Die verskillende soorte soos stywe, slap en krummelpap verg elk sy eie kookkunsies wat jy moet bemeester. 

Ons het by kenners gaan raad vra oor hoe om die verskillende soorte mieliepap op die regte manier te berei.

spekmieliepap
Hou hart, hou! Dis spekmieliepap. Foto: Jacques Stander
 Carmen Petersen, ons kosassistent, verklap ’n paar geheime oor stywe en krummelpap. “By krummelpap roer jy die mengsel met ’n vurk en by stywe pap gebruik jy ’n houtlepel,” sê Carmen oor die tekstuur van die pap.

“Dis ’n lang proses van roer, kyk en die deksel ophou. Jy moet dit roer tot dit fyn en sag is, dan weet jy dis gaar. Baie mense maak die fout om dit so hard en korrelrig te los. Dit kan ook maklik brand en aan die pot vassit as jy dit nie gereeld roer nie.” 

Carmen is opgewonde oor die veelsydigheid van pap.

stywepap
'n Mens kan ook lekker eksperimenteer met pap. Kyk hoe lekker lyk hierdie stywepap-gnocchi met knoffelkruiebotter. Foto: Misha Jordaan

“Stywe en krummelpap gaan goed saam met souserige geregte soos potjiekos en bredie. Aangesien die pap so droog is, komplementeer die sous dit goed.”

“Jy kan stywe pap ook in olie of botter braai. Dan sny jy dit in skyfies en plaas kaas, hoendermayonnaise of ander bestanddele daarop vir lekker vingerhappies.”

Renette Vosloo, die eienaar van die restaurant Rooitamatie in Pretoria en die aanbieder van die gelyknamige VIA-kosprogram, verduidelik ’n mens kan op baie maniere aan pap smul.

“Vir slap pap verhit jy 2 koppies water tot kookpunt en voeg 1 teelepel sout by. Sodra dit kook, verlaag jy die hitte en voeg ¾ tot 1 koppie mieliemeel by terwyl jy vinnig met ’n klitser roer. Roer tot glad, sit die deksel op en stel die plaat op die naaslaagste hitte. Dit sal binne 20 minute gaar wees. Jy kan so een keer tussenin roer."

“As jy nie jou slap pap in die oggend saam met botter en suiker eet nie, kan jy dit met gerasperde parmesaankaas meng, laat afkoel, in blokkies sny en in botter braai,” sê Renette. 

“In die suide van Amerika, byvoorbeeld in New Orleans, kook hulle growwe mieliemeel met hoender- of groenteaftreksel en eet dit saam met garnale. Dit is vir my heerlik,” voeg sy by. Vir diegene wat voorstanders van stywe pap is, het Renette eenvoudige raad.

Pap-en-smoor
Pap-en-smoor stel nooit teleur nie. Foto: Argief

“Stywe pap maak jy met te min water en te veel mieliemeel,” sê sy. “Vir stywe pap gebruik jy twee koppies water en een koppie mieliemeel wat jy geleidelik byvoeg terwyl jy dit met ’n stewige klitser roer. Baie mense gooi al die meel op een slag in en kry dit nie glad geroer nie.” 

Sy maak gewoonlik stywe pap as ’n bykos saam met bredie of boerewors en sous, maar spog ook met ’n heerlike paptertresep wat sy van stywe pap maak.

hoenderpastei
Beleef dit! Hoenderpastei met papkors. Foto: Argief

“Ek bak dit in lae met spek, kaas, sampioene, tamatie en ekstra room tussenin.” 

Feespap
Slappap, is soms pure feespap! Foto: Argief

Met krummelpap is daar talle variasies, maar daar is ’n basiese metode.

krummelpap met spekkrummels
Heerlike krummelpap met spekkrummels . . . Foto: Mediafarm

“Vir krummelpap gooi jy een koppie water by twee koppies meel. Dit moet aanhoudend met ’n vurk geroer word. Plaas die deksel op en verlaag die hitte. Laat dit omtrent ’n halfuur stoom tot dit klaar is.

“As jy van die begin af reg te werk gaan, sal jy kan terugsit sonder dat jou pap brand.”

Wen die Grootste Braai van die Jaar!
Neem deel aan ’n reusekompetisie: Jy kan 2019 se braai der braaie vir jou en 20 gaste losslaan – ’n kuier ter waarde van R50 000! Plus, jy het ’n kans om elke week R2 000 kontant te wen. Kry al die besonderhede om die braai van jou lewe wen – en skryf sommer nou in!