“Maak jou hoender eers halfgaar in die oond voor jy dit op die vuur verder braai,” sê Herman Lensing, Sarie se kosredakteur en die aanbieder van Inspirasiekos met Sarie en Okkasie-inspirasie op VIA.

“Sny die hoender se rugstring af en maak die hoender plat en goed bestryk sodat hy deur kan braai en ’n lekker buitekant kan hê,” deel Tuis se kosredakteur, Johane Neilson.

“Indien jy marineer, gebruik asyn pleks van suurlemoensap. Suurlemoensap word swart,” deel Renette Vosloo, ’n restauranteienaar en aanbieder van VIA se kosprogram Rooitamatie.

“Gebruik net suurlemoensap in braaisous, wat in die laaste 10-15 minute op die hoender geverf word. Vee die marinade heeltemal af, braai die hoender stadig en verf die marinade of braaisous oor gedurende die laaste 10 minute wanneer die hoender bros en bruin gebraai word.”

“Met hoenderbraai wil jy ’n vuur hê wat jou kole gee deur die hele proses,” vertel Frik Oosthuizen van VIA se Laat die Potte Prut. “Jy maak vuur aan die kant, dan sit jy die hoender langs die kole sodat dit stadig deurbraai sodat dit sappig bly.”

En laastens: “Gebruik ’n ketelbraai vir ’n rokerige geur,” vertel Johane Neilson, Tuis se kosredakteur.