’n Braai hoef jou nie baie te kos nie. Inteendeel, dit gaan immers daaroor om gesellig met vriende oor ’n smaaklike ete te verkeer.
Huisgenoot se kos-assistent Carmen Petersen het ’n paar wenke gedeel oor hoe om ’n heerlike dog sakpasbraai te geniet.
1. Koop varkvleis
Volgens Carmen is varkvleis goedkoper as bees- of lamsvleis en dit kan ook baie mense voer.
"As jy beesvleis verkies, maar ’n paar rand wil bespaar, koop die goedkoper beesvleisstukke. Dit braai ’n bietjie gouer as die duurder snitte en onthou om dit nie te oordoen op die kole nie," sê Carmen.
2. Hou ’n boerewors braai
Om net wors en rolletjies vir jou gaste aan te bied is glad nie ’n slegte idee nie. "Boereworsrolletjies werk goed vir ’n groot groep aangesien dit goedkoper as vleis en hoender is. Sit dit voor saam met uiesmoor of enige geblikte relish. Chakalaka is ook ’n lekker opsie," meen Carmen.
3. Hou ’n bring-en-braai
As jy in die knyp is, maar graag wil kuier, is ’n bring-en-braai ’n goeie idee. "As jy wel as gasvrou of -heer iets vir almal wil voorsit, kan jy byvoorbeeld die slaai verskaf,” meen Carmen.
4. Slaai vir die massas
As jy aanbied om die slaai vir al jou gaste te maak, is pasta, gebakte bone, lensies en koeskoes ’n goedkoop opsie.
"Koeskoes is ’n bietjie duurder as die res, maar dis een van die heerlikste en mees ekonomiese slaaie om by ’n braai voor te sit. Jy kan dit geur met enige kruie en speserye wat jy reeds byderhand het,” sê sy.
Volgens Carmen is bevrore bestanddele soos ertjies of mielies goedkoop alternatiewe om in slaai te voeg.
5. Maak jou eie braaibroodjies
Om braaibroodjies self te maak sal jou beslis ’n paar rand spaar meen Carmen. Volgens dié kosfoendie koop sy nooit braaibroodjies nie, maar gebruik sy eerder oortollige brood wat sy vries.
"Ek vries enige oortollige brood of rolletjies wat ek oor het. Vir ’n braai haal ek dit uit om te ontdooi en smeer ’n knoffel-en-bottermengsel daarop. Brood kan sowat drie maande lank vries,” sê Carmen.
Jy kan selfs ook net uie en tamatie met botter op die brood as vulsel gebruik, raai sy aan.
6. Maak jou eie marinade
Volgens Carmen kan jy ’n lekker marinade aanmekaarslaan met enige souse wat jy reeds in jou yskas het.
“As jy gewone jogurt het, kan dit ook as ’n marinade gebruik word. Voeg net sout en peper en enige speserye daarby.”
7. Braaipap
Braaipap is die beste goedkoop bykos wat jy by ’n braai kan voorsit, meen Carmen.
"Mieliepap is goedkoop en braaipap kan baie mense voed. Nie baie mense geniet dit noodwendig nie, maar as jou gaste wel daarvan hou, is dit beslis ’n wenner,” sê sy.
8. Hok toe met hout
Hoewel hout goedkoper as houtskool is, is dit beter om eerder ’n bietjie meer geld op die houtskool te bestee, meen Carmen.
“Dit brand langer as hout. Jy sal meer sakke hout benodig om al die vleis by ’n groot braai klaar te braai. Dit is dus slimmer om eerder een sak houtskool te koop. Dit bly langer warm en brand nie so gou uit nie.”
9. Maak jou eie ‘blitz’
Moenie sommer jou gebruikte teesakkies in die asblik gooi nie, dit sal jou in die toekoms dalk net ’n paar rand spaar. Dis wat jy doen: Maak die teesakkies droog. Maak seker dis behoorlik droog.
Druk die teesakkie in ’n bietjie terpentyn en bêre dit in ’n fles. As jy nie terpentyn het nie, sal enige vlambare vloeistof soos kookolie ook ’n goeie alternatief daarvoor wees.
10. ’n Heerlike drankie
Om seker te maak jou gaste geniet ietsie om te drink, kan jy ’n heerlike gegeurde water op die tafel sit. “Jy kan die water geur met enige vrugte wat jy in jou huis het.
Jy kan selfs net suurlemoen of lemoen, peperment en baie ys bymekaar voeg en dit sal heerlik wees,” sê Carmen.
- Kom neem deel aan die gesprek. Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook en WhatsApp en teken in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET