• Hamburgerkoekies: Braai die uie en knoffel in ’n pan met verhitte olyf­olie. Plaas eenkant om koud te word. 
  • Meng die maalvleis, eier en ­worcestersous met die uie-en-­knoffelmengsel. Geur met die sout en peper.
  • Vorm hamburgerkoekies van sowat 2 cm dik en pak op ’n bakplaat. Plaas in die yskas terwyl die res van die souse berei word. 
  • Braai die koekies in ’n warm giet­ysterriffelpan (of oor kole); moenie heeltyd draai nie. Braai eers 4 min. aan die een kant, draai om en smeer die gebraaide kant met braaisous. Braai nog 4 min., draai om en smeer met braaisous. 
  • Draai nog een keer om en plaas die kaas bo-op om te smelt. 
  • Sampioensous: Braai die ui in ’n pan met olyf­olie en voeg die sam­pioene by. Braai tot gaar. 
  • Voeg die room, jogurt, sout en peper by en kook om te verdik.
  • Brandrissiesous: Plaas die fyn­gekapte brand­rissies, suurlemoenskil en -sap, gemmer en knoffel in ’n klein voedselverwerker, voeg die sout na smaak by en kap fyn. Voeg die olie by en meng deur.  
  • Samestelling: Plaas ’n slaaiblaar en tamatieskyfie op die onderste deel van die hamburgerrolletjie. Plaas die hamburgerkoekie bo-op en skep van die sampioensous oor. Rond af met ’n skeppie brand­rissiesous en plaas die boonste deel van die hamburger bo-op. 

Drie kokke het in die Wenresep-­TV-kombuis die gewildste geregte gewys wat hulle uit hul koswaentjies voorsit.

(Van links) Lester Japtha, Cullum Johnston (wenner) en Chanel Marais het met hul koswaentjies by die Wenresep-kombuis kom kuier. Foto: Jacques Stander

Buite die Wenresep-kombuis staan drie koswaentjies gereed vir dié week se episode.

Chanel Marais van Somerset-Wes het in Doebai grootgeword en werk vier maande per jaar op seiljagte.

Ander­sins is haar kostrok, Salty Flames, haar lewe. Sy het vir ons brandrissie-steurgarnale gemaak, een van die geregte wat hul gesin gereeld in Doebai geëet het.

Lester Japtha van Heathfield in Kaapstad het gewerk in die IT-bedryf, wat hom oral in Afrika geneem het. Met sy aftrede het hy ’n kostrok, Smoke & Chilli, begin.

Hy het vir ons ’n aangepaste Kubaanse ham-­en-kaastoebroodjie gemaak.

Cullum Johnston van Rondebosch het op ’n plaas in Zimbabwe grootgeword waar mans nie eintlik in die kombuis gekom het nie.

Tydens sy studie in Kanada het hy op sy gasbraai begin eksperimenteer en vandag is hy die mede-eienaar van die kostrok Food Glorious. Sy hamburger met sampioen-en-brandrissiesous is nie net die gewildste in sy koswa nie; dit laat hom ook die wenresepkroon wen. 

  • Jy Het ’n Wen­resep! is Maandae om 17:00 op VIA (DStv-­kanaal 147). Stuur ’n e-pos na via@mediaclubproductions.co.za as jy as deel­nemer oorweeg wil word.