• Piesangroomys: Maak al die bestanddele in die voedselverwerker fyn en vries weer.
  • Lensielaag: Braai die ui in ’n bietjie olie tot sag. Verlaag die hitte en roer die knoffel by. Roer sowat 1-2 min. Voeg al die speserye en sout by die uiemengsel en roer sowat 3 min. 
  • Meng die aftrekselpoeier met die water en voeg by die lensies. 
  • Voeg die appelkooskonfyt, suur­lemoensap, sultanas en amandels by en roer sowat 5 min. oor matige hitte. Skep die mengsel in ’n oondbak. Rang­skik die lourierblare bo-op.
  • Eierlaag: Meng al die bestanddele en giet die mengsel bo-op. Bak 30 min.
  • Tamatiesambal: Meng al die bestanddele.
  • Vir voorsit: Sit die bobotie voor saam met die geelrys, piesangroomys en tamatiesambal.

Dié week se wenner, Ruan Smith, sit by die bobotie ’n piesangklapperroomys voor pleks van die gewone sambal. Heerlik!

Ons was aangenaam verras met hoe ons drie veganiste heerlike, heilsame kos sonder enige diereprodukte gemaak het. 

Drie veganiste haal uit en wys in ons Wen­resep-TV-kombuis. Van links is Marinda van Jaarsveld, Bjorn Jochems en die wenner, Ruan Smith. Foto: Jacques Stander.

Marinda van Jaarsveld van Bloubergstrand was kleintyd so vol fiemies oor haar kos dat sy op een seevakansie heeltyd net blikkies spaghetti in tamatiesous geëet het. Tamaties is steeds haar gunsteling­bestanddeel en sy het vir ons ’n romerige tamatie-en-basiliepasta met kasjoeneut­room gemaak.

Bjorn Jochems het sy gemengde Nederlands-Suid-Afrikaanse agtergrond met ’n bitterballen-gatsby uitgebeeld. Sy frikkadelletjies is van eiervrug en sampioene 
gemaak. 

Ruan Smith van Bloubergstrand is ’n groot diereliefhebber, en benewens ’n deli-­kafee wil hy eendag ’n skuiling vir plaas­diere besit. Hy was van jongs af saam met sy ma in die kombuis doenig. 

Toe hy veganisties word, was dit vir hom belangrik om nie vervreem te raak van sy kultuur se lekkereetgeregte waarmee hy grootgeword het nie. Hy het geëksperimenteer met dié bobotieresep wat nou sy en ons wenresep is.

  • Jy Het ’n Wenresep! is Maandae om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Stuur ’n e-pos na via@mediaclubproductions as jy as deelnemer oorweeg wil word.