francois Venter

Francois Venter
Engeland se koue weer skrik nie vir Francois Venter van braai af nie.

’n Braai is een van die eerste items wat hy aangekoop het toe die Springbokspeler Francois Venter afskeid van die Cheetahs in Bloemfontein neem en na Engeland trek om vir die Worcester Warriors te speel.


“Om te braai is ’n lekker plesiertjie wat ek hier het om my aan die huis te laat terugdink,” sê hy. Hy het selfs al Engelse vriende vir ’n braai oorgenooi, maar dit het glo nie verloop soos hy gehoop het nie.

“Jy sou dink die ouens wil buite saam met jou om die vuur staan soos in Suid-Afrika, maar hier in Engeland sit hulle almal in die huis en gesels met die vroue.”


Vroulief Luzaan bederf hom gedurig met bykosse soos mieliepap en braaibroodjies met blatjang daarop, vertel hy. En hoe dan anders as om ’n braai met malvapoeding af te sluit?

View this post on Instagram

Copenhagen ???? you beaut #goodtimes

A post shared by Francois Venter (@swys_venter) on

Francois se braaivleiswenk


Dié twee geniet dit veral om steak en hoender te braai, maar volgens Francois is die steak nie soos wat hy dit by die huis geken het nie. “Hulle diere eet seker baie groen gras, want dit smaak baie anders,” sê hy.

"Jimmy’s-sous is dus noodsaaklik!”

Volgens Francois is al wat nodig is om in Engeland te braai warm klere, ’n Weber en lekker Suid-Afrikaanse braaispeserye.

Paul Willemse

Paul Willemse
Dié oud-Blou Bul wat binnekort vir die Franse vyftiental gaan uitdraf, braai nog nes ’n Suid-Afrikaner!

Die 26-jarige Paul Willemse, wat vroeër jare die Blou Bulle in die Currie Cup- en Superrugby-rugbytoernooie verteenwoordig het, bevind hom sedert 2014 al in die suide van Frankryk waar hy nou vir Montpellier en binnekort vir die Franse vyftiental uitdraf.


Hoewel hy en sy vrou, Chanique, reeds burgerskap in Frankryk ontvang het, keer dit hulle nie om ’n braai te geniet nie.

“Ons braai beslis, dis mos maar deel van ’n mens,” sê hy telefonies. “Ons het selfs al die mense hier leer braai en as hulle nie wil leer nie, moet hulle maar net inval.”

Paul vertel dat die konsep van ’n bring-en-braai vir die Franse nog vreemd is. Hulle verstaan glo nie hoe iemand jou kan nooi vir ’n ete en dan moet jy jou eie kos saambring nie.

Paul Willemse en vriende
Die Franse verstaan glo nog nie lekker dat hulle vleis moet na ’n bring-en-braai moet saamneem nie.

“Dit was nogal snaaks in die begin,” lag hy. “Wanneer ons mense genooi het, het hulle nooit regtig geweet waarmee hulle moet opdaag nie.”

Hoewel skaaptjops, ribbetjies en steak vir die Willemse ’n gunsteling is, sê hy dat dit vreeslik duur is om steaks, of entrecôte soos hulle dit in dié land noem, aan te koop.

Paul se braaiwenk

Chanique berei meestal ’n aartappelgereg met sampioene, spek, kaas, uie en “allerhande lekker dinge”.

En wat is ’n braai dan sonder jou klassieke braaibroodjie?


Ook die koue skrik nie dié paartjie af om ’n vleisie te braai nie.

“Ek het selfs ’n gasbraai aangeskaf om my opsies oop te hou in die winter,” lag Paul.

“Die geheim vir ’n lekker braai in Frankryk is lekker vriende, ’n lekker wyntjie en dan moet jy minstens een of twee Suid-Afrikaners by die braai hê anders sal niemand weet wat hulle doen nie.”

Philip du Preez

Philip du Preez
Al woon hy en sy gesin nou in Frankryk, braai Philip du Preez steeds asof hulle tuis is.

Philip du Preez, wat al vir die Cheetahs en die Southern Kings uitgedraf het, het besluit om in Junie 2016 die swart-en-rooi vir ’n lewe saam met sy vrou, Jané, op Bordeaux in die Suid-Weste van Frankryk te verruil.


En ja, selfs al woon dié paartjie in Frankryk, braai hulle steeds.

“Weber is gelukkig baie groot in Frankryk. Jy kan selfs Weber-produkte by ’n elektroniese winkel aankoop,” sê Philip oor die foon.


“Die Franse is eintlik nogals groot op braai. Die enigste verskil tussen ’n Franse braai en ’n Suid-Afrikaanse een is dat daar nie kameeldoringhout is nie.”

Hoewel die Franse ook braai, vertel Philip dis glad nie die braai wat ons in Suid-Afrika ken nie.


“Hulle sal byvoorbeeld vooraf braai nog voor die gaste opdaag. In Suid-Afrika moet ’n mens dikwels nog ’n vuur maak omdat die eerste een uitgebrand het nog voor die vleis op die kole gesit is!” lag hy.

Die Franse is gelukkig nie skaam om te braai nie.

Oor braaitegniek sê hy hulle is in die rugbyomgewing deur Argentyne en Franse omring en almal het maar hul eie manier van die ding doen.


“Die Argentyne hou byvoorbeeld baie daarvan om steak te braai. Hulle vat verskriklik lank daarmee omdat hulle dit nie oor direkte hitte wil gaarmaak nie. Die Franse braai weer omtrent net vark of varkworsies, want ’n mens kry nie sommer iets soos boerewors hier nie,” vertel hy.


Maar Philip vertel een van sy spanmaats, Danré Gerber, die oud-Springbok Danie Gerber se seun, het die Franse touwys gemaak wat boerewors betref.


“Daar is gelukkig nou een slaghuis wat boerewors kan maak, maar die steaks bly maar duur en jy kry nie sommer mooi snitte nie.”

Philip se braaiwenk

Sy gunstelingvleis om te braai sedert hy in Frankryk is, is eendborsies.

“Dit is nou nie ’n Karootjoppie nie, maar hy het lekker vet op en dis maklik om te braai,” sê hy. Jané sit dit dan voor saam met haar geheime bykos: ’n broccoli-en-spek-slaai waaroor die Franse glo dol is.


Hulle het selfs die Franse van braaibroodjies geleer.

“Ons bestel ons blatjang van ’n webtuiste af,” vertel Philip.


“Daar is ’n winkel in Nederland genaamd Die Spens en hulle verkoop gelukkig Mrs. Balls-blatjang.”


Die Franse verstaan glo glad nie hoe die Du Preez-gesin in die winter kan braai nie. Maar Philip sê solank hy ’n afdak het, trek hy sy baadjie aan en gooi steeds ’n vleisie op die kole.


“Dit maak nie saak waar jy is nie, solank jy jou braaier by jou het, is jy gelukkig,” sê hy.

“Die wenresep vir ’n lekker braai is lekker vleis en lekker geselskap.”

Wen die Grootste Braai van die Jaar!
Neem deel aan ’n reusekompetisie: Jy kan 2019 se braai der braaie vir jou en 20 gaste losslaan – ’n kuier ter waarde van R50 000! Plus, jy het ’n kans om elke week R2 000 kontant te wen. Kry al die besonderhede om die braai van jou lewe wen – en skryf sommer nou in!